1 PETRUS 2:9-17

1 PETRUS 2:9-17 Bybel vir almal (ABA)

Maar julle is God se volk, God het vir julle gekies, julle is die priesters oor wie Hy regeer, julle is 'n gewyde volk, sy eie volk wat vir almal moet vertel van die groot dinge wat God gedoen het. Hy het vir julle geroep om uit die donker na Hom toe te kom, na Hom wat in die wonderlike lig is. Toe was julle nie 'n volk nie, maar nou is julle God se volk. Toe was God nie goed vir julle nie, maar nou is Hy goed vir julle. Liewe vriende, julle is soos mense wat vreemdelinge is en wat nie in hulle eie huise woon nie. Daarom vra ek mooi vir julle: Julle moenie die slegte dinge wil doen wat mense graag doen nie, want daardie slegte dinge verwoes 'n mens se lewe. Julle moet goeie dinge doen terwyl julle tussen die heidene lewe. Wanneer die heidene slegte dinge sê van julle, en hulle sê julle doen verkeerd, dan moet hulle kan sien dat julle goeie dinge doen. Dan sal hulle vir God prys op die dag wanneer Hy sal kom om almal te red wat glo. Die Here wil hê dat julle gehoorsaam moet wees aan almal wat oor julle regeer. Julle moet gehoorsaam wees aan die keiser wat oor julle regeer. Julle moet ook gehoorsaam wees aan die goewerneurs, want die keiser het hulle gestuur om die mense te straf wat slegte dinge doen en om die mense te prys wat goeie dinge doen. Julle moet gehoorsaam wees, want God wil hê dat die onverstandige mense moet stilbly wanneer hulle sien dat julle goeie dinge doen. Die onverstandige mense weet nie wat God wil hê nie. Julle is vry mense, maar julle moenie dink dat julle slegte dinge mag doen omdat julle vry is nie. Nee, julle is vry mense, maar julle is ook dienaars van God. Julle moet al die mense eer, julle moet lief wees vir die mense wat in die Here glo, julle moet God eer en dien, julle moet die keiser eer.

1 PETRUS 2:9-17 Die Boodskap (DB)

Van julle is net die teenoorgestelde egter waar. God het julle in die besonder vir Hom gekies. Julle is die mense wat Hy aangestel het sodat die groot Koning, God, op ’n besondere manier en reg gedien kan word. God self het julle sy besondere mense gemaak. Julle behoort aan Hom en aan Hom alleen. Daarom moet julle die groot en goeie dinge wat Hy vir julle gedoen het, aan almal vertel. Uit die donker van julle sondes het Hy julle geroep om na die helder lig te kom waar Hy is. Voorheen was julle soos boemelaars met wie niemand iets te doen wou hê nie, maar nou is julle God se mense. Julle het voorheen nie geweet wat liefde en goedheid regtig beteken nie, maar julle het by God daardie liefde en goedheid leer ken. My liewe vriende, julle is slegs besoekers in hierdie wêreld. Eintlik kuier julle net ’n rukkie hier. Onthou dit, want daar is allerhande verkeerde dinge in die wêreld wat net wag om julle geestelike lewe heeltemal deurmekaar te krap. Oppas daarvoor. Moenie die verkeerde dinge die geringste kans in julle lewe gee nie. Tree daarom altyd reg op voor die mense wat nie aan Jesus behoort nie, al gaan hulle vreeslik te kere omdat julle kamma nie die dinge doen wat hulle verwag julle moet doen nie. Hulle sal die goeie dinge wat julle doen, nie kan miskyk nie. Wanneer God weer kom, sal hulle beslis nie anders kan nie as om te erken dat Hy die Een is wat groot en belangrik is. Moenie teen die reëls en wette van julle aardse regeerders in opstand kom nie. Gehoorsaam dit maar, want dan sal die Here nie in die skande gesteek word nie. Dit maak nie saak of die wette uit die hoogste politieke vergaderings kom of van die polisie af wat hier onder ons die kwaaddoeners moet vang en die goeie mense moet beskerm nie. Die Here het ’n plan daarmee as julle elke dag so positief leef. Deur die regte dinge te doen sal julle al die kritiek stilmaak van mense wat lelike dinge oor julle sê. Hulle weet in elk geval nie waarvan hulle praat nie. God het julle vry mense gemaak. Julle moet dit egter nie as verskoning gebruik om te leef net soos julle wil nie, reg of verkeerd. Nee, julle vryheid kan nooit van julle mense maak wat nie in alles na God luister en nie maak soos Hy wil hê nie. Behandel almal met wie julle te doen kry beleefd en gemanierd. Teenoor julle mede-Christene moet julle liefdevol en lojaal wees. Erken en eer God as die groot en magtige Heerser, maar respekteer ook die leier van julle aardse regering.

1 PETRUS 2:9-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit geld egter nie vir julle nie, want God het júlle as sy volk gekies. Julle is ’n koninkryk wat uit priesters bestaan, ’n nasie wat heeltemal in God se diens staan, ’n volk wat heeltemal God s’n is. Dít het God bewerk sodat julle vir almal kan wys hoe goed Hy is. Dit is immers Hý wat julle uit die duisternis in sy wonderlike lig ingeroep het. “Vroeër was julle nie ’n volk nie; nou is julle egter die volk van God. Vroeër het God geen ontferming aan julle bewys nie; nou hét julle egter sy ontferming.” Geliefdes, omdat julle uitlanders en bywoners is, waarsku ek julle om nie aan julle natuurlike neigings toe te gee nie. Dit verwoes net ’n mens se lewe. Handhaaf ’n voorbeeldige leefstyl onder die nie-Christene, selfs al kla hulle julle aan van wangedrag. Hulle sal dan julle goeie gedrag sien en God die eer daarvoor gee wanneer Hy kom rekenskap vra. Omdat die Here dit so wil hê, moet julle alle gesag aanvaar – die koning as staatshoof én die amptenare wat die koning benoem het. Die koning het ’n mandaat aan hulle gegee om dié wat kwaad doen, te straf, en erkenning te gee aan dié wat goeddoen. Dit is God se wil dat julle goeie gedrag die mense wat uit onkunde van julle kwaadpraat, sal stilmaak. Dis waar: Julle is nie slawe nie; julle ís vry mense. Maar moenie julle vryheid as dekmantel misbruik om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God se diensknegte te wees. Julle moet alle mense respekteer. Julle moet al die lede van die huisgesin van God liefhê. Betoon ontsag aan God. Respekteer die koning.

1 PETRUS 2:9-17

1 PETRUS 2:9-17 AFR831 PETRUS 2:9-17 AFR83