HANDELINGE 7
AFR83
7
Stefanus se toespraak
1Die hoëpriester vra toe vir Stefanus: “Is dit waar?”
2Toe sê Stefanus: “Broers en vaders, luister na my! God, aan wie al die eer toekom, het aan ons voorvader Abraham verskyn toe hy nog in Mesopotamië was, voordat hy in Haran gaan woon het. 3God het vir hom gesê: ‘Trek uit jou vaderland uit, weg van jou familie af, en gaan na die land toe wat Ek vir jou sal wys.’#Vgl. Gen. 12:1 4Abraham het toe die land van die Galdeërs verlaat en in Haran gaan woon. Ná sy pa se dood het God hom daarvandaan laat trek na hierdie land toe waarin julle vandag woon. 5God het hom geen eiendom in hierdie land gegee nie, selfs nie 'n handbreedte daarvan nie. Maar Hy het wel belowe om dit as besitting vir hom te gee, en ná hom vir sy nageslag, alhoewel hy nog nie 'n kind gehad het nie. 6God het só gesê: ‘Sy nageslag sal bywoners wees in 'n land wat aan ander behoort. Daar sal hulle slawe wees en vier honderd jaar lank baie swaar kry. 7Maar Ek sal die nasie straf wat hulle as slawe aanhou.’#Vgl. Gen. 15:13-14 Verder het God gesê: ‘Daarna sal hulle wegtrek en My op hierdie plek dien.’#Vgl. Eks. 3:12 8God het met Abraham 'n verbond gesluit waarvan die besnydenis die teken is. So het dit gekom dat Abraham sy seun Isak op die agste dag na sy geboorte besny het. Isak het dieselfde gedoen met Jakob, en Jakob met die twaalf stamvaders.
9“Uit jaloesie het die stamvaders vir Josef as slaaf verkoop, en so is hy Egipte toe. Maar God was by hom 10en het hom uit al sy ellende gered. God het aan Josef wysheid gegee, sodat hy in die guns van die farao, die koning van Egipte, gekom het. Die farao het hom as onderkoning van Egipte en as hoof van sy hele koninklike hof aangestel. 11Later het daar hongersnood in die hele Egipte en ook in Kanaän gekom. Die nood was hoog, en ook ons voorouers kon nie kos in die hande kry nie. 12Toe Jakob hoor dat daar kos in Egipte is, het hy ons voorvaders op hulle eerste reis daarheen gestuur. 13Op hulle tweede reis het Josef hom aan sy broers bekend gemaak. Toe het die farao ook van Josef se familie te hore gekom. 14Josef het vir Jakob, sy pa, en die hele familie laat haal, vyf en sewentig mense altesaam. 15Jakob het na Egipte toe gegaan en daar het hy en ons voorvaders gesterwe. 16Hulle liggame is na Sigem toe gebring en begrawe in die graf wat Abraham vir 'n som geld daar in Sigem by die nakomelinge van Hemor gekoop het.
17“Teen die tyd dat God die belofte wat Hy aan Abraham gegee het, sou uitvoer, het die volk in Egipte reeds tot 'n groot getal aangegroei. 18'n Nuwe koning, wat nie vir Josef geken het nie, het egter in Egipte aan die bewind gekom, 19en hy het 'n slim plan teen ons mense beraam en ons voorouers wreed behandel. Hy het hulle verplig om hulle babatjies buite aan hulle lot oor te laat, sodat hulle nie aan die lewe sou bly nie. 20In dié tyd is Moses gebore, en hy was baie mooi. Drie maande lank is hy in sy ouerhuis versorg, 21en daarna is hy buite aan sy lot oorgelaat. Daar het die farao se dogter hom gekry, en sy het hom as haar eie seun grootgemaak. 22Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en hy het uitgeblink in woord en daad.
23“Op veertigjarige leeftyd het die verlange by hom opgekom om te gaan kyk hoe dit met sy mense, die volk Israel, gaan. 24Toe hy sien dat een van hulle deur 'n Egiptenaar mishandel word, het hy die slagoffer gaan help en die misdaad gewreek deur die Egiptenaar dood te slaan. 25Hy het gemeen sy mense sou begryp dat God hom wou gebruik om hulle te red, maar hulle het dit nie verstaan nie. 26Toe hy die volgende dag op twee Israeliete afkom wat baklei, wou hy vrede maak en hy sê: ‘Mense, julle is tog broers! Hoekom baklei julle dan met mekaar?’ 27Maar die een wat met die bakleiery begin het, stamp vir Moses opsy en sê: ‘Wie het jou as ons leier en as regter oor ons aangestel? 28Wil jy my ook doodslaan, soos jy gister die Egiptenaar doodgeslaan het?’#Vgl. Eks. 2:13-14 29Toe Moses dit hoor, het hy gevlug en 'n bywoner in Midian geword. Dáár is vir hom twee seuns gebore.
