JOHANNES 5

5
Die genesing op die sabbatdag by Betesda
1Hierna was daar weer 'n fees van die Jode, en Jesus het daarvoor Jerusalem toe gegaan. 2By die Skaappoort in Jerusalem was daar 'n bad met die Hebreeuse naam Betesda. Dit het vyf pilaargange gehad, 3waar daar baie gestremdes gelê het: blindes, kreupeles en lammes. 5Onder hulle was daar 'n sekere man wat al ag en dertig jaar lank siek was. 6Jesus het hom sien lê en het geweet dat hy al baie lank siek was. Toe vra Hy vir hom: “Wil jy gesond word?”
7Die sieke het Hom geantwoord: “Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit as die water in beweging kom nie; en terwyl ek aansukkel, gaan iemand anders voor my in.”
8Jesus sê toe vir hom: “Staan op, tel jou goed op en loop.”
9Oombliklik het die man gesond geword, sy goed opgetel en geloop.
Dit was 'n sabbatdag. 10Die Jode sê toe vir die man wat genees is: “Dit is 'n sabbatdag; jy mag nie jou goed dra nie.”
11Maar hy antwoord hulle: “Die man wat my gesond gemaak het, het vir my gesê: Tel jou goed op en loop.”
12Hulle vra hom toe: “Wie is die man wat vir jou gesê het: Tel jou goed op en loop?”
13Die man wat gesond geword het, het egter nie geweet wie dit was nie, want Jesus het ongemerk weggegaan omdat daar 'n klomp mense op die plek was.
14Later kry Jesus hom in die tempel en sê vir hom: “Kyk, jy is nou gesond. Moet nou nie meer sonde doen nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.”
15Die man het vir die Jode gaan vertel dat dit Jesus is wat hom gesond gemaak het. 16Die Jode het toe teen Jesus te velde getrek omdat Hy dit op 'n sabbatdag gedoen het. 17Maar Jesus het Hom teen hulle verweer: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.”
Die Seun maak lewend
18Hieroor het die Jode nog des te meer probeer om Jesus dood te maak: Hy het nie net die sabbatdag ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem en Hom so met God gelyk gestel. 19Toe het Hy Hom verweer en vir hulle gesê: “Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so. 20Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy doen; en Hy sal Hom nog groter dade as hierdie wys, sodat julle verbaas sal staan. 21Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil. 22Self veroordeel die Vader niemand nie, maar die oordeel het Hy geheel en al aan die Seun oorgelaat. 23Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie.
24“Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan. 25Ek verseker julle: Daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe. 26Soos die Vader die lewe in Homself het, het Hy die lewe ook aan die Seun gegee om dit in Homself te hê. 27Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. 28Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom 'n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor 29en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.”
Die getuienis oor Jesus
30“Uit my eie kan Ek niks doen nie: Ek oordeel soos Ek dit van die Vader hoor, en my oordeel is regverdig, omdat dit nie my wil is wat Ek nastrewe nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.
31“As net Ek oor Myself getuig, is my getuienis nie geldig nie. 32Daar is ook Iemand anders wat oor My getuig, en Ek weet dat die getuienis wat Hy oor My aflê, waar is.
33“Julle het 'n afvaardiging na Johannes toe gestuur, en wat hy getuig het, is die waarheid. 34Nie dat Ek op die getuienis van 'n mens steun nie, maar Ek noem dit sodat julle gered kan word. 35Hy was die lamp wat gebrand en geskyn het, en julle was gewillig om julle 'n rukkie in sy lig te verheug.
36“Maar Ek het getuienis wat nog gewigtiger is as dié van Johannes. Die werk wat die Vader My gegee het om te voltooi en waarmee Ek nou juis besig is, lê oor My getuienis af en bevestig dat die Vader My gestuur het. 37En die Vader wat My gestuur het, het ook oor My getuienis afgelê. Sy stem het julle nog nooit gehoor nie en sy gestalte ook nie gesien nie. 38En sy woord lewe nie werklik in julle nie, omdat julle nie in die Een glo wat Hy gestuur het nie. 39Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig. 40Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.
41“Ek is nie gesteld op die eer wat mense bewys nie, 42maar Ek ken julle en Ek weet dat julle nie liefde vir God in julle het nie. 43Ek het in die Naam van my Vader gekom, en tog aanvaar julle My nie. As iemand anders in sy eie naam kom, sal julle hom aanvaar. 44Hoe kan julle ook in My glo terwyl julle gesteld is op die eer wat julle van mekaar ontvang en nie die eer soek wat van die enigste God af kom nie? 45Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal aankla nie; dit is Moses, op wie julle julle hoop gevestig het, wat vir julle aankla. 46As julle Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want hy het van My geskrywe. 47Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?”

Tans Gekies:

JOHANNES 5: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid