GENESIS 3:10-24

GENESIS 3:10-24 AFR83

En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.” Die Here God vra toe: “Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?” Die mens het geantwoord: “Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet.” Toe vra die Here God vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” en sy sê: “Die slang het my mislei, en ek het geëet.” En die Here God sê vir die slang: “Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die diere. Op jou maag sal jy seil en stof sal jy eet, jou lewe lank. Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.” Vir die vrou het die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring. Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.” Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, “is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit 'n bestaan maak, jou lewe lank; die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.” Die mens het sy vrou Eva genoem; sy was die moeder van al die mense. Daarna het die Here God vir die mens en sy vrou velklere gemaak, en hulle dit aangetrek. Toe het die Here God gesê: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hy alles kan ken. As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!” Daarom het die Here God die mens weggestuur uit die tuin van Eden uit om die aarde te gaan bewerk, die aarde waaruit hy gemaak is. Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook 'n vlammende swaard wat heen en weer beweeg.
AFR83: Afrikaans 1983
Deel

Gratis Leesplanne en Oordenkings oor GENESIS 3:10-24