SAGARIA 4:1-14
SAGARIA 4:1-14 Bybel vir almal (ABA)
Die engel wat vir my moes sê wat alles beteken, het teruggekom en hy het my wakker gemaak. Hy het my wakker gemaak soos 'n mens iemand wakker maak wat geslaap het. Die engel het vir my gevra: “Sagaria, wat sien jy?” En ek het gesê: “Ek sien daar is 'n goue lampstaander. Bo-op die lampstaander is 'n bak en daar is olyf-olie in die bak. Daar is sewe lampe. Die olyf-olie vloei in sewe pypies na die lampe. Daar is ook twee olyfbome by die lampstaander, een boom regs en een boom links van die lampstaander.” Ek het toe vir die engel gevra: “Meneer, wat beteken dit?” En die engel het vir my gevra: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” Ek het gesê: “Nee, Meneer.” Die engel het vir my gesê: “Sê vir Serubbabel die Here het gesê: Jy moet doen wat Ek vir jou sê om te doen. Maar jy sal dit nie doen omdat jy sterk is nie, jy sal dit doen omdat my Gees by jou is. Jy sal die groot berg voor jou plat maak en jy sal die tempel bou. En wanneer jy die laaste klip op sy plek sit, dan sal die mense hard sê: ‘Die Here is goed vir ons in Jerusalem.’ ” Die Here het vir my gesê: “Serubbabel se hande het hierdie tempel begin bou, en sy hande sal dit klaarmaak.” Daardie dag wanneer die tempel klaar is, sal julle weet dat dit die Here is wat my na julle toe gestuur het, die Here wat oor alles regeer. Julle moenie dink dit is nie belangrik dat Serubbabel begin het om die tempel te bou nie. Almal sal bly wees wanneer hulle sien hy begin die tempel bou. Daardie sewe oë in die klip voor Jesua is die oë van die Here wat oor die hele aarde kyk. Ek, Sagaria, het weer vir die engel gevra: “Wat beteken die twee olyfbome wat links en regs van die lampstaander is?” Ek het ook vir hom gevra: “Wat beteken die olyftakkies? Hulle is vas aan die twee goue pypies waaruit die olyf-olie vloei.” Die engel het vir my gevra: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” Ek het gesê: “Nee, Meneer.” En toe sê die engel: “Dit is die twee manne, die Here het hulle met olyf-olie gesalf, en hulle werk vir die Here, die Here van die hele aarde.”
SAGARIA 4:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die engel wat met my gespreek het, het teruggekom en my gewek soos 'n man wat uit die slaap opgewek word. En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien daar 'n kandelaar, heeltemal van goud, en sy oliekan bo-oor hom en sy sewe lampe op hom; telkens sewe aanvoerpype loop na die lampe wat bo-oor hom is. Ook twee olyfbome langs hom, een aan die regterkant van die oliekan en een aan die linkerkant daarvan. Daarop het ek begin spreek en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat beteken dit, my heer? En die engel wat met my gespreek het, antwoord en sê vir my: Weet jy dan nie wat dit beteken nie? En ek het gesê: Nee, my heer. Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare. Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot 'n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom! En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê: Die hande van Serubbábel het die fondament van hierdie huis gelê, en sy hande sal dit voltooi; dan sal jy weet dat die HERE van die leërskare my na julle gestuur het. Want wie verag die dag van klein dinge, terwyl daardie sewe — die oë van die HERE wat die ganse aarde deurloop — met blydskap die skietlood aanskou in die hand van Serubbábel? Daarop het ek begin spreek en aan hom gesê: Wat beteken hierdie twee olyfbome aan die regterkant van die kandelaar en aan die linkerkant daarvan? En ek het toe nogmaals gespreek en vir hom gesê: Wat beteken die twee olyftakkies aan die kant van die twee goue pype wat goud uit hulle laat uitstroom? Toe antwoord hy my en sê: Weet jy nie wat dit beteken nie? En ek het gesê: Nee, my heer. En hy sê: Dit is die twee gesalfdes wat by die Here van die ganse aarde staan.
SAGARIA 4:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die engel wat vir my die gesigte moes uitlê, het teruggekom en my wakker gemaak, net soos 'n mens uit sy slaap wakker gemaak word. Hy het vir my gevra: “Wat sien jy?” maar hy het self voortgegaan: “Ek het gesien daar is 'n kandelaar, heeltemal van goud; bo-op is 'n oliebak met sewe tuite en sewe lamppitte in elkeen. By die kandelaar is twee olyfbome, een regs van die oliebak en een links.” Ek vra toe vir die engel wat vir my die gesigte moes uitlê: “Wat beteken dit, Meneer?” Hy het geantwoord: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” Ek het gesê: “Nee, Meneer.” Toe sê hy vir my: “Hier is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.” Selfs die grootste berg sal voor Serubbabel 'n gelykte word. As Serubbabel die laaste klip van die tempel op sy plek sit, sal die mense roep: “Mooi, mooi!” Daarna kom die woord van die Here tot my: Serubbabel se hande het hierdie tempel se fondamente gelê, sý hande sal dit klaar bou. Dan sal julle weet dat die Here die Almagtige my na julle toe gestuur het. Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie. Die mense sal bly wees wanneer hulle sien Serubbabel gaan aan met die bouwerk. Daardie sewe oë op die klip voor Jesua is die oë van die Here wat oor die hele wêreld kyk. Toe vra ek vir die engel: “Wat beteken daardie twee olyfbome weerskante van die kandelaar?” En verder het ek ook vir hom gevra: “Wat beteken die twee bondels olyftakkies langs die twee goue pype waaruit die goudkleurige olie stroom?” Hy het vir my gesê: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” en ek het gesê: “Nee, Meneer.” Toe sê hy: “Dit is die twee gesalfdes wat in diens staan van Hom aan wie die hele aarde behoort.”
SAGARIA 4:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die engel wat met my praat, het teruggekom en my wakker gemaak, soos iemand wat uit sy slaap wakker gemaak word. Hy het my gevra: “Wat sien jy?” En ek het geantwoord: “Ek het gesien: Kyk, daar was 'n menora van soliede goud. Bo-op was 'n oliebak met sewe lampe, elkeen met sewe tuite. Weerskante was daar ook twee olyfbome, een aan die regterkant van die oliebak en een aan die linkerkant.” Toe antwoord ek die engel wat met my praat en sê: “Wat beteken dit, my heer?” Die engel wat met my praat, het geantwoord en gesê: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” En ek het gesê: “Nee, my heer.” Toe het hy geantwoord en vir my gesê: “Dit is die boodskap van die HERE aan Serubbabel, ‘Nie deur mag of deur krag nie, maar deur my Gees,’ sê die HERE, Heerser oor alle magte. ‘Wie is jy, groot berg? Voor Serubbabel word jy 'n vlakte. Hy sal die sluitsteen naderbring onder uitroepe van, “Genade, genade hiervoor!” ’ ” Dít was die woord van die HERE aan my: “ Die hande van Serubbabel het die fondament van hierdie huis gelê en sy hande sal dit voltooi. Dan sal jy weet dit is die HERE, Heerser oor alle magte, wat my na julle gestuur het. Want wie het die dag van klein dinge gering geskat? Hulle sal bly wees en sal die skietlood in die hand van Serubbabel sien.” Hierdie sewe is die oë van die HERE wat die hele aarde deurkruis. Toe het ek weer gepraat en gevra: “Wat beteken hierdie twee olyfbome aan die regter- en linkerkant van die menora?” Ek het 'n tweede keer gepraat en hom gevra: “Wat beteken die twee olyftakke waaruit die goue olie deur die goue pype vloei?” Hy het vir my gesê: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” En ek het gesê: “Nee, my heer.” Toe sê hy vir my: “Hulle is die twee gesalfdes wat by die Heer van die hele aarde staan.”
SAGARIA 4:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die engel wat met my gespreek het, het weer gekom en my wakker gemaak soos 'n man wat uit sy slaap wakker gemaak word, En hy het vir my gesê: Wat sien jy? En ek het gesê: Ek het gesien, en daar was 'n kandelaar heeltemal van goud, met 'n bak bo-op en sy sewe lampe daarop, en sewe pype vir die sewe lampe wat bo-op is. En twee olyfbome daarby, een aan die regterkant van die bak en die ander aan die linkerkant daarvan. Ek het toe geantwoord en met die engel wat met my gespreek het, gespreek en gesê: Wat is dit, my heer? Toe antwoord die engel wat met my gespreek het en sê vir my: Weet jy nie wat dit is nie? En ek het gesê: Nee, my heer! Toe het hy geantwoord en met my gespreek en gesê: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, wat sê: Nie deur krag of deur krag nie, maar deur my Gees, spreek die HERE van die leërskare. Wie is jy, o groot berg? voor Serubbábel sal jy 'n vlakte word, en hy sal sy grafsteen te voorskyn bring met geskreeu en roep: Genade, genade daarvoor! Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Die hande van Serubbabel het die fondament van hierdie huis gelê; sy hande sal dit ook voltooi; en jy sal weet dat die HERE van die leërskare my na julle gestuur het. Want wie het die dag van klein dingetjies verag? want hulle sal bly wees en die skietlood in die hand van Serubbabel sien saam met dié sewe; hulle is die oë van die HERE wat die hele aarde deurloop. Toe antwoord ek en sê vir hom: Wat is hierdie twee olyfbome aan die regterkant van die kandelaar en aan die linkerkant daarvan? En ek het weer geantwoord en vir hom gesê: Wat is hierdie twee olyftakke wat deur die twee goue pype die goue olie uit hulleself leegmaak? En hy het my geantwoord en gesê: Weet jy nie wat dit is nie? En ek het gesê: Nee, my heer! Toe sê hy: Dit is die twee gesalfdes wat by die HERE van die hele aarde staan.
