JOHANNES 7:37-40
JOHANNES 7:37-40 Bybel vir almal (ABA)
Die laaste dag van die fees was die belangrikste dag. Op daardie dag het Jesus opgestaan en hard gesê: “As iemand dors is en hy wil lewe, dan kan hy na My toe kom en water kom drink wat die ewige lewe gee. Dit sal wees soos daar in die Ou Testament geskryf is: “ As iemand in My glo, dan sal die water soos fonteine uit hom vloei, die water wat die ewige lewe gee.” Toe Jesus dit gesê het, het Hy van die Heilige Gees gepraat. Almal wat in Jesus geglo het, het later die Heilige Gees ontvang. God het eers vir hulle gewys dat Jesus ook God is, daarna het hulle die Gees ontvang. Toe party van die mense hoor wat Jesus sê, sê hulle: “Hierdie man is regtig die Profeet.”
JOHANNES 7:37-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. Baie van die skare het, toe hulle die woord hoor, gesê: Hy is waarlik die profeet.
JOHANNES 7:37-40 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ” Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie. Party van die mense wat hierdie woorde gehoor het, het gesê: “Hy is werklik die Profeet.”
JOHANNES 7:37-40 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gaan staan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My kom, en drink! Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ ” Dit het Hy van die Gees gesê wat dié wat in Hom glo, sou ontvang. Die Gees was immers nog nie daar nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. Sommige uit die skare wat hierdie woorde gehoor het, het toe gesê: “Hy is waarlik die Profeet.”
JOHANNES 7:37-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Op die laaste dag, daardie groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink. Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy buik vloei. (Maar dit het Hy gespreek van die Gees, wat die wat in Hom glo, sou ontvang: want die Heilige Gees was nog nie gegee nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.) Baie van die volk het dan, toe hulle hierdie woord hoor, gesê: Dit is waarlik die profeet.
JOHANNES 7:37-40 Die Boodskap (DB)
Die laaste dag van die fees was die hoogtepunt en almal was daar. Jesus sê toe hard en duidelik: “As jy geestelik dors is, kom na My toe. Ek sal jou dors les. Glo in My en in wat Ek sê. “Dan sal jy soos ’n fontein word waaruit daar vars water borrel, om ’n voorbeeld uit die Skrif te gebruik. Dit sal nie gewone water wees nie, maar ‘water’ wat ’n mens vir ewig sal laat leef.” (Met hierdie beeld het Jesus die koms van die Heilige Gees in gedagte gehad. Elke Christen sal die Gees ontvang en dan sal hierdie dinge van hom waar word. Maar die Gees was toe nog nie aan die gelowiges gegee nie. Dit sou eers gebeur nadat Jesus teruggegaan het na sy Vader in die hemel toe.) Van die mense wat dit gehoor het, was nou meer as ooit oortuig: “Sowaar, Hy moet die belangrike Boodskapper van God wees op wie ons gewag het!”
JOHANNES 7:37-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op die laaste dag, die groot dag van die Huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As jy dors is, kom dan na My toe en drink. Die een wat in My glo – soos die Skrif sê: ‘Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.’” Dit het Jesus gesê oor die Gees wat die mense wat in Hom glo, sou ontvang. Want die Gees was nog nie daar nie omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. Die mense uit die skare wat hierdie woorde gehoor het, het opgemerk: “Hierdie man is regtig die Profeet.”


