2 PETRUS 2:1-11

2 PETRUS 2:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Daar was ook vals profete by die volk van God. So sal daar ook vals leermeesters by julle wees. Hulle sal vir mense hierdie vals dinge leer, maar die mense sal nie weet dat dit verkeerd is nie. Hierdie vals dinge sal die mense verlore laat gaan. Hierdie vals profete sal ook sê dat hulle nie aan die Here behoort nie, die Here wat vir hulle losgekoop het. Daarom sal dit hulle eie skuld wees dat hulle verlore sal gaan, dit sal skielik gebeur. En baie mense wat sê dat hulle gelowiges is, sal soos daardie vals profete ook alles doen wat hulle wil doen. Daarom sal die ander mense wat nie gelowiges is nie, slegte dinge sê oor die lewe van die mense wat glo dat die goeie boodskap die waarheid is. Hierdie vals leermeesters wil altyd meer en meer goed hê vir hulleself, daarom sal hulle verkeerde stories vir julle vertel om julle te bedrieg. Maar God het lank gelede klaar besluit om hulle te straf, en Hy sal dit doen, Hy sal hulle verlore laat gaan. God sal hulle straf. Hy was voorheen nie jammer vir die engele wat sonde gedoen het nie. Nee, Hy het hulle in die onderwêreld gegooi. Hy het hulle met kettings in die donker vasgebind en Hy het hulle gelos om daar gevangenes te bly totdat die oordeelsdag kom. God was ook lank gelede nie jammer vir die sondige wêreld nie toe Hy die watervloed oor die wêreld van die sondaars laat kom het. Maar Noag het in daardie tyd die boodskap gebring dat mense reg moet lewe voor God, en God het vir Noag gered. God het ook sewe ander mense saam met Noag gered uit die watervloed. God het ook die stede Sodom en Gomorra gestraf en Hy het hulle verbrand en verwoes. Hy het dit gedoen om die ander mense te waarsku dat Hy sondaars sal straf. Maar God het vir Lot gered. Lot het reg gelewe en hy was baie geskok oor die lewe van die mense wat nie gehoorsaam was aan die wette van God nie, daardie mense het gedoen wat hulle wil. Want Lot het reg gelewe, maar hy het gewoon by die mense wat nie gehoorsaam was aan die wette van God nie, en hy het elke dag gesien en gehoor wat hulle gedoen het. Die dinge wat hulle gedoen het, het elke dag vir Lot baie geskok, want Lot het reg gelewe. Maar die Here weet dat Hy die mense sal red wat Hom dien, Hy sal hulle red wanneer hulle baie swaar kry, en Hy sal die mense wat verkeerd lewe, aanhou straf totdat die oordeelsdag kom. Vir wie sal die Here die meeste straf? Hy sal die mense straf wat graag dinge wil doen wat 'n skande is en wat hulleself vuil van die sonde laat word. Hulle dink die Here wat regeer, is nie belangrik nie. Hierdie vals leermeesters praat verkeerd, maar hulle is nie bekommerd daaroor nie. Hulle dink hulle is beter as ander mense. Daarom is hulle nie bang om slegte dinge te sê oor die engele nie. Maar die Here se engele is sterker en hulle het meer krag as die vals leermeesters. Die Here se engele beskuldig nie die ander engele nie.

2 PETRUS 2:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en 'n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie. Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word; en die ou wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar het toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het; en deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand, hulle tot ondergang veroordeel het en as 'n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees; en die regverdige Lot gered het, wat hom baie gekwel het oor die losbandige lewe van die sedelose mense; want deur wat hy gesien en gehoor het, het dié regverdige man, wat onder hulle gewoon het, dag vir dag sy regverdige siel gepynig oor hulle wettelose werke — die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word; en veral die wat die vlees in vuile begeerlikheid agternaloop en die heerskappy verag. Vermetel en aanmatigend, skroom hulle nie om die heerlike wesens te belaster nie, terwyl die engele, hoewel groter in sterkte en krag, geen lasterlike oordeel teen hulle by die Here voorbring nie.

2 PETRUS 2:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maar daar was ook vals profete onder die volk, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het, verloën. So sal hulle hulleself baie gou in die verderf stort. Baie mense sal hulle losbandigheid navolg, en deur hulle toedoen sal mense kwaadpraat van die Weg van die waarheid. In hulle hebsug sal hulle julle met allerhande stories uitbuit. Maar hulle vonnis is lankal gevel, en hulle ondergang is onafwendbaar. God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel. Hy het ook die wêreld van die outyd nie gespaar nie, maar die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring. Net vir Noag wat die wil van God verkondig het, en sewe ander mense het Hy gered. Die stede Sodom en Gomorra het Hy tot verwoesting veroordeel en tot as verbrand, en met hierdie voorbeeld het Hy getoon wat oor die goddelose mense gaan kom. En tog het Hy vir Lot gered, 'n eerbare man wat gebuk moes gaan onder die losbandige lewenswyse van sedelose mense. Terwyl hy tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit 'n foltering was vir sy opregte gemoed. Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red, maar om die goddeloses te straf en vir die oordeelsdag gevange te hou. Veral húlle sal gestraf word wat toegee aan hulle wellustige vleeslike begeertes en wat die gesag van die Here verag. Hierdie leraars is uitdagend en verwaand en huiwer nie om hemelwesens te beledig nie. Selfs die engele, wat tog baie sterker en magtiger is, bring nie voor die Here lasterlike aanklagte teen hierdie wesens in nie.

