Leesplan inligting

Om Soos Jesus te LeefVoorbeeld

Living Like Jesus

DAG 2 VAN 5

Behandel ander soos Jesus hulle sou behandel. 


Ons het daaroor gesels dat om soos Jesus te leef, een van die beste maniere is om Hom met ander te deel. Dis egter makliker gesê as gedaan. Dit is moeilik om soos Jesus te leef — hoofsaaklik omdat dit behels dat ons mense so lief moet hê soos Jesus hulle liefgehad het. Dit klink maklik om mense lief te hê, maar dis 'n moeilike ding om te doen. As ons mense gaan liefhê soos Jesus hulle liefgehad het, beteken dit ons moet elke persoon — ook dié van wie ons nie hou nie — liefhê soos Jesus hulle liefgehad het. 


Jesus het nie gesê jy moet slegs mense liefhê wat met jou gaaf is nie. Hy het gesê wees lief vir alle mense — veral vir jou vyande! 


Jy het dalk as kind van die goue reël gehoor: behandel ander soos wat jy behandel wil word. Dis 'n wonderlike idee. Jesus se eie idee, om die waarheid te sê! Wat as ons dink hulle verdien dit nie? Selfs wanneer hulle lelik met ons is? Selfs wanneer hulle so irriterend is dat ons hulle nie kan verdra nie? Die goue reël bly staan. Wil ons nie ook hê mense moet ons vergewe en genadig wees wanneer ons ongeskik en irriterend is of dit nie verdien nie? Natuurlik; jy weet dis waar. Jesus vra ons om dieselfde vergifnis en genade te bewys wat ons wil hê ander aan ons moet bewys — selfs al voel dit amper onmoontlik om te doen. 


Tewens, Jesus het gesê die grootste wet is om God en mense lief te hê. Dis regtig vir Hom belangrik — geen skuiwergate of wegkomkanse nie. 


Dus, hoe kan ons ander liefhê wanneer dit nie vir ons natuurlik is nie? Ons moet die manier verander waarop ons na hulle kyk. Ons moet eerstens besef dat ons almal na die beeld van ons Skepper geskape is. Dink vir 'n sekonde daaroor. Jy — en elke ander mens — is deur God se eie hande geskape. Ons almal is volgens sy beeld geskape. Is dit nie wonderlik nie? 


Volgens Efesiërs 2:10 is ons God se meesterstukke. Dus, eerstens moet jy dit van jouself glo. God het jou geskape presies hoe Hy jou wou hê. Wanneer jy dít glo, is dit makliker om daardie soort liefde en aanvaarding aan ander te gee. Tweedens, as almal 'n meesterstuk is, beteken dit elke keer wat jy iets negatief vir iemand sê, beledig jy God se mooiste skepping. Dit laat 'n mens dink, né?


Jakobus — die broer van Jesus — het kragtige woorde hieroor gehad. Hy het die boek Jakobus in die Bybel geskryf, en hy het gesê met ons monde aanbid ons God en met dieselfde monde vloek ons die mense om ons wat na God se beeld geskape is. Eina. Wanneer jy God op Sondag aanbid, draai jy om en breek mense op Maandag af? 


Kom ons verander die manier waarop ons "ander" in ons lewens sien. Kom ons begin hulle as betekenisvol sien. En dan moet ons hulle begin behandel soos wat Jesus hulle sal behandel. Die volgende keer wat jy dus in die versoeking is om lelik met iemand te praat, dink hieraan: hoe sou Jesus hierdie persoon behandel? Doen dit dan so. 


Gebed: Jesus, ek het u hulp nodig. Dit voel soms onmoontlik om almal om my lief te hê. Vader, gee my oë om mense te sien soos U hulle sien. Help my om mense lief te hê soos U hulle liefhet en om mense te behandel soos wat U hulle sal behandel. In die Naam van Jesus. Amen. 


Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Living Like Jesus

As ons Jesus met ander wil deel, moet ons soos Hy leef, soos Hy liefhê en soos Hy luister. In hierdie 5-dag leesplan gaan ons Jesus se lewe van naderby bekyk om te sien hoe ons behoort te leef.

Baie dankie aan Life.Church wat hierdie leesplan aan ons verskaf het. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.life.church/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid