GENESIS 29:31-35 - Compare All Versions
GENESIS 29:31-35 ABA (Bybel vir almal)
Die Here het gesien dat Jakob minder lief is vir Lea as vir Ragel. Die Here het vir Lea kinders gegee, maar Ragel kon nie kinders kry nie. Lea het swanger geword en sy het 'n seun gekry. Sy het hom Ruben genoem. Sy het gesê: “Die Here het gesien dat ek swaarkry. Nou sal my man vir my ook lief wees.” Later het sy weer swanger geword en sy het nog 'n seun gekry. Toe sê sy: “Die Here het gesien dat Jakob minder lief is vir my, en Hy het vir my ook hierdie seun gegee.” Daarom het sy hom Simeon genoem. Toe Lea weer swanger word en nog 'n seun kry, sê sy: “Nou sal my man baie meer lief wees vir my, want ek het drie seuns vir hom gekry.” Daarom het sy hom Levi genoem. Sy het weer swanger geword en nog 'n seun gekry en gesê: “Nou prys ek die Here.” Daarom het sy hom Juda genoem. Sy het nie gou weer kinders gekry nie.
GENESIS 29:31-35 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En toe die HERE sien dat Lea die nie-geliefde was, het Hy haar skoot geopen; maar Ragel was onvrugbaar. En Lea het bevrug geword en 'n seun gebaar en hom Ruben genoem; want sy het gesê: Gewis, die HERE het my ellende aangesien, want nou sal my man my liefhê. En sy het weer bevrug geword en 'n seun gebaar en gesê: Gewis, die HERE het gehoor dat ek die nie-geliefde is en my hierdie een ook gegee. En sy het hom Símeon genoem. En sy het weer bevrug geword en 'n seun gebaar en gesê: Nou eindelik sal my man aan my geheg wees, omdat ek vir hom drie seuns gebaar het. Daarom het sy hom Levi genoem. En sy het weer bevrug geword en 'n seun gebaar en gesê: Dié keer sal ek die HERE loof. Daarom het sy hom Juda genoem. En sy het opgehou met baar.
GENESIS 29:31-35 AFR83 (Afrikaans 1983)
Toe die Here sien dat Jakob nie vir Lea liefhet nie, het die Here vir haar kinders gegee, terwyl Ragel kinderloos gebly het. Lea het swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring en hom Ruben genoem, “want,” het sy gesê, “die Here het my smart raakgesien. Nou sal my man my liefhê.” Lea het weer swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring en sy het gesê: “Die Here het gehoor dat ek nie liefde ontvang nie. Daarom het Hy my hierdie seun gegee.” Sy het hom Simeon genoem. Sy het weer swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring. Toe sê sy: “Na hierdie keer sal my man aan my gebind wees, want ek het nou al drie seuns vir hom in die wêreld gebring.” Daarom het sy die seun Levi genoem. Sy het nog 'n keer swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring. Sy het gesê: “Hierdie keer prys ek die Here.” Daarom het sy die seun Juda genoem. Daarna het sy vir eers nie weer kinders gehad nie.
GENESIS 29:31-35 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Die HERE het gesien dat Lea die nie-geliefde is, en Hy het haar moederskoot oopgemaak; maar Ragel was onvrugbaar. Lea het swanger geword en aan 'n seun geboorte gegee. Sy het hom Ruben genoem, want sy het gesê: “Ja, die HERE het my ellende raakgesien, want nou sal my man my liefhê.” Sy het weer swanger geword en aan 'n seun geboorte gegee. Toe sê sy: “Ja, die HERE het gehoor dat ek die nie-geliefde is, want Hy het my ook hierdie seun gegee.” En sy het hom Simeon genoem. Sy het weer swanger geword en aan 'n seun geboorte gegee. Toe sê sy: “Uiteindelik sal my man hom nou by my aansluit, want ek het al vir hom drie seuns in die wêreld gebring.” Daarom het sy hom Levi genoem. Sy het weer swanger geword en aan 'n seun geboorte gegee. Sy het gesê: “Hierdie keer sal ek die HERE prys.” Daarom het sy hom Juda genoem. Sy het toe opgehou om kinders in die wêreld te bring.
GENESIS 29:31-35 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Toe die HERE sien dat Lea gehaat was, het Hy haar skoot oopgemaak, maar Ragel was onvrugbaar. En Lea het swanger geword en 'n seun gebaar, en sy het hom Ruben genoem; want sy het gesê: Waarlik, die HERE het my ellende gesien; nou daarom sal my man my liefhê. En sy het weer bevrug geword en 'n seun gebaar; en gesê: Omdat die HERE gehoor het dat ek gehaat is, het Hy my ook hierdie seun gegee; en sy het hom Símeon genoem. En sy het weer swanger geword en 'n seun gebaar; en gesê: Nou sal my man hierdie keer by my aansluit, omdat ek vir hom drie seuns gebaar het. Daarom is sy naam Levi genoem. En sy het weer bevrug geword en 'n seun gebaar en gesê: Nou wil ek die HERE loof; daarom het sy hom Juda genoem; en nie weer gebaar nie.
GENESIS 29:31-35 DB (Die Boodskap)
Die Here het gesien dat Jakob nie lief was vir Lea nie. Hy het Lea toe baie vrugbaar gemaak, maar Ragel was kinderloos. Lea het ’n seun in die wêreld gebring en hom Ruben genoem en gesê: “Die Here het my hartseer raakgesien. Nou sal my man my uiteindelik liefhê.” Sy het weer ’n seun gehad en gesê: “Die Here het gehoor dat Jakob my nie liefhet nie, en daarom het Hy my hierdie kind gegee.” Sy het hom Simeon genoem. Nog ’n seun is gebore en Lea het gesê: “My man sal my nou werklik liefhê omdat ek vir hom drie seuns gegee het.” Sy het die seun Levi genoem. ’n Vierde seun is gebore en Lea het oorstelp gesê: “Hierdie keer wil ek die Here net loof en prys.” Dit is waarom sy die kind Juda genoem het. Lea het hierna vir eers nie weer kinders gehad nie.
GENESIS 29:31-35 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Omdat Lea minder geliefd was, het die HERE vir haar kinders gegee, maar Ragel was kinderloos. Lea het swanger geword en ’n seun in die wêreld gebring en hom Ruben genoem, “want,” het sy gesê, “die HERE het my verdriet gesien; dalk sal my man my nou liefhê.” Sy het weer swanger geword en nog ’n seun in die wêreld gebring. Sy het hom Simeon genoem, “want,” het sy gesê, “die HERE het gehoor dat ek minder geliefd is. Daarom het Hy my nog ’n seun gegee.” Sy het nog ’n keer swanger geword en ’n seun in die wêreld gebring. Sy het hom Levi genoem, “want,” het sy gesê, “my man sal nou sekerlik aan my geheg raak omdat ek nou al vir hom drie seuns gegee het!” Sy het nog ’n keer swanger geword en ’n seun in die wêreld gebring. Sy het hom Juda genoem, “want,” het sy gesê, “nou sal ek die HERE prys!” Daarna het sy nie meer kinders gehad nie.