JESAJA 54

54
My liefde vir jou sal nooit verdwyn nie
1Jubel, onvrugbare vrou,
jy wat geen kinders
in die wêreld gebring het nie,
jubel en juig,
jy wat geen geboortepyne geken het nie,
want jy, verstote vrou, gaan nou meer kinders hê
as een wat getroud is, sê die Here.
2Maak groter die plek vir jou tent,
maak breër jou tentdoeke,
moenie suinig daarmee werk nie.
Maak langer die tentlyne
en slaan die tentpenne dieper in,
3want jy sal na alle kante toe uitbrei;
jou nageslag sal nasies verdryf
en in die stede wat nou verwoes is, gaan woon.
4Moenie bang wees nie,
jy sal nie weer in die skande kom nie,
moenie so verleë daar staan nie,
jy sal nie weer verneder word nie.
Jy sal die skande uit jou jong dae vergeet
en nie meer dink hoe jy verneder is
toe jy 'n weduwee was nie.
5Hy wat jou gemaak het, is jou man,
sy Naam is die Here die Almagtige.
Die Heilige van Israel is jou Verlosser;
Hy word die God van die hele wêreld genoem.
6Jy is 'n verstote en bitter bedroefde vrou,
maar die Here roep jou terug,
want hoe kan 'n man sy eie vrou vergeet? sê jou God.
7Net 'n oomblik het Ek jou verstoot,
in my groot liefde vat Ek jou terug.
8In 'n opwelling van toorn
wou Ek 'n kort tydjie niks met jou te doen hê nie,
maar Ek ontferm My oor jou
met 'n liefde wat nooit vergaan nie,
sê die Here, jou Verlosser.
9Soos met die waters van Noag is dit vir My:
soos Ek met 'n eed bevestig het dat die waters van Noag
nie weer die aarde sal oorstroom nie,
so bevestig Ek met 'n eed
dat Ek nie langer toornig op jou sal wees en jou sal straf nie.
10Berge kan padgee, heuwels kan wankel,
maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie,
my vredeverbond met jou sal nooit wankel nie,
sê die Here, wat jou liefhet.
11Jy, verdrukte, bedreigde stad
vir wie daar nie uitkoms was nie,
Ek sal jou klippe vasmessel met goeie klei,
Ek maak jou fondamente van saffiersteen.
12Ek maak jou torings van robyne
en jou poorte van smarag,
jou hele stadsmuur van kosbare klip.
13Al jou inwoners sal leerlinge van die Here wees,
en hulle sal altyd vrede geniet.
14Geregtigheid sal in jou heers.
Jy hoef nie bang te wees vir verdrukking nie,
ook nie vir verskrikking nie,
want dit sal nie naby jou kom nie.
15As iemand jou aanval, het Ek hom nie gestuur nie;
wie jou aanval, sal die onderspit teen jou delf.
16Dit is Ek wat die ambagsman geskep het,
die ambagsman wat die vuur aanblaas
en allerhande wapens daarin smee.
Dit is Ek wat die verwoester geskep het om af te breek.
17Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val,
sal iets uitrig nie;
elkeen wat vals teen jou getuig,
sal gestraf word.
Dit is hoe Ek, die Here,
vir my dienaars sorg.
Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.

Tans Gekies:

JESAJA 54: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid