JEREMIA 27:1-22 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
JEREMIA 27:1-22 AFR83 (Afrikaans 1983)
Kort nadat Sedekia seun van Josia koning van Juda geword het, het hierdie woord van die Here tot Jeremia gekom: So het die Here vir my gesê: Maak vir jou jukke met skeie en stroppe en sit een daarvan op jou nek. Die ander moet jy na die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon toe stuur met die boodskappers wat na koning Sedekia van Juda in Jerusalem gekom het. Beveel die boodskappers om vir hulle konings te sê: So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Julle moet vir julle konings sê: Deur my groot krag en met my magtige dade het Ek die aarde, die mense en die diere wat op die aarde is, gemaak en Ek gee dit aan wie Ek wil. Ek gee al hierdie lande nou in die mag van my dienaar koning Nebukadnesar van Babel. Ek gee ook al die wilde diere aan hom vir sy gebruik. Al die nasies sal hom dien, hom en sy seun en sy kleinseun, totdat ook die dag vir sy land sal kom, en dan sal baie nasies en sterk konings hom onderwerp. Die nasie of koninkryk wat nie vir koning Nebukadnesar van Babel wil dien en onder die juk van Babel se koning wil buig nie, sal Ek met oorlog en met hongersnood en met pes straf, sê die Here. Ek sal hulle uitroei deur Nebukadnesar. Julle moenie luister na julle profete, julle besweerders, julle droomuitlêers, julle towenaars, julle goëlaars wat vir julle sê om nie die koning van Babel te dien nie. Dit is vals profete wat vir julle optree, en daardeur sal julle ver weggevat word uit julle land uit. Ek sal julle verban en julle sal omkom. Maar die nasie wat onder die juk van Babel se koning buig en hom dien, sal Ek in sy vaderland laat bly, sê die Here, en hy sal sy land bewerk en daar woon. Ek het dieselfde opdrag gegee aan koning Sedekia van Juda. Ek het gesê: Buig onder die juk van Babel se koning en dien hom en sy volk en bly so aan die lewe. Waarom wil jy en jou volk sterf deur die oorlog en die hongersnood en die pes waarmee Ek, die Here, elke nasie wat nie die koning van Babel wil dien nie, gedreig het? Moenie luister na die profete wat vir julle sê julle moenie die koning van Babel dien nie. Dit is vals profete wat vir julle optree. Ek het hulle nie gestuur nie, sê die Here. Hulle tree in my Naam op as profete, maar hulle bedrieg julle, en daarom sal Ek julle verban en sal julle omkom, julle en julle profete. Toe het ek, Jeremia, vir die priesters en hierdie hele volk gesê: So sê die Here: Moenie luister na julle profete nie. Hulle sê vir julle: “Die voorwerpe uit die huis van die Here sal baie gou teruggebring word uit Babel.” Daardie profete lieg vir julle. Moenie na hulle luister nie. Dien die koning van Babel, en bly lewe. Waarom moet hierdie stad verwoes word? As hulle werklik profete is en as die woord van die Here by hulle is, laat hulle dan by die Here die Almagtige pleit dat die voorwerpe wat nog in die huis van die Here is en dié in die koning van Juda se paleis en dié in Jerusalem, nie na Babel toe gevat word nie. So sê die Here die Almagtige van die pilare en die waterbak en die staanders, van al die ander voorwerpe wat nog oor is in hierdie stad, van alles wat koning Nebukadnesar van Babel nie saam met koning Jojagin van Juda, seun van Jojakim, en al die vername mense uit Juda en Jerusalem in ballingskap na Babel toe weggevoer het nie: dit sal na Babel toe gevat word en dit sal daar bly tot Ek dit weer onder my sorg sal neem, sê die Here. Dan sal Ek dit gaan haal en terugbring na hierdie plek toe. Dit is wat die Here die Almagtige, die God van Israel, sê van die voorwerpe wat nog oor is in die huis van die Here en in die paleis van die koning van Juda en in Jerusalem.
JEREMIA 27:1-22 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
IN die begin van die regering van Sedekía, die seun van Josía, koning van Juda, het van die HERE hierdie woord tot Jeremia gekom: So het die HERE vir my gesê: Maak vir jou stroppe en jukke, en sit dit op jou nek; en stuur dit na die koning van Edom en na die koning van Moab en na die koning van die kinders van Ammon en na die koning van Tirus en na die koning van Sidon deur middel van die gesante wat in Jerusalem gekom het na Sedekía, die koning van Juda; en gee hulle opdrag aan hul gebieders, met die woorde: So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: So moet julle aan jul gebieders sê: Ek het die aarde, die mens en die diere wat op die aarde is, gemaak deur my grote krag en deur my uitgestrekte arm, en Ek gee dit aan wie dit reg is in my oë. En nou het Ék al hierdie lande gegee in die hand van Nebukadnésar, die koning van Babel, my dienaar; ja, selfs die wilde diere van die veld het Ek aan hom gegee om hom te dien. En al die nasies sal hom dien en sy seun en sy seun se seun, totdat die tyd van sý land ook kom, dat dit diensbaar gemaak sal word deur magtige nasies en groot konings. En die nasie en die koninkryk wat hom, Nebukadnésar, die koning van Babel, nie sal dien nie, en wat sy nek nie sal steek onder die juk van die koning van Babel nie — oor daardie nasie sal Ek, spreek die HERE, besoeking doen met die swaard en die hongersnood en die pes, totdat Ek hulle heeltemal in sy mag gebring het. Júlle moet dan nie luister na julle profete en na julle waarsêers en na julle dromers en na julle goëlaars en na julle towenaars nie, wat met julle spreek en sê: Julle sal die koning van Babel nie dien nie. Want hulle profeteer leuens vir julle om julle ver te laat wees uit julle land, sodat Ek julle verdrywe en julle omkom. Maar die nasie wat sy nek sal bring onder die juk van die koning van Babel en hom sal dien, dié sal Ek in sy land laat bly, spreek die HERE, en hulle sal dit bewerk en daarin woon. Daarna het ek met Sedekía, die koning van Juda, volgens al hierdie woorde gespreek en gesê: Bring julle nekke onder die juk van die koning van Babel, en dien hom en sy volk, dat julle kan lewe. Waarom moet julle sterwe, u en u volk, deur die swaard, die hongersnood en die pes, soos die HERE gespreek het van die nasie wat die koning van Babel nie sal dien nie? Luister dan nie na die woorde van die profete nie, wat met julle spreek en sê: Julle sal die koning van Babel nie dien nie; want hulle profeteer leuens vir julle. Want Ek het hulle nie gestuur nie, spreek die HERE, en hulle profeteer vals in my Naam, dat Ek julle kan verdrywe en dat julle kan omkom, julle en die profete wat vir julle profeteer. Ook het ek met die priesters en hierdie hele volk gespreek en gesê: So spreek die HERE: Luister nie na die woorde van julle profete nie, wat vir julle profeteer en sê: Kyk, die voorwerpe van die huis van die HERE sal nou gou uit Babel teruggebring word; want hulle profeteer leuens vir julle. Luister nie na hulle nie, dien die koning van Babel, en lewe. Waarom moet hierdie stad 'n puinhoop word? Maar as hulle profete is, en as die woord van die HERE by hulle is, laat hulle tog die HERE van die leërskare dringend smeek, dat die voorwerpe wat in die huis van die HERE en die huis van die koning van Juda en in Jerusalem oorgebly het, nie in Babel kom nie. Want so sê die HERE van die leërskare van die pilare en van die see en van die afspoelwaentjies en van die ander voorwerpe wat in hierdie stad oorgebly het, wat Nebukadnésar, die koning van Babel, nie weggeneem het nie toe hy Jegónja, die seun van Jójakim, die koning van Juda, uit Jerusalem in ballingskap weggevoer het na Babel toe, saam met al die edeles van Juda en Jerusalem — want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel, aangaande die voorwerpe wat in die huis van die HERE en die huis van die koning van Juda en in Jerusalem oorgebly het: Na Babel sal dit gebring word, en daar sal dit bly tot op die dag dat Ek daarop ag sal gee, spreek die HERE, en dit opvoer en terugbring na hierdie plek.
JEREMIA 27:1-22 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Met die aanvang van die regering van koning Sedekia van Juda het die HERE vir Jeremia ’n boodskap gegee. Sedekia was die seun van Josia. Die HERE het vir my gesê: “Maak vir jou ’n juk en sit dit op jou nek vas met leerrieme. Stuur dan deur hulle ambassadeurs ’n boodskap aan die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon. Die ambassadeurs het na koning Sedekia van Juda in Jerusalem gekom. Gee hulle opdrag om die volgende boodskap aan hulle konings oor te dra: ‘Die HERE, die Almagtige, die God van Israel sê: Ek het die aarde en die mense en die diere op die aarde deur my groot mag en krag gemaak. Ek kan dit gee aan wie Ek wil. Nebukadnesar, die koning van Babel, is in my diens. Ek sal al hierdie lande vir hom gee. Ek sal selfs die wilde diere van die veld onder sy beheer stel. Al die nasies sal hom en sy seun en sy kleinseun dien tot hulle tyd verby is. Daarna sal sterk nasies en magtige konings Babel oorwin en oor Babel regeer. Julle almal moet die koning van Babel dien. Plaas julle nekke onder die juk van die koning van Babel. Maar as een van hierdie nasies of lande weier om Nebukadnesar te dien, stuur Ek oorloë, hongersnood en epidemies na hulle totdat Babel hulle heeltemal oorwin, sê die HERE. “‘Moenie na julle eie profete luister nie, ook nie na die waarsêers of mense wat drome uitlê nie. Moet ook nie julle ore uitleen aan fortuinvertellers of towenaars nie. Hulle sê mos: Julle sal nie die koning van Babel dien nie. Hulle verkondig ’n spul leuens aan julle. Dit veroorsaak dat Ek julle ver uit julle land sal dryf. Ek sal julle ver wegstuur en daar sal julle sterf. Maar die volke wat hulle onderwerp aan die koning van Babel en hom dien, sal Ek toelaat om in hulle eie land agter te bly. Hulle kan aangaan om te boer en in hulle land te woon, sê die HERE!’” Ek het toe dieselfde boodskap aan koning Sedekia van Juda herhaal en gesê: “As julle wil bly lewe, moet julle julle oorgee aan die koning van Babel. Dien hom en sy mense. Hoekom wil u en u mense in ’n oorlog sterf? Hoekom wil julle van honger of aan ’n epidemie sterf? Die HERE het gesê dit is wat met enige volk sal gebeur wat hulle nie aan die koning van Babel onderwerp nie. Moenie luister na wat die profete vir julle sê nie: ‘Julle sal nie die koning van Babel dien nie.’ Hulle lieg! Die HERE sê: Ek het hulle nie gestuur nie! Hulle vertel leuens in my Naam! Hulle is die oorsaak dat Ek julle uit julle land sal verdryf. Julle en julle profete met hulle liegstories sal almal doodgemaak word.” Ek het toe met die priesters en hierdie mense gepraat en gesê: “Die HERE sê: Moenie na die profete luister wat sê dat al die kosbare voorwerpe wat hulle uit die tempel van die HERE weggevat het, gou uit Babel hiernatoe sal terugkom nie. Dis ’n leuen! Moenie na hulle luister nie. Gee julleself oor aan die koning van Babel en julle sal bly lewe. Hoekom moet hierdie stad verwoes word? Hulle sê dat hulle die HERE se profete is. As dit so is, laat hulle dan tot die HERE, die Almagtige, bid oor die kosbare voorwerpe wat in die tempel van die HERE, in die paleis in Juda en in Jerusalem oorgebly het. Laat hulle bid dat dit nie ook na Babel weggevat word nie. “Want so sê die HERE, die Almagtige, oor wat met die koperpilare, groot koperbad, staanders en ander bakke wat nog in hierdie stad oorgebly het, gaan gebeur. Jojagin was destyds die koning van Juda. Hy was die seun van koning Jojakim. Koning Nebukadnesar van Babel het Jojagin en ’n groot klomp van die belangrikste mense van Juda en Jerusalem na Babel toe weggevoer. Toe hy hulle weggevoer het, het hy egter hierdie voorwerpe agtergelaat. Maar hoor wat sê die HERE, die Almagtige, oor hierdie kosbare voorwerpe wat in die tempel en die paleis van die koning van Juda is: ‘Hulle sal al hierdie voorwerpe na Babel toe wegdra,’ sê die HERE. ‘Dit sal daar bly totdat Ek dit wil terugbring. Dan bring Ek alles terug en Ek herstel dié plek.’”
JEREMIA 27:1-22 DB (Die Boodskap)
Die Here het vir Jeremia ’n boodskap gegee om oor te dra. Dit was toe Sedekia as koning van Juda begin optree het. Sedekia was ’n seun van koning Josia. Die Here het vir Jeremia gesê: “Maak vir jou ’n juk met gedraaide leerrieme aan, net soos dié wat ’n mens gebruik om osse in te span wat ’n ploeg of ’n wa trek. Sit hierdie dwarshout met die gedraaide rieme aan op jou nek. Stuur dan ’n boodskap aan die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon deur hulle verteenwoordigers.” Hierdie verteenwoordigers het na koning Sedekia in Jerusalem gekom. Sedekia was die koning van Juda. Jeremia moes hulle opdrag gee om hierdie boodskap aan hulle konings te gaan gee: “Die Here is die God van Israel en is sterker as alles en almal. Hy sê: Omdat Ek baie mag en krag het, het Ek die aarde en die mense en die diere wat op die aarde is, gemaak. Ek kan daarmee maak net wat Ek wil. Nebukadnesar, die koning van Babel, is in my diens. Ek het al julle lande vir hom gegee. Hy sal selfs die baas van die wilde diere wees. Al die nasies sal hom en sy seun en sy kleinseun dien. Dit sal so aanhou totdat sterk nasies en magtige konings Babel sal oorwin en oor die land sal regeer. Julle almal moet die koning van Babel dien. Sit julle nek onder die juk van die koning van Babel. Maar as een van hierdie nasies of lande weier om Nebukadnesar te dien, sal Ek hulle straf,” sê die Here. “Ek sal veroorsaak dat hulle oorlog moet maak. Verder sal Ek hulle honger laat ly en ’n epidemie onder hulle laat uitbreek. So sal dit aanhou totdat Nebukadnesar hulle op die ou end oorwin het. Moenie na julle eie profete luister nie. Ook nie na die waarsêers of mense wat sê hulle kan drome uitlê nie. Moet ook nie julle ore uitleen aan fortuinvertellers of towenaars nie. Hulle sê mos vir julle dat julle julle nie aan die koning van Babel sal hoef oor te gee nie. Hulle vertel vir julle ’n spul leuens. Dit maak net dat julle uit julle land gedryf sal word. Ek sal julle ver weg stuur en daar sal julle doodgaan. Maar al die volke wat hulle aan die koning van Babel oorgee en vir hom werk, sal Ek toelaat om in hulle eie land te bly. Hulle sal kan aangaan om die grond te ploeg en daar te bly soos hulle gewoond was,” sê die Here. Ek het toe dieselfde boodskap aan koning Sedekia van Juda herhaal en gesê: “As julle wil bly leef, moet julle julle oorgee aan die koning van Babel. Werk vir hom en sy mense en julle sal bly leef. Hoekom wil u en u mense doodgaan in ’n oorlog? Hoekom wil julle van honger of in ’n epidemie sterf? Die Here het gesê dit is wat sal gebeur met enige volk wat hulle nie aan die koning van Babel oorgee nie. Moenie luister na julle profete wat sê: ‘Julle sal nie aan die koning van Babel oorgegee word nie.’ Hulle vertel vir julle ’n spul leuens! Die Here sê: Ek het hulle nie gestuur nie. Hulle is vermetel om namens My te praat en dan verkondig hulle nog ’n spul leuens ook! Hulle sal die oorsaak wees dat Ek julle uit julle land sal wegjaag. Julle en hierdie profete met hulle leuens sal doodgaan.” Ek het toe met die priesters en die mense gepraat en gesê: “Die Here sê: Moenie luister na julle profete wat sê dat al die kosbare goed wat uit die tempel van die Here weggevat is, gou uit Babel hiernatoe sal terugkom nie. Hulle lieg vir julle! Moenie na hulle luister nie. Gee julleself aan die koning van Babel oor en julle sal bly leef. Hoekom moet hierdie stad verwoes word omdat julle julle ore aan hulle uitleen? Hulle sê hulle is die Here se boodskappers. As dit so is, laat hulle dan tot die Here wat sterker as alles en almal is, bid. Laat hulle Hom dan vra dat die kosbare goed wat in die tempel van die Here oorgebly het, in die paleis in Juda en in Jerusalem nie na Babel toe weggevat word nie. Die Here het reeds gesê wat met die koperpilare by die ingang van die tempel gaan gebeur. Hy het ook gesê wat met die groot koperbad, die staanders en die ander bakke wat nog in hierdie stad oor is, gaan gebeur. Jojagin was destyds die koning van Juda. Hy was die seun van koning Jojakim. Koning Nebukadnesar van Babel het vir Jojagin en ’n groot klomp van die belangrikste mense van Juda en Jerusalem na Babel ontvoer. Maar toe hy dit destyds gedoen het, het hy van die kosbare goed net so in die tempel en die paleis gelos. Maar hoor wat sê die Here oor hierdie kosbare goed wat in die tempel en die paleis van die koning van Juda is: Hy sê: Al hierdie goed sal na Babel toe weggedra word. Daar sal dit bly totdat Ek eendag wil hê dit moet terugkom. As die tyd reg is, sal Ek alles weer na Jerusalem toe terugbring.”
JEREMIA 27:1-22 ABA (Bybel vir almal)
Die Here het met my, Jeremia, gepraat. Dit was kort nadat Sedekia seun van Josia koning van Juda geword het. Die Here het vir my gesê: “Jy moet vir jou jukke maak en bande, en jy moet een juk op jou nek vasmaak. “Dan moet jy die ander jukke stuur na die konings van die land Moab, na die Ammoniete, en na die stede Tirus en Sidon. Jy moet dit stuur saam met die boodskappers wat na Jerusalem gekom het, na koning Sedekia van Juda toe. “Jy moet vir hulle sê hulle moet vir hulle konings sê: Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Dit is Ek wat die aarde gemaak het, en ook die mense en die diere wat op die aarde is. Ek het dit gedoen met my eie groot krag, en Ek gee dit vir wie Ek wil. En nou, Ek het al hierdie lande vir my dienaar gegee, vir Nebukadnesar koning van Babel, en Ek het ook die wilde diere vir hom gegee om vir hom te werk. “Al die volke sal vir Nebukadnesar moet werk, en ook vir sy seun en vir sy kleinseun. Hulle sal dit doen totdat die tyd kom wanneer die mense van sy eie land Babel vir baie ander volke en groot konings sal moet werk. Maar Ek sal die volk en die land straf wat nie vir Nebukadnesar koning van Babel wil dien en wat nie sy juk wil dra nie. Ek sal daardie volk straf met oorlog en honger en pes. “Ek sal aanhou totdat Nebukadnesar hulle almal doodgemaak het. En julle, julle moenie luister na julle profete en waarsêers nie, moenie luister na die mense wat sê hulle weet wat drome en tekens beteken en wat sê dat hulle kan toor nie. Hulle sê julle moenie die koning van Babel dien nie, maar hulle bring boodskappe wat vals is. As julle na hulle luister, dan sal Ek julle wegvat ver van julle grond af, Ek sal julle wegjaag na al die kante toe, en julle sal sterf. Maar Ek sal die volk wat die juk van die koning van Babel dra en hom dien, op hulle grond laat bly. Hulle sal in die grond werk en daar woon.” Ek, Jeremia, het toe eers al hierdie dinge vir Sedekia koning van Juda gaan sê. Ek het gesê: “Julle moet die juk van die koning van Babel dra en julle moet hom dien. Dan sal julle aanhou lewe. Hoekom wil jy en jou mense sterf van oorlog en honger en pes? Die Here het gesê dit sal gebeur met 'n volk wat nie die koning van Babel dien nie. Julle moenie luister na die profete wat vir julle sê julle moenie die koning van Babel dien nie, want daardie profete bring vir julle boodskappe wat vals is. Die Here sê: Ek het hulle nie gestuur nie, maar hulle sê hulle bring boodskappe van My. Dit is boodskappe wat vals is. As julle daarna luister, dan sal Ek julle wegjaag na al die kante toe en Ek sal julle almal laat sterf, julle en die profete wat vir julle boodskappe bring.” Daarna het ek, Jeremia, met die priesters en al hierdie mense gepraat en vir hulle gesê: “Die Here sê: Julle moenie luister na julle profete wat vir julle boodskappe bring en sê die tempel-gereedskap sal gou terugkom uit Babel nie, want daardie profete bring boodskappe wat vals is. Julle moenie na hulle luister nie, julle moet die koning van Babel dien. Dan sal julle aanhou lewe. Hoekom moet hierdie stad 'n hoop klippe word? “As daardie mense regtig profete is, as die Here regtig met hulle praat, dan moet hulle aanhou bid tot die Here wat oor alles regeer. Hulle moet vra dat die vyande nie die goed na Babel sal vat nie, die goed wat nog oor is in die tempel en in die paleis. “Want die Here wat oor alles regeer, praat ook oor die pilare en oor die groot waterbak en die waentjies wat nog by die tempel is en oor alles wat nog oorgebly het in die stad. Koning Nebukadnesar het nie hierdie goed gevat toe hy vir koning Jojagin seun van Jojakim, koning van Juda, na Babel weggevat het saam met al die belangrike mense van Juda en Jerusalem nie. Maar nou praat die Here wat oor alles regeer, die God van Israel. Hy praat oor die goed wat nog oorgebly het in die tempel en in die paleis van die koning van Juda en Jerusalem. Die Here sê: Die vyande sal dit wegvat na Babel, en dit sal daar bly totdat Ek besluit dat dit moet terugkom na hierdie plek.”
JEREMIA 27:1-22 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Aan die begin van Sedekia, seun van Josia, koning van Juda, se regering, het hierdie woord van die HERE tot Jeremia gekom: “So het die HERE vir my gesê: Maak vir jou stroppe en skeie, en sit dit om jou nek; stuur dit dan na die koning van Edom, die koning van Moab, die koning van die Ammoniete, die koning van Tirus en die koning van Sidon deur die gesante wat in Jerusalem by Sedekia, koning van Juda, aangekom het. Beveel hulle om vir hulle heersers te sê, ‘So sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “So moet julle vir julle heersers sê, Ek is die een wat deur my groot krag en uitgestrekte arm die aarde gemaak het, ook die mense en diere wat op die aarde is, en Ek gee dit aan wie Ek wil. En nou het Ek self al hierdie lande oorgegee in die hand van Nebukadnesar, die koning van Babilonië, my dienskneg. Ja, Ek het selfs die wilde diere aan hom gegee om aan hom onderhorig te wees. Al die nasies sal hom en sy seun en sy kleinseun dien, totdat ook vir sy land die tyd aanbreek en magtige nasies en groot konings hom verkneg. Maar die nasie of koninkryk wat nie aan hom, Nebukadnesar, die koning van Babilonië, onderhorig wil wees nie en sy nek nie onder die juk van die koning van Babilonië, insteek nie – met die swaard, hongersnood en pessiekte sal Ek van daardie nasie rekenskap eis, is die uitspraak van die HERE, totdat Ek hulle volledig in sy hand oorgegee het. Maar julle, moenie luister na julle profete, julle voorspellers, julle dromers, die lesers van voortekens of julle towenaars nie, hulle wat met julle praat en sê, ‘Julle sal nie die koning van Babilonië dien nie.’ Want dit is leuens wat hulle vir julle profeteer, en dit sal daartoe lei dat julle van julle grond af verwyder word. Ek sal julle verdryf, en julle sal omkom. Maar die nasie wat sy nek onder die juk van die koning van Babilonië insteek en hom dien – Ek sal hulle op hulle grond laat bly, is die uitspraak van die HERE, en hulle sal dit bewerk en daarop woon.” ’ ” Vir Sedekia, koning van Juda, het ek toe al hierdie woorde gesê: “Steek julle nekke onder die juk van die koning van Babilonië in, en dien hom en sy volk, sodat julle kan leef! Waarom moet julle, jy en jou volk, sterf deur die swaard, hongersnood en pessiekte, soos die HERE gesê het oor die nasie wat die koning van Babilonië nie wil dien nie? Moenie luister na die woorde van die profete wat vir julle sê, ‘Julle sal nie die koning van Babilonië dien nie,’ want dit is leuens wat hulle vir julle profeteer. Want Ek het hulle nie gestuur nie,” is die uitspraak van die HERE, “en hulle profeteer vals in my Naam, wat daartoe sal lei dat Ek julle verdryf, en dat julle sal omkom, julle en die profete wat vir julle profeteer.” Vir die priesters en hierdie hele volk het ek gesê: “So sê die HERE, ‘Moenie luister na die woorde van julle profete nie, hulle wat vir julle profeteer: “Kyk, die voorwerpe van die huis van die HERE sal nou vinnig teruggebring word uit Babel.” Want dit is leuens wat hulle vir julle profeteer. Moenie na hulle luister nie; dien die koning van Babilonië, sodat julle kan leef. Waarom moet hierdie stad 'n puinhoop word?’ As hulle dan profete is, en as die woord van die HERE by hulle is, moet hulle liewer by die HERE, Heerser oor alle magte, pleit dat die voorwerpe wat nog oor is in die huis van die HERE en in die huis van die koning van Juda en in Jerusalem, nie na Babel gaan nie. Want so sê die HERE, Heerser oor alle magte, oor die pilare, die See, die verskuifbare staanders en die res van die voorwerpe wat in hierdie stad oorgebly het, wat Nebukadnesar, die koning van Babilonië, nie weggevat het toe hy Jegonja, seun van Jojakim, koning van Juda, uit Jerusalem in ballingskap weggevoer het na Babel saam met al die hoëlui van Juda en Jerusalem nie. Ja, so sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel, oor die voorwerpe wat oorgebly het in die huis van die HERE en in die huis van die koning van Juda en in Jerusalem, ‘Na Babel sal dit geneem word, en dit sal daar bly tot op die dag dat Ek daaraan aandag gee,’ ” is die uitspraak van die HERE. “ ‘Dan sal Ek dit laat haal en dit terugbring na hierdie plek.’ ”
