HEBREËRS 6:9-11
HEBREËRS 6:9-11 Bybel vir almal (ABA)
My vriende, dit is waar dat ons nou al hierdie dinge gesê het, maar ons is baie seker dat dit baie beter gaan met julle en dat God julle sal red. Want God doen nie verkeerd nie, Hy sal nie die dinge vergeet wat julle gedoen het nie, en Hy sal nie vergeet hoe lief julle vir Hom was en hoe julle vir die gelowiges gesorg het en nou nog sorg nie. Maar ons wil baie graag hê dat elkeen van julle altyd hard moet probeer om tot die einde te wys dat julle baie seker is van die dinge wat julle weet en hoop.
HEBREËRS 6:9-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar, geliefdes, ons is aangaande julle van beter dinge oortuig, dinge wat saamhang met die saligheid, al spreek ons ook so. Want God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het en nog dien. Maar ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer mag toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe
HEBREËRS 6:9-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar, geliefdes, al praat ons in hierdie trant, is ons oor julle oortuig van beter: dat julle gered sal word. God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie. Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle end-uit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop, vervul is.
HEBREËRS 6:9-11 Die Boodskap (DB)
My liewe vriende, ek klink miskien kwaai. Nogtans is ek seker dat dit nie so sleg gaan met julle nie. Ek weet julle is God s’n en leef ook soos mense wat gered is. God is regverdig. Hy sal onthou wat julle alles vir Hom doen. Hy weet dat omdat julle Hom liefhet, julle gedurig ander Christene help en altyd reg is om te help waar julle kan. Ek wil graag hê julle moet aanhou om God so ywerig te dien. Hou so aan tot God alles gedoen het wat Hy beloof het.
HEBREËRS 6:9-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar, geliefdes, al praat ons so ernstig hieroor, is ons tog wat julle betref daarvan oortuig dat dit nie op julle van toepassing is nie. Ons is positief oor julle en glo dat julle verlos sal word. God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie: hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en dit nog steeds doen nie. Dit is ons hartsbegeerte dat elkeen van julle enduit dieselfde entoesiasme sal vertoon sodat julle toekomsverwagting bewaarheid kan word.