Parallel
2
Die uitstorting van die Heilige Gees
1Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.
5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het 'n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? 9Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, 11Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”
12Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?”
13Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”
Petrus se toespraak op die pinksterdag
14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. 16Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het:
17“Só sal dit in die laaste dae wees, sê God:
Ek sal my Gees uitstort op alle mense:
julle seuns en julle dogters sal as profete optree;
julle jongmense sal gesigte sien;
julle oumense sal drome droom.
18Ja, op my dienaars en my dienaresse
sal Ek in daardie dae my Gees uitstort,
en hulle sal as profete optree.
19Ek sal tekens bo in die lug
en wonders onder op die aarde gee:
bloed en vuur en rookwolke.
20Die son sal pikdonker word
en die maan bloedrooi
voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom.
21So sal dit dan wees:
elkeen wat die Naam van die Here aanroep,
sal gered word.#Vgl. Joël 2:28-32
22“Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self. 23God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. 24Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou. 25Van Hom sê Dawid:
“Ek het die Here altyd voor oë.
Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie.
26Daarom is my hart bly en my tong jubel,
ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe,
27want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie;
U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.
28U het my die paaie van die lewe geleer;
u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.#Vgl. Ps. 16:8-11
29“Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons. 30Maar hy was 'n profeet en hy het geweet dat God met 'n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. 31Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê:
“Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie,
en sy liggaam het nie vergaan nie.#Vgl. Ps. 16:10
32“God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. 33Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor. 34Dawid het nie na die hemel toe opgevaar nie, en tog sê hy:
“Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand
35totdat Ek jou vyande
aan jou onderwerp het.#Vgl. Ps. 110:1
36“Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”
Die eerste bekeerdes
37By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?”
38Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. 39Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.”
40Met nog baie ander woorde het Petrus getuig en hulle aangespoor: “Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit.”
41Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. 42Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.
Die eerste gemeente
43Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.