SAGARIA 4:1-14 Die Boodskap (DB)
Die engel wat tot nou toe met my gepraat het, het teruggekom en my wakker gemaak asof ek aan die slaap was. Hy het vir my gevra: “Wat sien jy?” Ek het geantwoord: “Ek sien ’n kandelaar wat heeltemal van goud gemaak is. Bo-op die kandelaar is ’n bak waarin olie kom. Die kandelaar het sewe lampe met pypies aan om die olie na die lampe te laat loop. Verder was daar ook twee olyfbome, een links en die ander regs van die kandelaar.” Ek vra toe vir die engel wat met my praat: Wat beteken alles wat ek sien? Die engel het my gevra: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” Toe begin hy vir my verduidelik. Die Here wil vir Serubbabel sê: “Jy sal nie suksesvol wees deur militêre mag te gebruik nie. Dit sal jou ook nie help om op jou eie krag staat te maak nie. Dit is die Gees van die Here wat vir jou sukses sal gee. Dit is wat die Here sê!” Geen probleem of struikelblok sal in sy pad staan nie. Al voel dit soos ’n berg wat in sy pad staan, dit sal gelyk gemaak word soos ’n plat vlakte. Wanneer Serubbabel die laaste steen in die tempel inbou, sal die mense skree: “Mag dit goed gaan, mag dit goed gaan met die tempel!” Daarna het die Here weer met my gepraat en gesê wat ek moet sê: “Serubbabel het die fondamente van hierdie tempel gelê. Hy sal die tempel klaar bou.” Die dag as dit gebeur, sal julle weet dat die Here my gestuur het. Die werk wat nou aan die gang is, lyk miskien klein en nie waffers nie. Maar moenie die waarde daarvan onderskat nie. Die mense sal rede hê om bly te wees as hulle sien dat Serubbabel met die bouwerk aangaan. Om weer tot die droom van die kandelaar terug te kom: die engel het verduidelik: “Die sewe lampe is soos die oë van die Here wat die hele wêreld deursoek.” Toe vra ek weer vir die engel: Wat beteken die twee olyfbome wat aan weerskante van die kandelaar staan? Ek het hom ’n tweede keer gevra: Wat beteken die twee olyftakke wat olie laat uitloop deur twee goue pypies? Weet jy nie? het hy gevra. Ek het hom geantwoord: “Nee, Meneer, ek weet nie.” Toe het hy vir my verduidelik: “Die twee olyftakke stel die twee mense voor wat die Here uitgekies het om Hom te help. Hy is die Here van die hele aarde. Om te wys dat Hy hulle gekies het om Hom te help, het Hy olie op hulle kop laat gooi. Hy het hulle met olie laat salf.”
SAGARIA 4:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die engel wat met my gepraat het, het teruggekom na my toe. Hy het my wakker gemaak asof ek aan die slaap was. Hy het vir my gevra: “Wat sien jy nou?” Ek het geantwoord: “Ek sien ’n lampstaander van soliede goud met ’n oliebak bo-op. Rondom die oliebak is daar sewe lampe, elkeen met sewe tuite en lamppitte. “Ek sien twee olyfbome, een aan elke kant van die oliebak.” Ek het toe vir die engel gevra: “Wat beteken dit, Meneer?” “Weet jy nie?” het die engel gevra. “Nee, Meneer,” het ek geantwoord. Hy het toe vir my gesê: “Dit is wat die HERE vir Serubbabel sê: Nie met mag of krag nie, maar deur my Gees, sê die HERE, die Almagtige. “Wie is jy, grote berg? Voor Serubbabel word jy sommer ’n gelyk pad! Hy sal die laaste klip van die tempel lê en die mense sal uitroep: ‘Genade, genade oor hom!’” Die woord van die HERE het weer na my toe gekom: “Serubbabel het die fondament van die tempel gelê, en hy sal dit klaarmaak. Dan sal julle weet dat die HERE, die Almagtige, my gestuur het. Wie minag die dag van oënskynlik klein dingetjies? Mense sal bly wees wanneer hulle die skietlood in Serubbabel se hand sien. Hierdie sewe lampe is die oë van die HERE wat die hele aarde deursoek.” Ek het toe vir die engel gevra: “Wat beteken daardie twee olyfbome weerskante van die kandelaar? Wat beteken die twee olyftakke wat goue olie deur twee goue pype laat stroom?” “Weet jy nie?” het hy gevra. “Nee, Meneer,” het ek geantwoord. Toe sê hy vir my: “Hulle verteenwoordig die twee gesalfdes wat by die Here van die hele aarde staan.”