PSALMS 13:1-6
PSALMS 13:1-6 Bybel vir almal (ABA)
Vir die leier van die koor: 'n Psalm van Dawid. Here, hoe lank sal U my nog vergeet, hoe lank sal U nog aanhou om u gesig weg te draai van my? Hoe lank moet ek nog self planne probeer maak, hoe lank moet ek elke dag huil en treur, hoe lank sal my vyande nog dink dat hulle sterker is as ek? Here my God, U moet luister en my antwoord, U moet vir my nuwe lewe gee, sodat ek nie sterf nie, sodat my vyande nie kan sê dat hulle gewen het teen my nie, sodat hulle nie sal juig omdat ek geval het nie. En ek? Ek glo dat U sal doen wat U belowe het. Ek sal juig, want U sal my red, ek sal vir die Here sing omdat Hy goed gedoen het aan my.
PSALMS 13:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VIR die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. Hoe lank, HERE, sal U my altyddeur vergeet? Hoe lank sal U vir my u aangesig verberg? Hoe lank sal ek planne beraam in my siel, met kommer in my hart oordag? Hoe lank sal my vyand hom oor my verhef? Aanskou tog, verhoor my, HERE, my God! Verlig my oë, sodat ek nie in die dood inslaap nie; sodat my vyand nie kan sê: Ek het hom oorwin nie, en my teëstanders nie juig as ek wankel nie. Maar ek — op u goedertierenheid vertrou ek; my hart sal juig oor u heil. Ek wil sing tot eer van die HERE, omdat Hy aan my goed gedoen het.
PSALMS 13:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid. Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? Hoe lank sal die vyand my nog oorheers? Luister tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag. Ek wil nie sterwe nie, anders sê my vyand hy het my oorwin en juig my verdrukkers oor my ondergang. Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.
PSALMS 13:1-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid. Hoe lank nog, HERE? Gaan U my vir altyd vergeet? Hoe lank nog gaan U u gesig vir my verberg? Hoe lank nog moet ek kwellinge in my binneste dra, elke dag kommer in my hart? Hoe lank nog gaan my vyand die oorhand oor my hê? Sien dit tog raak, antwoord my, HERE, my God! Verlig tog my oë, anders sink ek in 'n doodslaap weg, anders sê my vyand, “Ek het hom oorweldig,” anders juig my teenstanders omdat ek tot 'n val gebring word. Maar ek – op u troue liefde vertrou ek; my hart wil juig oor u verlossing. Ek wil vir die HERE sing, omdat Hy aan my goed gedoen het.
PSALMS 13:1-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hoe lank sal U my vergeet, HERE? vir altyd? hoe lank sal U u aangesig vir my verberg? Hoe lank sal ek in my siel raad hou, elke dag met droefheid in my hart? hoe lank sal my vyand oor my verhef wees? Aanskou en luister na my, HERE my God; maak my oë ligter, dat ek nie die slaap van die dood slaap nie; Laat my vyand nie sê: Ek het hom oorwin nie; en die wat my pla, is bly as ek ontroer is. Maar ek het op U goedertierenheid vertrou; my hart sal juig oor u verlossing. Ek wil sing tot eer van die HERE, want Hy het goed aan my gedoen.
PSALMS 13:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hoe lank sal U my bly vergeet, HERE? Vir altyd? Hoe lank nog sal U anderpad kyk? Hoe lank moet ek alleen planne maak, elke dag deurbring met droefheid in my hart? Hoe lank sal my vyand die oorhand hê? Kyk tog en antwoord my, HERE my God! Verlig tog weer my oë dat ek nie die doodslaap ingaan nie, anders sê my vyand: “Ek het hom oorwin!” en is my teenstander bly oor my ondergang. Maar ek maak self staat op u troue liefde. Ek wil juig omdat U my gered het. Ek wil sing tot eer van die HERE omdat Hy vir my goed was.