2 KORINTIËRS 1:18-20
2 KORINTIËRS 1:18-20 Bybel vir almal (ABA)
Julle weet dat God doen wat Hy belowe. So doen ons ook wat ons belowe. Wanneer ons “ja” sê, dan is dit “ja,” en wanneer ons “nee” sê, dan is dit “nee.” Julle moet onthou dat ek en Silvanus en Timoteus die boodskap oor die Seun van God, Jesus Christus, vir julle gebring het. En julle weet dat Jesus nie “ja” én “nee” is nie. Jesus is God se “ja.” Want alles wat God belowe het, het waar geword toe Christus gekom het. Daarom, wanneer ons “amen” sê, dan sê ons dat alles waar is wat ons van Christus glo. En so prys ons vir God.
2 KORINTIËRS 1:18-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
So waar as God getrou is — ons woord tot julle was nie ja en nee nie! Want die Seun van God, Jesus Christus, wat deur ons onder julle verkondig is, deur my en Silvánus en Timótheüs, was nie ja en nee nie, maar was ja in Hom. Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.
2 KORINTIËRS 1:18-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
So seker as God getrou is, ons woord aan julle was nie tegelyk “ja” en “nee” nie, want Jesus Christus, die Seun van God, wat ons, dit is ek en Silvanus en Timoteus, aan julle verkondig het, is nie “ja” en “nee” tegelyk nie. Hy is die “ja” van God, die “ja” op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop “Amen” sê.
2 KORINTIËRS 1:18-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar God is getrou – ons woorde aan julle is nie tegelyk “ja” en “nee” nie; want Jesus •Christus, die •Seun van God, wat deur ons aan julle verkondig is, deur my en Silvanus en Timoteus, was nie “ja” én “nee” nie – inteendeel, in Hom het dit “ja” geword. Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle “ja”; daarom sê ons deur Hom “•amen” aan God, tot sy eer.
2 KORINTIËRS 1:18-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar soos God waaragtig is, was ons woord aan julle nie ja en nee nie. Want die Seun van God, Jesus Christus, wat deur ons onder julle verkondig is, ook deur my en Silvanus en Timotheus, was nie ja en nee nie, maar in Hom was ja. Want al die beloftes van God in hom is ja, en in Hom Amen, tot eer van God deur ons.
2 KORINTIËRS 1:18-20 Die Boodskap (DB)
Is ek ’n regte jabroer wat die een ding sê en ’n ander ding doen? Nee, glad nie. God weet ek praat die waarheid met julle. Julle weet ook dat ek julle nie bedrieg het toe ek en Silvanus en Timoteus vroeër daar by julle gewerk het nie. Ons het mos nie die een dag een ding gesê en die volgende dag iets anders kwytgeraak nie. Ons het net met julle oor Jesus Christus, die Seun van God, gepraat. Hy is die bewys dat God getrou is. Christus sê nooit een ding en doen dan iets anders nie. Hy maak al God se beloftes in die Bybel waar. Hierop kan ons almal net “ja en amen” sê, of hoe? En wanneer ons dit doen, word God se Naam grootgemaak.
2 KORINTIËRS 1:18-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God is die betroubaarheid self. Hy weet dat ons woord teenoor julle nie “ja” en terselfdertyd “nee” is nie. Want die Seun van God, Christus Jesus, wat deur ons – dit is deur my, Silvanus en Timoteus – onder julle verkondig is, is nie terselfdertyd “ja” en “nee” nie. In Hom het God se “ja” plaasgevind, want al die baie beloftes van God in Christus Jesus is ’n volmondige “ja”. Daarom is dit ook deur Christus se toedoen dat ons, om God te verheerlik, daarop “Amen” sê.