Hardloop Jy Dalk Weg van Jou Roeping, Soos Jona?Voorbeeld

Ongehoorsaamheid het gevolge
Partykeer as ons ongehoorsaam is, wanneer dit kom by God se roeping, kan dit ‘n negatiewe gevolg hê. Die matrose moes als oorboord gooi en het ‘n masiewe verlies gely. Terwyl die matrose deur hierdie moeilike tyd gaan, wat doen Jona? Hy slaap!
Jona is heeltemal onbewus van die (storm) lyding waardeur die matrose gaan daar bo op die dek, want hy slaap! Dan kom die kaptein van die skip wat tien teen een ‘n heidense geloof beoefen en hy maak Jona bewus van hoe belaglik sy optrede is. Dan getuig Jona oor God in Jona 1:9, en erken dat God die skepper van die see is, so dis eintlik snaaks dat hy vlug op die see as hy weet dat God die see beheer (so ironies).
Jona besef wat hy gedoen het en neem verantwoordelikheid vir sy aksies, hy gee hulle die opsie om hom oorboord te gooi wat eintlik selfopofferend is, nie ‘n eienskap wat vroëer voorop was by Jona nie. Jy kan nie van God af wegvlug nie.
Wat interessant of ironies is, is dat die matrose, wat eintlik gesien word as van die mees onsedelikste mense wat daar is (ek meen ons sê nie verniet daardie ou vloek soos ‘n matroos nie), moreel optree en selfs tot bekering kom en die Here begin dien.
Die Here werk selfs in Jona se ongehoorsaamheid!
Maar die Here was nog nie klaar met Jona gewees nie...
Jona profeteer dat koning Jerobeam grondgebied gaan verower maar later gebruik God vir Amos om teen Jona se profesie te profeteer juis omdat Jerobeam so 'n slegte koning was. Met ander woorde, Jona was nie die mees populêre profeet nie.
Soos jy deur die tekse lees, dink of vra dat die Heilige Gees jou wys waar jy ongehoorsaam is. Jou gehoorsaamheid aan die Here kan ongelowiges dalk red of gelowiges bemoedig om sterk te staan.
Aangaande hierdie leesplan

Die boek Jona is ‘n verhaal wat ons vandag sal kan klasifiseer as ‘n satire. Die algemene bedoeling van satire is om humoristies te wees, met die groter doel as konstruktiewe sosiale kommentaar, deur die gebruik van vernuf as wapen en as hulpmiddel, om aandag te vestig op spesifieke en wyer geskille in die samelewing. Daar is baie sterk elemente van IRONIE in die verhaal. Jy verwag van die karakter een ding en dan gebeur die teenoorgestelde. Die profeet Jona, wat as man van God beskou sou word, is ongehoorsaam aan God se roeping terwyl ons gehoorsaamheid sou verwag.
More
Ons wil graag Moreleta Kerk bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.moreleta.org