2 PETRUS 2:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daar was egter ook vals profete onder die volk, soos daar ook onder julle vals leraars sal wees, wat vernietigende ketterye sal insmokkel, en selfs die Heer wat hulle vrygekoop het, verloën. So bewerk hulle 'n skielike ondergang vir hulleself. Baie sal die losbandighede navolg van daardie mense deur wie se toedoen die pad van die waarheid belaster word. Deur hebsug gedrewe, sal hulle julle met versinde argumente uitbuit. Hulle vonnis staan reeds lankal gereed; ja, hulle ondergang talm nie. Trouens, as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle oorgelewer het, deur hulle met boeie in die digte duisternis van Tartarus te werp, en hulle so tot met die oordeel gevange te hou; en as Hy die antieke wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die boodskapper van •geregtigheid, saam met sewe ander bewaar het, toe Hy die vloed oor die goddelose wêreld gebring het; en as Hy die stede van Sodom en Gomorra tot as verbrand het, toe Hy hulle tot vernietiging veroordeel, en van hulle 'n voorbeeld gemaak het van die dinge wat die goddeloses gaan tref; en as Hy die •regverdige Lot, diep gekwel deur die onsedelike leefwyse van beginsellose mense, gered het – die regverdige man het, terwyl hy onder hulle gewoon het, op grond van wat hy gesien en gehoor het, sy regverdige siel dag in en dag uit oor hulle wettelose optrede gepynig; dan weet die Here tog baie goed om daardie mense wat godvresend leef, uit versoeking te red, maar ook om die onregverdiges tot op die dag van oordeel gevange te hou, sodat hulle gestraf kan word – veral dié wat agter die besoedelende begeerte van die natuurlike liggaam aanloop, en wat gesag verag. Hulle is roekelose, arrogante mense. Hulle skram nie daarvan weg om die hemelse wesens te belaster nie; terwyl selfs engele, wat daardie wesens tog in sterkte en krag oortref, nie teen hulle 'n klag van laster voor die Here inbring nie.

2 PETRUS 2:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees, wat verdoemende dwaalleer in die geheim sal inbring, en selfs die Here wat hulle gekoop het, verloën en 'n vinnige verderf oor hulleself bring. En baie sal hulle verderflike weë volg; deur wie die weg van die waarheid sleggesê sal word. En deur hebsug sal hulle met geveinsde woorde koophandel aan julle maak; Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en in kettings van duisternis oorgegee het om vir die oordeel bewaar te word; En hy het die ou wêreld nie gespaar nie, maar Noag, die agtste persoon, 'n prediker van geregtigheid gered, deur die sondvloed oor die wêreld van die goddelose te bring; En deur die stede Sodom en Gomorra tot as te verander, het hulle met 'n omverwerping veroordeel, en hulle 'n voorbeeld gemaak vir die wat daarna goddeloos sou lewe; En die regverdige Lot verlos, gekwel oor die vuil wandel van die goddeloses. (Want daardie regverdige man wat onder hulle gewoon het, deur te sien en te hoor, het sy regverdige siel van dag tot dag geplaag deur hulle onwettige dade;) Die Here weet hoe om die godvresendes uit versoekings te verlos en om die onregverdiges te bewaar tot die dag van oordeel om gestraf te word. Maar veral die wat na die vlees wandel in die begeerlikheid van onreinheid en die regering verag. Vermetel is hulle, eiewillig, hulle is nie bang om van waardigheid kwaad te praat nie. Terwyl engele, wat groter is in krag en mag, geen lasterlike beskuldiging teen hulle voor die Here bring nie.

