1 SAMUEL 28:1-2
1 SAMUEL 28:1-2 Bybel vir almal (ABA)
In daardie tyd het die Filistyne hulle manne laat bymekaarkom om oorlog te maak teen die Israeliete. Akis het vir Dawid gesê: “Jy moet goed verstaan, jy en jou manne sal nou saam met my moet gaan om oorlog te maak.” Dawid het vir Akis gesê: “Ja, goed, jy sal self sien ek sal jou dien.” Akis sê toe vir Dawid: “Goed, dan moet jy my altyd oppas.”
1 SAMUEL 28:1-2 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe die Filistyne in dié dae hulle leër versamel vir oorlog om teen Israel te veg, sê Agis vir Dawid: Jy moet goed verstaan dat jy met my saam in die leër moet uittrek, jy en jou manne. Daarop sê Dawid vir Agis: Goed, u weet wel wat u dienaar moet doen. En Agis sê vir Dawid: Goed, ek sal jou vir altyd aanstel as my lyfwag.
1 SAMUEL 28:1-2 Afrikaans 1983 (AFR83)
In daardie tyd het die Filistyne hulle leërs vir die stryd begin oproep om teen Israel oorlog te maak. Akis het vir Dawid gesê: “Jy weet natuurlik dat jy en jou manne saam met my in die leër moet optrek.” En Dawid het vir Akis gesê: “Maar u weet tog wat ek nog altyd doen.” Toe sê Akis vir Dawid: “Daarom stel ek jou vir goed aan as my lyfwag.”
1 SAMUEL 28:1-2 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe die Filistyne in daardie tyd hulle leërs byeenbring vir oorlog, om teen Israel te veg, het Agis vir Dawid gesê: “Jy moet goed verstaan dat jy saam met my in die leër moet uittrek, jy en jou manne.” Dawid het Agis geantwoord: “In daardie geval sal u self agterkom wat u dienaar kan doen.” Waarop Agis toe vir Dawid sê: “Goed dan, ek stel jou aan as my permanente lyfwag.”
1 SAMUEL 28:1-2 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in dié dae het die Filistyne hulle leërs bymekaargeroep vir oorlogvoering om teen Israel te veg. Toe sê Agis vir Dawid: Weet verseker dat jy saam met my na die oorlog sal uittrek, jy en jou manne. Toe sê Dawid vir Agis: Jy sal sekerlik weet wat jou dienaar kan doen. Toe sê Agis vir Dawid: Daarom sal ek jou vir altyd as wagter oor my hoof aanstel.
1 SAMUEL 28:1-2 Die Boodskap (DB)
Toe die Filistyne in dié tyd hulle manskappe reggekry het om teen Israel oorlog te maak, het Akis vir Dawid gesê: “Jy weet natuurlik dat jy en jou manne saam met my sal moet gaan oorlog maak.” “Maar natuurlik,” het Dawid geantwoord. “U Majesteit sal self sien wat ek kan doen.” “Goed so,” het Akis gesê. “Dan is jy, so lank as wat die oorlog aanhou, my persoonlike lyfwag.”
1 SAMUEL 28:1-2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ongeveer hierdie tyd het die Filistyne hulle troepe saamgetrek vir ’n oorlog teen Israel. Akis sê vir Dawid: “Jy besef seker dat jy en jou manne saam met my oorlog toe sal moet gaan.” “Sekerlik!” sê Dawid. “Dan kan u self sien waartoe ons in staat is.” Akis sê vir hom: “Goed, ek stel jou permanent aan as my persoonlike lyfwag.”