Nadat die slaaf vooruitgeloop het, het Samuel 'n kruik olie gevat en dit oor Saul se kop uitgegiet, hom gesoen en gesê: “Die Here het jou tot regeerder oor sy besitting gesalf. Wanneer jy vandag van my af weggaan, sal jy by Selsag, by die graf van Ragel op die grens van Benjamin, twee mans teëkom en hulle sal vir jou sê: ‘Die donkies wat jy gaan soek het, is gekry. Maar kyk, jou pa het die saak van die donkies al laat vaar. Hy is bekommerd oor julle en vra: Wat kan ek omtrent my seun doen?’ “En wanneer jy daarvandaan verder gaan, sal jy by Elon-Tabor kom. Daar sal jy drie mans teëkom wat na God in Bet-El opgaan. Die een sal drie bokkies dra, die ander een drie ringbrode en die derde 'n kruik wyn. Hulle sal vra hoe dit met jou gaan. Dan sal hulle jou twee brode gee, en jy moet dit van hulle aanneem. Daarna sal jy uitkom by Gibea-van-God waar wagposte van die Filistyne is. Wanneer jy die stad binnekom, sal jy op 'n groep profete afkom. Hulle sal van die hoogte af gaan onder begeleiding van harpe, tamboeryne, fluite en liere, en hulle sal as profete optree. “Dan sal die Gees van die Here kragtig in jou werk. Jy sal saam met hulle as profeet optree en 'n ander mens word. Wanneer hierdie tekens oor jou kom, moet jy doen wat jou hand vind om te doen, want God is by jou. Daarna moet jy voor my na Gilgal toe gaan en ek sal later kom om brandoffers te offer en maaltydoffers te bring. Jy moet sewe dae wag tot ek by jou kom. Dan sal ek jou sê wat jy moet doen.” Net toe hy omdraai om van Samuel af weg te gaan, het God Saul se gesindheid verander. Al hierdie tekens het op dié dag uitgekom. Hulle het daar in Gibea gekom, en toe hy weer sien, kom 'n groep profete hom tegemoet. Die Gees van God het kragtig in hom gewerk, en hy het saam met hulle as profeet opgetree. Almal wat hom voorheen geken het en nou gesien het hoe hy saam met die profete as profeet optree, het vir mekaar gevra: “Wat het met Kis se seun gebeur? Is Saul ook onder die profete?” En iemand uit die omgewing het bygevoeg: “En waarvandaan kom hulle nogal?” Daarom het dit 'n spreekwoord geword: Is Saul ook onder die profete? Toe hy klaar as profeet opgetree het, het hy na die hoogte toe gegaan. Saul se oom het vir hom en sy slaaf gevra: “Waarheen was julle?” Saul het geantwoord: “Ons het die donkies gaan soek, maar ons het niks gesien nie en het toe na Samuel toe gegaan.” Saul se oom sê toe: “Vertel my tog wat Samuel vir julle gesê het.” “Hy het ons verseker dat die donkies gekry is,” het Saul vir sy oom gesê. Maar oor die saak van die koningskap wat Samuel genoem het, het Saul niks gesê nie. Daarna het Samuel die volk by Mispa na die Here toe geroep.
Lees 1 SAMUEL 10
Deel
Vergelyk alle weergawes: 1 SAMUEL 10:1-17
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's