1 JOHANNES 4:1-10
1 JOHANNES 4:1-10 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, julle moenie vir almal glo wat sê dat hulle God se Gees in hulle het nie. Julle moet uitvind of hulle regtig God se Gees het, want daar is baie vals profete in die wêreld. Hoe moet julle uitvind of iemand die Gees van God het? As mense sê hulle glo dat Jesus Christus regtig 'n mens geword het, dan het hulle die Gees van God. Maar mense wat sê dat hulle dit nie glo nie, het nie die Gees van God nie. Hulle het die gees van die antichris. Julle het gehoor dat die antichris sal kom. Maar ek sê vir julle, hy is nou al klaar hier in die wêreld. Vriende, julle is kinders van God. Julle het die vals profete oorwin, want God is by julle en Hy is sterker as die Satan wat by die mense van die wêreld is. Die vals profete is mense van die wêreld. Daarom praat hulle soos die mense van die wêreld, en die mense van die wêreld doen wat die vals profete sê. Maar ons is kinders van God. Almal wat vir God ken, doen wat ons sê. Almal wat nie kinders van God is nie, doen nie wat ons sê nie. Daarom weet ons wie het 'n gees wat lieg en wie het God se Gees, die Gees van die waarheid. Vriende, ons moet lief wees vir mekaar, want liefde kom van God. Almal wat lief is vir ander mense, is kinders van God en hulle ken vir God. Mense wat nie lief is vir ander mense nie, ken nie vir God nie, want God is liefde. God het vir ons gewys hoe lief Hy vir ons is toe Hy sy Seun na die wêreld gestuur het. Niemand anders is soos sy Seun nie. Sy Seun het gekom om vir ons ware lewe te gee. Ware liefde is nie dat óns lief was vir God nie, maar dat Gód lief was vir ons en dat Hy sy Seun gestuur het. Sy Seun het gesterf, Hy was die offer wat ons sonde weggeneem het en wat ons met God versoen het.
1 JOHANNES 4:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
GELIEFDES, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld. Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is. Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle. Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling. GELIEFDES, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde. Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes.
1 JOHANNES 4:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is. Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is. Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is. Hulle behoort aan die wêreld, en wat hulle sê, is dus van die wêreld afkomstig, en die wêreld luister na hulle. Ons behoort aan God, en wie vir God ken, luister na ons; wie nie aan God behoort nie, luister nie na ons nie. Hieraan kan ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaalleer onderskei. Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.
1 JOHANNES 4:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Geliefdes, moenie elke gees glo nie, maar toets die geeste of hulle van God kom, want daar is reeds baie vals profete in die wêreld. Hieraan ken julle die Gees van God: Elke gees wat bely dat Jesus •Christus vlees geword het, is uit God, en elke gees wat dit nie van Jesus bely nie, is nie uit God nie, maar is die gees van die Antichris, van wie julle gehoor het dat hy kom, en wat nou reeds in die wêreld is. Julle, kinders, is uit God, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is. Hulle is uit die wêreld, en daarom praat hulle soos die wêreld, en luister die wêreld na hulle. Ons is uit God, en wie God ken, luister na ons. Wie nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit herken ons die gees van die waarheid en die gees van die dwaling. Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde. Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar: dat God sy unieke Seun na die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan leef. Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het, en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes.
1 JOHANNES 4:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar toets die geeste of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. Hieraan ken julle die Gees van God: Elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God. En elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die antichris waarvan julle gehoor het dat hy sou kom; en selfs nou al is dit in die wêreld. Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, want Hy wat in julle is, is groter as Hy wat in die wêreld is. Hulle is van die wêreld; daarom spreek hulle van die wêreld, en die wêreld luister na hulle. Ons is uit God; wie God ken, luister na ons; wie nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieraan ken ons die gees van waarheid en die gees van dwaling. Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want liefde is uit God; en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, ken God nie; want God is liefde. Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, omdat God sy eniggebore Seun na die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde, nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes.
