GENESIS 7:1-12
GENESIS 7:1-12 Bybel vir almal (ABA)
Toe Noag die ark klaar gemaak het, het die Here vir hom gesê: “Jy en jou hele huisgesin moet in die ark ingaan. Jy is die enigste man op die aarde wat reg lewe. Jy moet sewe mannetjies en sewe wyfies van elke soort rein dier neem, en een mannetjie en een wyfie van elke soort onrein dier. Jy moet ook sewe mannetjies en sewe wyfies van elke soort voël saamneem, sodat hulle kan aanhou lewe op die aarde. Jy moet dit doen, want oor sewe dae sal Ek dit laat reën op die aarde. Dit sal 40 dae en 40 nagte aanmekaar reën. Ek sal alles wat lewe, alles wat Ek gemaak het, doodmaak en wegvee van die aarde af.” Noag het alles gedoen wat die Here vir hom gesê het. Noag was 600 jaar oud toe die watervloed oor die aarde gekom het. Noag het in die ark ingegaan voordat die watervloed gekom het. Sy seuns en sy vrou en sy skoondogters het saam met hom in die ark ingegaan. Al die rein diere, al die onrein diere, al die voëls en al die diere wat kruip, het na Noag toe gekom. Hulle het twee-twee na Noag toe in die ark gekom, 'n mannetjie en 'n wyfie, soos God vir Noag gesê het. Sewe dae daarna het dit begin reën, en die watervloed het oor die aarde gestroom. Noag was 600 jaar oud en dit was die sewentiende dag van die tweede maand van die jaar. Die fonteine onder die grond het oopgegaan en die water het uitgekom. God het ook die water wat bokant die ronde dak is, op die aarde laat val. Die reën het 40 dae en 40 nagte lank op die aarde geval.
GENESIS 7:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAARNA het die HERE aan Noag gesê: Gaan in die ark, jy en jou hele huisgesin, want jou het Ek regverdig bevind voor my aangesig in hierdie geslag. Van al die rein diere moet jy vir jou telkens sewe paar neem, die mannetjie met sy wyfie; maar van die diere wat nie rein is nie, twee, die mannetjie met sy wyfie. Ook van die voëls van die hemel telkens sewe paar, die mannetjie met die wyfie, om die geslag in die lewe te hou op die hele aarde. Want oor nog sewe dae sal Ek laat reën op die aarde, veertig dae en veertig nagte, en al die lewende wesens wat Ek gemaak het, van die aarde verdelg. En Noag het gedoen net soos die HERE hom beveel het. En Noag was seshonderd jaar oud toe die watervloed oor die aarde gekom het. En Noag en sy seuns en sy vrou en die vroue van sy seuns saam met hom het in die ark gegaan vanweë die waters van die vloed. Van die rein diere en van die diere wat nie rein is nie, en van die voëls en van alles wat op die aarde kruip, het daar twee-twee na Noag in die ark gegaan, 'n mannetjie en 'n wyfie, soos God Noag beveel het. Ná die sewe dae kom toe die waters van die vloed op die aarde. In die seshonderdste jaar van die lewe van Noag, in die tweede maand, op die sewentiende dag van die maand, op dieselfde dag, is al die fonteine van die groot watervloed oopgebreek, en die sluise van die hemel is geopen; en die stortreën was op die aarde veertig dae en veertig nagte lank.
GENESIS 7:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe sê die Here vir Noag: “Jy en jou hele gesin moet in die ark ingaan. Ek het jou gesien en onder hierdie geslag bevind Ek jou regverdig. Van al die rein diere moet jy sewe pare, manlik en vroulik, saamvat en van al die onrein diere net een paar, manlik en vroulik. Ook uit die voëls moet jy sewe pare, mannetjies en wyfies, saamvat. Dit moet jy doen om al die soorte op die hele aarde aan die lewe te laat bly. Oor sewe dae sal Ek dit veertig dae en nagte lank laat reën en alles wat leef, wat Ek gemaak het, wegvee van die aarde af.” Noag het alles gedoen soos die Here hom beveel het. Noag was ses honderd jaar toe die vloedwaters oor die aarde gekom het. Noag en sy seuns en sy vrou en sy skoondogters het in die ark ingegaan vir die vloedwaters. Die rein en die onrein diere, die voëls, en die diere wat kruip, het in pare, manlik en vroulik, na Noag toe in die ark gekom soos God vir Noag gesê het. Op die sewende dag het die vloedwaters oor die aarde gekom. Presies op die sewentiende dag van die tweede maand van die ses honderdste jaar van Noag het die fonteine van die groot waters oopgebreek. Die vensters van die hemel is oopgemaak, sodat daar 'n stortreën op die aarde geval het, veertig dae en veertig nagte lank.
