JOHANNES 1:6-9
JOHANNES 1:6-9 Bybel vir almal (ABA)
God het 'n man gestuur, sy naam was Johannes. Hy het gekom om vir die mense te vertel van die lig, sodat almal wat dit hoor, kon glo. Johannes was nie self die lig nie, maar hy moes vir die mense kom vertel van die lig. Die Woord was die ware lig. Hy moes vir al die mense lig bring. Hy het klaar begin om na die wêreld te kom.
JOHANNES 1:6-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daar was 'n man van God gestuur, wie se naam Johannes was. Hy het tot 'n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo. Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.
JOHANNES 1:6-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar was 'n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.
JOHANNES 1:6-9 Die Boodskap (DB)
Johannes het ook op die toneel verskyn. God het hom gestuur om vir almal te kom vertel van Jesus wat soos ’n helder lig in die donker kom skyn het. Sy sterk boodskap oor die Lig moes mense oortuig om in die Lig te glo. Hy self was nie die Lig nie. Hy het maar net aan die mense kom vertel waar om die Lig te kry. Jesus, die ware, Goddelike Lig, was op pad na die wêreld toe. Hierdie Lig se strale sou op die mense in hierdie wêreld val.
JOHANNES 1:6-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar was ’n man, gestuur deur God, met die naam Johannes. Hy het gekom met die doel om ’n getuienis te lewer, om van die lig te getuig sodat alle mense op grond van sy getuienis sou glo. Hy was nie self die lig nie, maar het net kom getuig oor die lig. Hy wat die betroubare lig is, wat elke mens verlig, was op pad na die mensewêreld.