2 PETRUS 2:1-11 Die Boodskap (DB)

Ongelukkig was daar nog altyd ’n klomp vals profete in Israel. Binnekort gaan dieselfde daar by julle gebeur. ’n Klomp mense sal allerhande skewe sienings oor God daar by julle probeer insmokkel. Hulle sal ’n bespotting maak van die Here wat hulle losgekoop het. Ek sê vir julle: hulle oordeel is voor die deur, en baie gou ook! Hulle sal baie mense ompraat om allerhande afstootlike sondes saam met hulle te doen. Dit sal maak dat mense allerhande slegte dinge oor die Pad van die Waarheid begin kwytraak. Hierdie mense is ’n spul geldwolwe. Hulle sal die vroomste stories aan julle opdis net om julle geld in die hande te kry. Maar dit sal hulle nie help nie. God het al lankal besluit wat Hy met hulle gaan doen. Hulle ondergang staan vas. God laat nie met Hom speel nie. Onthou julle nog hoe Hy selfs ’n klompie engele wat teen Hom gesondig het, nie gespaar het nie. Hy het hulle in die hel gegooi. Daar word hulle nou in die pikdonker dieptes gevange gehou totdat die groot oordeelsdag aanbreek. God het ook nie die wêreld daar in die ou dae met hulle verkeerde dade laat wegkom nie. Hy het toe die hele sondige wêreld in water laat vergaan. Net Noag, die enigste persoon wat in daardie tyd vir mense gesê het om na God te luister, en sewe ander mense se lewens het Hy van vernietiging gered. God het Sodom en Gomorra ook veroordeel en met die aarde gelyk gemaak. Hulle dien as ’n voorbeeld van die soort oordeel wat God sal laat neerkom op almal wat sonder Hom leef. In daardie tyd het God net vir Lot gespaar. Hy het in die regte verhouding met God geleef te midde van al die seksuele losbandigheid van almal rondom hom wat hulle nie aan God gesteur het nie. Hierdie goeie man moes dag na dag vaskyk in die verskriklike sondes wat daar hoogty gevier het. Hy wat in die regte verhouding met God geleef het, moes sulke gruwelike dinge aanhoor dat dit hom byna van sy kop af moes laat raak het. Gelukkig weet die Here hoe om almal te help wat in ’n opregte verhouding met Hom leef as hulle voor versoekings te staan kom. Hy help hulle om nie daaraan toe te gee nie. Maar die Here weet ook hoe om slegte mense te straf en hoe om hulle gevange te hou tot op die groot oordeelsdag. Dit is veral daardie mense wat agter al hulle seksuele begeertes aanloop en hulle oorgee aan elke vorm van seksuele perversiteit wat moet lig loop. Hierdie mense wys dat hulle hulle nie aan die Here se gesag steur nie. Daarom gaan Hy hulle swaar straf. Hierdie vals leraars oor wie ek met julle praat, dink heeltemal te veel van hulleself. Hulle is arrogant. Dit pla hulle nie wanneer hulle die glorieryke hemelse wesens beledig nie. Nie eens een van die engele, wat baie sterker en belangriker as daardie mense is, sal so iets waag nie. Geen engel sal ooit beledigende dinge oor hierdie wesens sê voor die Here nie.

2 PETRUS 2:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Maar daar was ook vals profete onder die volk Israel, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hulle sal dwaalleer oor God insmokkel, en selfs draai teen hulle Eienaar wat hulle gekoop het. Hulle hoop om met hulle dwaalleer alles te vernietig, maar só bring hulle ’n skielike vernietiging oor hulleself. Baie mense sal agter hulle aanloop op hulle wilde paaie, en hulle sal veroorsaak dat mense sleg praat van die enigste ware Pad. In hulle gejaag na rykdom sal hulle julle uitbuit met stories wat hulle uit die duim suig. Maar hulle vonnis, waarop God lankal besluit het, wag om uitgevoer te word. Ja, hulle vernietiging wag. Julle weet mos: God het selfs die engele nie gespaar toe hulle gesondig het nie. Hy het hulle na die onderwêreld toe gestuur en hulle in donker tronkselle laat hou vir die oordeel. Hy het ook die wêreld van lank gelede nie gespaar nie, maar slegs vir Noag en sy gesin van sewe bewaar. Noag het gepreek oor hoe mense reg voor God moet lewe en oor hoe Hy regverdig straf. Toe het God die hele wêreld vol goddelose mense met ’n vloed vernietig. Later het Hy die stede Sodom en Gomorra tot as verbrand en hulle totaal vernietig. Hy het hulle ’n voorbeeld gemaak van wat met goddelose mense gaan gebeur. En tog het God vir Lot gered, ’n man wat reg voor God gelewe het. Lot was siek en sat van die wilde leefstyl van mense wat hulle aan geen wette steur nie. ’n Mens kan jou dit indink: Vir iemand wat reg voor God gelewe het, moes dit ’n marteling wees om tussen hulle te bly en dag vir dag soveel van hulle gruweldade te aanskou en aan te hoor. Die Here weet dus om dié mense wat naby aan Hom leef, uit beproewing en swaarkry te red, maar om dié wat ’n verkeerde lewe lei, te straf en vir die oordeelsdag te bêre. Hy gaan veral húlle straf wat toegee aan die vuil begeertes van hulle natuurlike drange en wat geen respek vir gesag het nie. Hierdie leraars is uitdagend en vermetel. Hulle huiwer selfs nie om glansryke wesens te beledig nie. Selfs die engele, wat tog baie sterker en magtiger as die vals leraars is, maak nie in die Here se Naam lasterlike uitsprake teen hierdie wesens nie.