GENESIS 7:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het toe vir Noag gesê: “Gaan jy en jou hele gesin in die ark in; want in hierdie geslag het Ek net jou voor My regverdig bevind. Van al die rein diere moet jy vir jou sewe plus sewe neem – telkens 'n manlike een en sy maat; maar van die diere wat nie rein is nie, net twee – 'n manlike een en sy maat; ook van die voëls van die hemel sewe plus sewe, manlik en vroulik, om 'n nageslag lewend te hou oor die hele aarde. Want nog net sewe dae, dan gaan Ek dit laat reën oor die aarde veertig dae en veertig nagte lank. Ek sal alles wat bestaan, wat Ek gemaak het, van die aardbodem af uitwis.” Noag het toe gedoen net soos wat die HERE hom beveel het. Noag was seshonderd jaar oud toe die vloed, die waters, oor die aarde gekom het. Maar Noag, sy seuns, sy vrou en sy skoondogters saam met hom, het die ark binnegegaan voor die waters van die vloed. Van die rein diere en die diere wat nie rein is nie, en van die voëls en alles wat op die grond kruip, het twee-twee die ark binnegegaan na Noag toe, manlik en vroulik, soos God Noag beveel het. Ná die sewe dae het die waters van die vloed oor die aarde gekom. In die seshonderdste jaar van Noag se lewe, in die tweede maand, op die sewentiende dag van die maand, op daardie dag, het al die fonteine van die groot •oerwater oopgebreek, en die vensters van die hemel is oopgemaak. Daar was stortreën op die aarde, veertig dae en veertig nagte lank.
GENESIS 7:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê die HERE vir Noag: Gaan jy en jou hele huis in die ark; want U het ek regverdiges voor my aangesig gesien in hierdie geslag. Van al die rein diere moet jy vir jou in sewe neem, die mannetjie en sy wyfie; en van die diere wat nie rein is nie, twee-twee, die mannetjie en sy wyfie. Ook van die voëls van die hemel by sewe, die mannetjie en die wyfie; om saad in die lewe te hou op die hele aarde. Want nog sewe dae, en Ek sal dit veertig dae en veertig nagte op die aarde laat reën; en al die lewende goed wat Ek gemaak het, sal Ek van die aarde af vernietig. En Noag het gedoen net soos die HERE hom beveel het. En Noag was seshonderd jaar oud toe die watervloed oor die aarde was. En Noag het ingegaan, en sy seuns en sy vrou en sy seuns se vroue saam met hom, in die ark vanweë die waters van die vloed. Van rein diere en van diere wat nie rein is nie, en van voëls en van alles wat op die aarde kruip, Hulle het twee-twee na Noag in die ark ingegaan, die mannetjie en die wyfie, soos God Noag beveel het. Ná sewe dae was die waters van die vloed op die aarde. In die ses honderdste jaar van Noag se lewe, in die tweede maand, die sewentiende dag van die maand, op dieselfde dag is al die fonteine van die groot watervloed oopgebreek, en die vensters van die hemel is oopgemaak. En die reën het veertig dae en veertig nagte op die aarde geval.
GENESIS 7:1-12 Die Boodskap (DB)
Toe alles klaar was, het die Here vir Noag gesê: “Klim in die ark in en vat jou gesin saam. Van almal op aarde het jy die naaste aan My geleef. Vat ook van elke rein dier sewe pare saam met jou in die ark in, ’n mannetjie en ’n wyfie. Van al die onrein diere hoef jy net een paar elk, ’n mannetjie en ’n wyfie, saam te vat. Van al die voëls wat in die lug rondvlieg, moet jy ook sewe pare saamvat, ’n mannetjie en ’n wyfie. So kan al die voëlsoorte voortbestaan. Binne sewe dae stuur Ek reën. Dit sal 40 dae en 40 nagte aanmekaar reën. So sal Ek alles wat Ek gemaak het, van die aarde af vernietig.” Noag het presies gedoen wat die Here vir hom gesê het. Hy was 600 jaar oud toe die massas water die aarde begin oorstroom het. Toe die water begin opstoot, het Noag saam met sy vrou, sy seuns en hulle vroue in die ark geklim. Die mannetjies en wyfies van alle rein en onrein diere, van elke soort voël en van alle kruipende diere is saam met Noag in die ark in. Hulle het twee-twee die ark ingestap, net soos die Here vir hom gesê het. Sewe dae later het die water van die vloed oor die aarde gespoel. In Noag se 600ste jaar, in die tweede maand, presies op die sewentiende dag van daardie maand, het alles begin. Al die fonteine onder die aarde het oopgebars, die hemele se sluise het oopgebreek en die watermassas het neergestort. Dit het 40 dae en nagte so aangehou. Geweldige swaar reën het die aarde dag en nag geteister.
GENESIS 7:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE het vir Noag gesê: “Jy en jou gesin moet in die ark ingaan, want onder al die mense op die aarde is dit jy alleen wat opreg lewe. Jy moet ook sewe mannetjies en sewe wyfies van elke diersoort wat Ek goedgekeur het as geskik om te eet en te offer saamvat. Neem ook een mannetjie en een wyfie uit elk van die ander diersoorte. So ook moet jy sewe mannetjies en sewe wyfies van elke voëlsoort neem om hulle voortplanting op die aarde te verseker. Oor sewe dae sal Ek dit vir 40 dae en 40 nagte aanmekaar laat reën sodat alles wat Ek geskep het, van die aarde uitgewis word.” Noag het die opdrag van die HERE uitgevoer. Hy was 600 jaar oud toe die vloed begin het. Hy, sy vrou, sy seuns en hulle vroue het aan boord gegaan om die vloed te oorleef. Saam met hulle was daar diere van alle soorte: dié wat geëet en vir offers gebruik kon word, dié wat nie daarvoor goedgekeur was nie, asook van al die voëls en ander klein diertjies wat op die aarde kruip. Hulle het in pare, mannetjies en wyfies, na Noag by die ark gekom net soos God vir Noag beveel het. ’n Week later het die groot vloed losgebreek en die aarde oordek. Op die sewentiende dag van die tweede maand, tydens Noag se seshonderdste jaar, het die onderaardse waters oopgebars. Die reën het ook in strome begin neerstort vir 40 dae en nagte aanmekaar.