EFESIËRS 2:20-22
EFESIËRS 2:20-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot 'n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot 'n woning van God in die Gees.
EFESIËRS 2:20-22 Bybel vir almal (ABA)
Julle is die kerk, julle is soos 'n gebou. Die fondament van die gebou is die apostels en die profete, en Christus Jesus is self die belangrikste klip in die gebou. Hy, Christus, hou die hele gebou regop en Hy maak dit sterk. Hy, die Here, laat die kerk groei en Hy maak dit 'n tempel wat aan die Here behoort. Christus het die Heilige Gees gestuur, en die Heilige Gees maak julle 'n deel van hierdie gebou, die gebou wat die woonplek van God is.
EFESIËRS 2:20-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as 'n geestelike huis waarin God woon.
EFESIËRS 2:20-22 Die Boodskap (DB)
Of laat ek die beeld van die bou van ’n huis gebruik. Julle is deel van die gebou wat God in hierdie wêreld aan die bou is. Die fondament van die gebou is die boodskap oor Jesus wat julle gehoor het van die manne wat deur God gestuur is en namens Hom praat. Die belangrikste steen in die gebou, waarsonder die gebou sommer inmekaar sal val, is Jesus self. Omdat ons almal Jesus s’n is en Hy ons Here is, vorm ons almal saam ’n sterk en stewige gebou. Dit is soos ’n spesiale huis net vir God. Elkeen van julle wat Jesus s’n is, is deel van hierdie gebou. En God self woon in julle gebou omdat sy Gees in julle is.
EFESIËRS 2:20-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
wat gebou is op die fondament wat die apostels en die profete gelê het. Christus Jesus is self die hoekklip op wie die hele gebou, terwyl dit kunstig inmekaargepas word, verrys tot ’n tempel wat aan die Here toegewy is. Deur julle verhouding met Hom word ook julle saam opgebou tot ’n gebou waarin God deur sy Gees woon.