30“Veertig jaar later het 'n engel eendag in die woestyn by Sinaiberg in die vlamme van 'n brandende doringbos aan Moses verskyn. 31Moses was baie verbaas oor wat hy sien, en toe hy nader gaan om te kyk wat dit is, hoor hy die stem van die Here: 32‘Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob.’#Eks. 3:6 Moses het gebewe en dit nie gewaag om te kyk nie. 33En die Here sê vir hom: ‘Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond. 34Die mishandeling van my volk in Egipte het Ek gesien, en hulle gekerm het Ek gehoor. Daarom het Ek gekom om hulle te red. Kom nou nader; Ek wil jou na Egipte toe stuur.’#Vgl. Eks. 3:5,7-8,10
35“Dit is dieselfde Moses vir wie die Israeliete nie wou aanvaar nie en vir wie hulle gesê het: ‘Wie het jou as leier en regter aangestel?’#Vgl. Eks. 2:14 Tog het God juis vir Moses as leier en redder na hulle toe gestuur deur die engel wat in die doringbos aan hom verskyn het. 36So het dit gekom dat Moses hulle uitgelei het. Veertig jaar lank het hy tekens en wonders in Egipte, by die Rooisee en in die woestyn gedoen. 37Dit is dieselfde Moses wat vir die volk Israel gesê het: ‘God sal uit julle eie geledere vir julle 'n Profeet soos ek laat voortkom.’#Vgl. Deut. 18:15
38“Dit is hy wat, toe die volk daar in die woestyn bymekaar was, die skakel was tussen ons voorvaders en die engel wat met hom op Sinaiberg gepraat het. Hy het die lewende woorde ontvang om aan ons mee te deel. 39Ons voorvaders wou egter nie na hom luister nie. Hulle het hom verontagsaam en na Egipte terug verlang. 40Toe het hulle vir Aäron gesê: ‘Maak vir ons gode wat voor ons uit kan trek, want hierdie Moses wat ons uit Egipte uitgelei het – ons weet nie wat van hom geword het nie.’#Vgl. Eks. 32:1,23 41Die gevolg was dat hulle destyds 'n afgodsbeeld gemaak het in die vorm van 'n kalf en daaraan offers gebring het en feesgevier het tot eer van hulle eie handewerk. 42Maar God het Hom van hulle afgewend en hulle laat begaan om die sterre te aanbid, soos daar geskrywe staan in die boek van die profete:
“Was dit vir My, Israel,
dat julle brandoffers en
ander diereoffers gebring het
gedurende die veertig jaar in die woestyn?
43Nee! Julle het die tent van Molek saamgeneem
en die ster van julle god Refan.
Julle het hierdie beelde gemaak om te aanbid.
Daarom sal Ek julle tot anderkant Babilon wegstuur.#Vgl. Am. 5:25-27
44“Ons voorvaders het die tent met die getuienis by hulle in die woestyn gehad. Moses het dit op bevel van God gemaak volgens die voorbeeld wat hy gesien het. 45Die volgende geslag het die tent ontvang en dit saamgeneem toe hulle onder leiding van Josua die land in besit geneem het waaruit God die inwoners voor ons voorvaders uit verdrywe het. Dit het daar gebly tot die tyd van Dawid. 46God was vir hom goed, en Dawid het gevra om toegelaat te word om vir God 'n tempel te bou vir gebruik deur die nageslag van Jakob. 47Maar dit was Salomo wat die tempel gebou het. 48God, die Allerhoogste, woon egter nie in geboue wat deur mense gemaak is nie. Soos die profeet dit stel:
49“Die hemel is my troon
en die aarde die rusplek vir my voete, sê die Here.
Watter soort huis sal julle tog vir My bou
of watter plek as my rusplek?
50Het Ek nie self al hierdie dinge gemaak nie?#Vgl. Jes. 66:1-2
51“Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Soos julle voorvaders gemaak het, maak julle ook. 52Was daar ooit 'n profeet wat nie deur julle voorvaders vervolg is nie? Hulle het God se boodskappers doodgemaak wat lank tevore die koms van die Regverdige aangekondig het. Nou het julle self die Regverdige verraai en vermoor. 53Julle is die mense wat deur bemiddeling van engele die wet van God ontvang het, en tog het julle dit nie gehoorsaam nie.”
Stefanus word gestenig
54Toe die lede van die Joodse Raad dit hoor, het hulle van woede op hulle tande gekners. 55Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan.
56“Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.”
57Toe het hulle hard geskreeu en hulle ore toegedruk. Soos een man het hulle op hom afgestorm, 58hom uit die stad uitgesleep en gestenig. Die getuies het hulle klere neergesit by 'n jongman met die naam Saulus. 59Terwyl hulle vir Stefanus stenig, het hy geroep: “Here Jesus, ontvang my gees!”
60Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!”
Met hierdie woorde het hy gesterwe.

Verskaf met die komplimente van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. © Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Ondersteun ons en word ‘n saaier van hoop.

Vind meer uit oorAfrikaans 1983