MATTEUS 27

27
Jesus word aan Pilatus uitgelewer
(Mark. 15:1; Luk. 23:1-2; Joh. 18:28-32)
1Die môre vroeg het al die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk die besluit geneem om Jesus dood te maak. 2Hulle het Hom geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus, die goewerneur, uitgelewer.
Die dood van Judas
(Hand. 1:18-19)
3Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry. Hy het die dertig silwermuntstukke teruggebring na die priesterhoofde en die familiehoofde toe 4en vir hulle gesê: “Ek het gesondig. Ek het 'n onskuldige man verraai.”
Maar hulle antwoord: “Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak!”
5Judas het toe die geld in die tempel in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang.
6Die priesterhoofde het die geld opgetel en gesê: “Dit is nie geoorloof om dit in die tempelfonds te stort nie, want dit is bloedgeld.”
7Hulle besluit toe om daarmee die grond van die pottebakker te koop as 'n begraafplaas vir vreemdelinge.
8Daardie stuk grond word tot vandag toe nog Bloedgrond genoem.
9Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het:
“En hulle het die dertig silwermuntstukke geneem, dit is die prys wat die Israeliete ooreengekom het om vir hom te betaal, 10en hulle het dit uitbetaal vir die grond van die pottebakker. So het die Here dit aan my opgedra.”
Jesus voor Pilatus
(Mark. 15:2-5; Luk. 23:3-5; Joh. 18:33-38)
11Jesus is voor die goewerneur gebring en dié vra Hom: “Is jy die koning van die Jode?”
Jesus antwoord: “Dit is soos u sê.”
12Op die beskuldigings van die priesterhoofde en die familiehoofde het Hy niks geantwoord nie.
13Toe sê Pilatus vir Hom: “Hoor jy nie waarvan hulle jou alles beskuldig nie?”
14Maar Jesus het hom op geen enkele woord 'n antwoord gegee nie, sodat die goewerneur baie verbaas was.
Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word
(Mark. 15:6-15; Luk. 23:13-25; Joh. 18:39 – 19:16)
15Die goewerneur het die gewoonte gehad om elke paasfees vir die mense een gevangene van hulle eie keuse los te laat. 16In daardie tyd was daar 'n berugte gevangene met die naam Jesus Barabbas. 17Aangesien die mense tog bymekaar was, het Pilatus hulle gevra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat: Jesus Barabbas of Jesus wat Christus genoem word?” 18Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.
19Terwyl Pilatus op die regbank sit, het sy vrou vir hom 'n boodskap gestuur: “Moet tog niks met daardie onskuldige man te doen hê nie, want ek het vannag 'n vreeslike droom oor hom gehad.”
20Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die mense oorgehaal om vir Barabbas vrylating te vra en vir Jesus die dood.
21Die goewerneur vra hulle toe: “Watter een van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat?”
“Barabbas!” antwoord hulle.
22Pilatus sê vir hulle: “Wat moet ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word?”
“Kruisig hom!” skreeu hulle almal.
23Hy vra: “Watter kwaad het hy dan gedoen?”
Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!”
24Toe Pilatus sien dit help niks nie en dat daar eerder 'n oproer kom, het hy water gevat en voor die skare sy hande gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid.”
25Toe antwoord die hele volk: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus!”
26Pilatus het Barabbas toe vir hulle losgelaat; maar Jesus het hy laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.
Die soldate bespot Jesus
(Mark. 15:16-20; Joh. 19:2-3)
27Daarna vat die soldate van die goewerneur vir Jesus in die ampswoning in en bring die hele leërafdeling rondom Hom bymekaar. 28Hulle trek toe sy klere uit en gooi Hom 'n pers mantel om. 29Hulle vleg 'n doringkroon en sit dit op sy kop en gee Hom 'n stok in sy regterhand. Toe bespot hulle Hom deur voor Hom te buig en te sê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” 30Hulle het op Hom gespoeg en die stok gevat en Hom oor die kop geslaan. 31Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.
Jesus word gekruisig
(Mark. 15:21-32; Luk. 23:26-43; Joh. 19:17-27)
32Toe hulle uitgaan, kry hulle 'n man van Sirene met die naam Simon, en hulle het hom gekommandeer om Jesus se kruis te dra. 33Hulle kom toe by 'n plek wat Golgota genoem word; dit beteken Kopbeenplek. 34Daar het hulle Hom 'n mengsel van wyn en gal gegee om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.
35Hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur te loot. 36Daarna het hulle gaan sit en by Hom wag gehou.
37Bokant sy kop het hulle die aanklag teen Hom in skrif aangegee: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” 38Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en die ander een links van Hom.
39Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud 40en gesê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!”
41Net so het die priesterhoofde saam met die skrifgeleerdes en die familiehoofde ook gespot en gesê: 42“Ander het hy gered, maar homself kan hy nie red nie. Hy is mos die koning van Israel! Laat hy nou van die kruis afkom en ons sal in hom glo. 43Hy het op God vertrou; laat God hom nou red as Hy dan behae in hom het. Hy het immers gesê hy is die Seun van God!”
44Op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom ook beledig.
Jesus sterwe
(Mark. 15:33-41; Luk. 23:44-49; Joh. 19:28-30)
45Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. 46Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?
47Party van dié wat daar gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Hy roep vir Elia.”
48Een van hulle hardloop toe gou, vat 'n spons en maak dit vol suur wyn en hou dit op 'n stok vir Hom om te drink. 49Maar die ander sê: “Wag, laat ons kyk of Elia hom kom red.”
50Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.
51Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. 52Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, 53en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het.
54Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”
55Daar was ook baie vroue wat op 'n afstand gestaan en kyk het. Dit is hulle wat vir Jesus van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg het. 56Onder hulle was Maria Magdalena, Maria die moeder van Jakobus en Josef, en die moeder van die seuns van Sebedeus.
Jesus word begrawe
(Mark. 15:42-47; Luk. 23:50-56; Joh. 19:38-42)
57Laat die middag het daar 'n ryk man aangekom. Dit was Josef van Arimatea, wat self ook 'n volgeling van Jesus was. 58Hy het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra, en Pilatus het beveel dat dit vir hom gegee moet word.
59Josef het die liggaam geneem en dit in skoon linne toegedraai 60en dit daarna neergelê in sy eie nuwe graf wat hy in die rots uitgekap het. Hy het 'n groot klip voor die ingang van die graf gerol en weggegaan. 61Maria Magdalena en die ander Maria was ook daar en het reg voor die graf gesit.
Die graf word bewaak
62Die volgende dag, die dag na die Vrydag, het die priesterhoofde en die Fariseërs by Pilatus gekom 63en vir hom gesê: “Meneer, ons onthou dat toe daardie bedrieër nog geleef het, hy gesê het: ‘Na drie dae sal ek uit die dood opgewek word.’ 64Gee dan bevel dat die graf drie dae veilig bewaak word, sodat sy dissipels hom nie dalk kom steel en vir die mense vertel: ‘Hy is uit die dood opgewek’ nie. Dan sal die tweede bedrog erger wees as die eerste.”
65Pilatus antwoord hulle: “Hier is vir julle 'n wag; gaan beveilig die graf so goed as julle kan.”
66Hulle het toe gegaan en die graf beveilig deur die klip te verseël en die wag daar te laat bly.

Tans Gekies:

MATTEUS 27: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid