Stormsterk geloofVoorbeeld

Stormsterk geloof

DAG 4 VAN 5

Die storm verander nie die bestemming nie

Toe Jesus daardie dag saam met sy dissipels in die storm was, het Hy voordat hulle in die skuit geklim het reeds vir hulle gesê dat daar 'n bestemming was: "... laat ons oorvaar na die ander kant" (Markus 4:40 AFR53). Daar is min dinge wat vir 'n mens soveel berusting bring as die wete dat God die einde van die begin af ken.

Dit is juis omdat Jesus geweet het wat sy bestemming was, naamlik Gólgota en nie die dieptes van die see op pad na Gádara nie, dat Hy in die storm kon geslaap het. Die befaamde prediker Charles Spurgeon het gesê: "Let op hoe Jesus geslaap het te midde van die gewoel van 'n storm op see. Hy het geweet dat Hy in sy Vader se hande is, en daarom was Hy so rustig in sy gees dat die branders Hom aan die slaap gewieg het ..." Al woed en dreig die storm, jou gehoorsaamheid aan God se opdrag en die vasberade en stormsterk geloof wat in jou werk – stel jou in staat om verby die storm te kan sien.

Die opdrag wat Hy jou gegee het om uit te voer, het 'n boodskap van hoop daarby inbegrepe. Slaan daarop ag. Die goeie Woord van die Here skyn soos 'n helder lig in die donker nag. Die beloftes van die Here voed jou geloof om stormsterk te wees. Luister, die storm verander nie die bestemming nie. Niks kan jou uit jou hemelse Vader se hand ruk nie. Hy is self die waarborg van sy Woord.

Gebed

Here, dankie dat U vir my goeie dinge in die vooruitsig stel en dat ek met die oortuiging van 'n stormsterk geloof weet dat geen onheil dit kan verander nie. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Stormsterk geloof

Geloof vrywaar ons nie teen storms nie. Dit is egter moontlik om ten spyte van sterk storms 'n stormsterk geloof te hê. Uit die verhaal van die storm op die see waarvan ons in Markus 4:35-41 lees, leer ons waardevolle lesse oor hoe ons sterk in die geloof kan wees. Word in jou innerlike mens in jou geloof versterk sodat jy die storm kan beveel om stil te word.

More

Ons wil graag Leef die Woord bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.leefdiewoord.co.za