Waarvoor Wag Jy Dan? Deur Angelique Du Toit

Dag 4 van 5 • Vandag se leesstuk

Bybeldagboek

Houding is ’n keuse  


Die lewe is onvoorspelbaar en dikwels onregverdig, maar die lewe is daar om geleef te word – ’n oorvloedige lewe, nie ’n ondergeskikte lewe nie (sien Johannes 10:10). Ons sal moet leer om die prosesse in ons lewe te vertrou, want hulle is gewoonlik daar vir ons beswil. Dan moet ons weer die vraag vra: Wat is daar om te leer, en hoe kan ek dit op my lewe toepas? 


Om kragtig in die hede te leef vereis dat ons risiko’s loop. Doen dus iets anders en uitdagends, selfs al is jy bang. Besluit om ’n kans te waag eerder as om in ’n groef te bly. ’n Groef is baie gevaarliker as wat dit lyk, want hoe langer jy daarin vassit, hoe moeiliker is dit om daaruit te kom. ’n Groef lei tot oorgerustheid. Wanneer jy in ’n groef is, hoef jy nooit enigiets nuuts te kies nie. Later word dit ál makliker om te verduidelik waarom jy nie vordering maak nie, of waarom jy maar omstandighede of iemand anders mag blameer vir jou situasie.


Jou ingesteldheid is ’n keuse, nie ’n gevoel nie. ’n Goeie ingesteldheid is noodsaaklik as jy met sukses in die hede wil leef en ’n toekoms vol potensiaal wil skep (sien 1 Tessalonisense 5:24). 


Onthou, jy het elke dag die geleentheid om nog ’n bladsy in jou outobiografie te skryf. Wat gaan jou storie sê oor hoe jy geleef het? Watter lewensbeginsels laat jy na aan dié wat volg: jou kinders, jou kleinkinders, jou span? Besluit vandag om jou lewe met uitnemendheid te onderteken.