JEREMIA 27:1-22 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
In die begin van die regering van Jojakim, die seun van Josia, die koning van Juda, het hierdie woord van die HERE tot Jeremia gekom en gesê: So sê die HERE vir my; Maak vir jou boeie en jukke en sit dit om jou nek, En stuur hulle na die koning van Edom en na die koning van Moab en na die koning van die Ammoniete en na die koning van Tirus en na die koning van Sidon, deur die hand van die boodskappers wat na Jerusalem kom na Sedekia koning van Juda; En beveel hulle om aan hulle HERE te sê: So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel; So moet julle aan julle HERE sê: Ek het die aarde gemaak, die mens en die dier wat op die aarde is, deur my groot krag en deur my uitgestrekte arm, en het dit gegee aan wie dit vir my goed gelyk het. En nou het Ek al hierdie lande gegee in die hand van Nebukadnésar, die koning van Babel, my kneg; en die diere van die veld het Ek hom ook gegee om hom te dien. En al die nasies sal hom en sy seun en sy seun se seun dien totdat die tyd van sy land kom, en dan sal baie nasies en groot konings hulleself deur hom dien. En dit sal gebeur dat die nasie en die koninkryk wat dieselfde Nebukadnésar, die koning van Babel, nie sal dien nie, en wat hulle nek nie onder die juk van die koning van Babel sal lê nie, oor daardie nasie sal Ek besoeking doen, spreek die HERE met die swaard en met die hongersnood en met die pes, totdat Ek hulle deur sy hand verteer het. Luister daarom nie na julle profete, of na julle waarsêers, of na julle dromers, of na julle towenaars, of na julle towenaars wat met julle spreek en sê: Julle mag die koning van Babel nie dien nie. Want hulle profeteer 'n leuen vir jou om jou ver van jou land af te verwyder; en dat Ek julle sou verdryf, en julle sou omkom. Maar die nasies wat hulle nek onder die juk van die koning van Babel bring en hom dien, dié sal Ek laat stilbly in hulle land, spreek die HERE; en hulle moet dit bewerk en daarin woon. Ek het ook met Sedekía, die koning van Juda, gespreek volgens al hierdie woorde en gesê: Bring julle nekke onder die juk van die koning van Babel, en dien hom en sy volk en lewe. Waarom sal julle sterwe, jy en jou volk, deur die swaard, deur die hongersnood en deur die pes, soos die HERE gespreek het teen die nasie wat die koning van Babel nie sal dien nie? Luister dan nie na die woorde van die profete wat met julle spreek en sê: Julle mag die koning van Babel nie dien nie, want hulle profeteer leuens vir julle. Want Ek het hulle nie gestuur nie, spreek die HERE, tog profeteer hulle 'n leuen in my Naam; dat Ek julle kan verdryf en dat julle omkom, julle en die profete wat vir julle profeteer. Ek het ook met die priesters en met hierdie hele volk gespreek en gesê: So spreek die HERE; Luister nie na die woorde van julle profete wat vir julle profeteer en sê: Kyk, die voorwerpe van die huis van die HERE sal nou binnekort uit Babel teruggebring word nie, want hulle profeteer 'n leuen vir julle. Luister nie na hulle nie; dien die koning van Babel en leef; waarom sou hierdie stad verwoes word? Maar as hulle profete is, en as die woord van die HERE met hulle is, laat hulle dan nou intree by die HERE van die leërskare, dat die voorwerpe wat oorgebly het in die huis van die HERE en in die huis van die koning van Juda, en na Jerusalem, gaan nie na Babel nie. Want so sê die HERE van die leërskare aangaande die pilare en oor die see en oor die fondamente en oor die oorblyfsel van die voorwerpe wat in hierdie stad oorgebly het: wat Nebukadnésar, die koning van Babel, nie geneem het toe hy Jekonja, die seun van Jójakim, die koning van Juda, uit Jerusalem na Babel weggevoer het, en al die edeles van Juda en Jerusalem; Ja, so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel, aangaande die voorwerpe wat oorgebly het in die huis van die HERE en in die huis van die koning van Juda en van Jerusalem; Hulle sal na Babel weggevoer word, en daar sal hulle wees tot op die dag dat Ek hulle besoek, spreek die HERE; dan sal Ek hulle laat opkom en hulle op hierdie plek terugbring.