1 JOHANNES 4:1-10 Die Boodskap (DB)
Liewe vriende, moenie enige persoon glo wat beweer hy sê dit of dat onder die invloed en leiding van die Gees nie. Ondersoek en toets eers hierdie “geestesuitsprake”. Kyk of die oorsprong daarvan regtig by God lê; die wêreld is vol vals profete. Ons kan die Gees van God só uitken: iemand wat nie bang is om vir seker te sê dat Jesus Christus mens van vlees en bloed geword het nie, het die Gees wat van God af kom. Daarteenoor het enigiemand wat Jesus nie erken vir wie Hy is nie, nie die Gees wat van God af kom nie. Die gees van die antichris is met hom besig. Julle het mos gehoor dat hierdie gees aan die kom is. Wel, dit is nou hier! My kinders, julle is deel van die familie van God en behoort aan Hom. Daarom staan julle heeltyd aan die wenkant teen hierdie vals profete. Die rede is eenvoudig dít: God, wat aan julle kant is, is baie groter en sterker as die een wat aan die kant van die wêreld staan! Hierdie vals profete behoort aan hierdie wêreld. Dit is waarom alles wat hulle sê so wêrelds is en die wêreld so graag na hulle luister. Ons is kinders van God. Wie ook ’n kind van God is, luister na ons. Wie egter nie ’n kind van God is nie, luister nie na ons nie. So kan ons weet wanneer ons met die Gees van waarheid te doen het en wanneer die gees van bedrog en misleiding aan die werk is. My liewe vriende, laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want liefde kom van God af. Aan liefde ken ’n mens die kinders van God uit, want hulle ken Hom goed. God is liefde! Iemand wat nie liefhet nie, weet niks van God nie. Goddelike liefde lyk só: God het sy unieke Seun na die wêreld gestuur om vir ons die ewige lewe te kom gee. Dit is dié soort liefde waarvan ek praat: dit gaan nie oor die liefde waarmee ons God liefhet nie. Nee, dit gaan oor die liefde waarmee God ons liefhet. Hierdie liefde het gemaak dat Hy sy Seun gestuur het met ’n doel: om te sorg dat al ons sondes vergewe word.
1 JOHANNES 4:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Geliefdes, moenie sommer almal glo wat daarop aanspraak maak dat hulle deur die Gees optree nie. Toets hulle om te bepaal of dié bepaalde gees sy oorsprong by God het, want daar het reeds baie vals profete die wêreld ingekom. Hieraan herken julle die Gees van God: Elkeen wat erken dat Jesus Christus werklik ten volle mens geword het, is van God afkomstig. Elkeen wat Jesus nie erken nie, is nie van God afkomstig nie. Dit is tipies van die antichris. Julle het mos gehoor dat hy aan die kom is, en hy is nou reeds in die wêreld aanwesig. Julle is egter van God afkomstig, my kinders, en julle het hulle reeds oorwin omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon. Hierdie mense het die wêreld as oorsprong; daarom praat hulle uit ’n wêreldse oogpunt en luister die wêreld na hulle. Ons is egter van God afkomstig; daarom luister dié wat God persoonlik ken, na ons. Elkeen wat nie van God afkomstig is nie, luister nie na ons nie. Dít is hoe ons weet wie die Gees van die waarheid het, en wie die gees van misleiding het. Geliefdes, laat ons mekaar aanhou liefhê, want volmaakte liefde is van God afkomstig. Elkeen wat só liefhet, is uit God gebore en ken God persoonlik. Elkeen wat nie só liefhet nie, ken God nie persoonlik nie omdat God liefde self is. Op hierdie manier het God sy volmaakte liefde aan ons bekendgemaak toe Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het sodat ons deur Hom die lewe kan ontvang. Dít is volmaakte liefde: nie dat ons vir God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun as versoeningsoffer gestuur het om ons sondes weg te neem.
