LUKAS 2

2
Die geboorte van Jesus
(Matt. 1:18-25)
1In daardie tyd het keiser Augustus 'n bevel uitgevaardig dat 'n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. 2Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. 3Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe.
4Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. 5Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. 6Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. 7Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.
Die skaapwagters en die engele
8Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. 9Meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. 10Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. 11Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! 12En dit is vir julle die teken: julle sal 'n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê.”
13Skielik was daar saam met die engel 'n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê:
14“Eer aan God in die hoogste hemel,
en vrede op aarde
vir die mense in wie Hy 'n welbehae het!”
15Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.”
16Hulle gaan toe haastig daarheen en kry vir Maria en Josef, en die Kindjie wat in die krip lê. 17Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. 18Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het. 19Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink. 20Die skaapwagters het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit was alles net soos dit vir hulle gesê is.
Besnydenis, afsondering, reiniging
21Ag dae later, toe dit tyd was om die Kindjie te besny, het Hy die naam Jesus gekry, die naam wat deur die engel genoem is nog voordat Hy in die moederskoot ontvang is.
22Toe die reinigingstyd soos deur die wet van Moses bepaal, vir hulle verby was, het hulle Hom na Jerusalem toe gebring om Hom tot beskikking van die Here te stel. 23In die wet van die Here staan immers geskrywe: “Elke eersteling van die manlike geslag moet vir die Here afgesonder word.” 24Hulle het ook die reinigingsoffer gebring volgens die voorskrif in die wet van die Here, naamlik “'n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.”
Simeon en Anna by die tempel
25Daar het destyds 'n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon 26en het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. 27Deur die Gees gelei, het hy opgegaan na die tempel toe. Toe die ouers die Kindjie Jesus bring om vir Hom die gebruiklike bepaling van die wet na te kom, 28het Simeon Hom in sy arms geneem en God geprys en gesê:
29“Here, laat u dienaar nou
in vrede gaan volgens u woord,
30omdat my oë u verlossing gesien het
31wat U gereed gemaak het
voor die oë van al die volke:
32'n lig tot verligting van die nasies
en tot eer van u volk Israel.”
33Sy vader en moeder was verwonderd oor die dinge wat van Hom gesê is.
34Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word. 35So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.”
36Daar was ook 'n profetes, Anna, 'n dogter van Fanuel uit die stam Aser. Sy was al baie oud. As jong vrou was sy sewe jaar getroud, en na haar man se dood 37het sy weduwee gebly. Sy was nou al vier en tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempel af weggebly nie en het God dag en nag gedien deur te vas en te bid. 38Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank en oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het.
39Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die wet van die Here voorskryf, het hulle na Galilea toe teruggegaan, na hulle eie dorp, Nasaret. 40Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.
Die Kind Jesus by die tempel
41Jesus se ouers het elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe gegaan. 42Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle weer soos gebruiklik daarheen gegaan vir die fees. 43En toe die feesdae verby was, het sy ouers die terugreis begin, maar die Kind Jesus het in Jerusalem gebly sonder dat hulle dit geweet het. 44Omdat hulle gedink het Hy is by die reisgeselskap, het hulle 'n dag lank gereis voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het. 45Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle omgedraai na Jerusalem toe op soek na Hom. 46Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra. 47Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde. 48Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”
49Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”
50Hulle het nie begryp wat Hy daarmee bedoel het nie.
51Hy het toe saam met hulle na Nasaret toe teruggegaan, en Hy was aan hulle onderdanig. Sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.
52En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.

Tans Gekies:

LUKAS 2: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid