Filippense 2

2
Volg Jesus se voorbeeld
1As julle Christenskap vir julle enigiets beteken; as julle liefde vir mekaar julle deur moeilike tye gedra het; as die teenwoordigheid van die Gees enige verskil in julle lewe gemaak het; as julle weet wat dit beteken om iets vir mekaar te voel, ja, om vir mekaar om te gee, wil ek julle ’n groot guns vra.
2Moenie gedurig met mekaar stry en baklei nie. Konsentreer liewer op die dinge waaroor julle saamstem. Wees lojaal teenoor mekaar. Voel saam, streef saam, doen saam. As julle dit doen, sal julle my regtig baie bly maak. 3Moenie net aan julleself dink of heeltyd aandag soek nie. Wees liewer maar die minste sodat ander die meeste kan wees. 4Niemand moet net aan homself dink nie. Elkeen moet ook aan die ander om hom dink.
5Julle moet Christus Jesus se voorbeeld volg. Soos Hy oor dinge gedink en gevoel het, so moet julle ook daaroor dink en voel. Laat ek verduidelik wat ek bedoel.
Jesus het gely, maar is ook deur God vereer
6Jesus staan in status op gelyke voet met God. Hy was egter nie so vol van Homself dat Hy tot elke prys aan dié status wou vasklou nie. 7Toe die tyd ryp was, het Hy die status en eer wat Hy gehad het eenkant toe geskuif. Hy het ’n mens tussen mense geword. Asof dit nie genoeg was nie, het Hy sommer ’n gewone mens geword wat op die oog af nie uitsonderlik gelyk het nie, ja, iemand van wie baie ander mense niks gedink het nie. 8As mens onder mense het Hy die pad van vernedering nog verder geloop. Dit sou Hom uiteindelik by die dood aan die kruis uitbring. Wat ’n vernedering! God het dit egter van Hom gevra en Hy het die pad van vernedering gehoorsaam enduit geloop.
9Maar God het Hom uit die diepte van vernedering gehaal en Hom die hoogste eer gegee wat God iemand kan gee. Nou is niks en niemand belangriker as Hy nie en niks en niemand kan ook belangriker as Hy wees nie. God self het so besluit. 10Net mooi almal sal voor die grote Christus moet buig, maak nie saak wie hulle is of waar hulle vandaan kom nie. Selfs dié wat lankal dood is, sal voor Jesus moet buig. 11Hulle almal sal met oortuiging vir mekaar sê: “Jesus Christus is die Here.” So sal almal ook besef hoe groot en belangrik God die Vader is.
God moet trots wees op julle -
gee Hom rede om te wees
12My liewe broers en susters, dit wat ek nou net gesê het, is belangrik. Toe ek by julle was, het julle altyd gedoen wat ek gevra het. Hoeveel te meer moet julle dit doen noudat ek nie meer daar by julle is nie! Onthou, God hou julle dop.
Doen daarom alles wat julle kan om te lewe soos mense wat aan God behoort. God self is by julle lewe betrokke.
13Hy is met julle besig as julle voel julle wil iets doen wat Hom gelukkig sal maak, en as julle dit uiteindelik doen, is Hy steeds by julle. Ja, dit is Hy wat so in julle werk.
14Doen alles sonder om te kla of te stry. 15Dan sal niemand julle kan beskuldig van agterbaksheid of verkeerde motiewe nie. Niemand sal oor julle as kinders van God kan kla nie - al bly julle tussen mense wat korrup en sonder gewete is. 16Juis tussen hulle moet julle soos helder ligte in ’n donker wêreld skyn. Vir hierdie mense in die geestelike donker moet julle van Christus vertel sodat hulle ook die ware lewe kan kry. Hoe trots sal ek dan nie op julle wees wanneer Christus weer kom nie! Dit sal wys dat ek nie alles verniet gedoen en my tyd gemors het nie. 17Selfs al word ek nou doodgemaak, sal dit my ook nie pla nie, want ek het dan iets om vir God te gee. My dood kan só selfs vir julle help om God nog beter te dien. 18Dit sal my baie bly maak, soos ook vir julle. Julle moet bly wees saam met my. Ja, my vreugde moet julle s’n wees en julle s’n myne.
Timoteus gaan vir julle kom kuier
19Ek hoop om Timoteus gou na julle toe te stuur, want dit is wat die Here Jesus wil hê. 20Ek kan aan niemand anders dink wat soveel vir julle omgee as hy nie. 21Al die ander is so besig met hulle eie dinge dat wat Jesus Christus wil hê vir hulle van minder belang is. 22Boonop ken julle Timoteus en weet wat daar in hom steek. Hy het die toets mos deeglik deurstaan. Soos ’n seun skouer aan skouer saam met sy pa werk, so het hy hom afgesloof om saam met my die mense van Jesus Christus te vertel. Ek moet erken dat ek ook baie bly sal wees om te hoor hoe dit met julle gaan. 23Nou ja, sodra die dinge hier afgehandel is en ek weet wat die toekoms vir my inhou, beplan ek om hom na julle toe te stuur. 24En ek hoop en bid dat die Here my sal toelaat om sommer kort op sy hakke na julle toe te kom.
25Ek dink ook die tyd het gekom om Epafroditos na julle toe terug te stuur. Hy het saam met my geswoeg en gesweet. Julle het hom mos na my toe gestuur om my te help. Nou stuur ek hom na julle toe terug. 26Hy verlang baie na julle. 27Dit het hom ook gepla dat julle van sy siekte gehoor het. Glo my, hy was baie siek. Hy het by die dood omgedraai. Maar God het nie van hom vergeet nie en hom gesond gemaak. God was nie net vir hom goed nie, maar ook vir my. As hy gesterf het, sou die hartseer vir my byna te veel gewees het. 28Ek sal hom so gou moontlik na julle toe terugstuur. Ek kan my nogal voorstel hoe bly julle gaan wees wanneer julle hom weer in lewende lywe sien. Vir my sal dit ook goed wees, want dan hoef ek my nie meer oor hom te bekommer nie. 29Gee hom ’n verwelkoming wat hy nie sommer sal vergeet nie, soos net ons Christene dit kan doen. Mense soos hy verdien dit. 30Hy was nie bang om selfs sy lewe te waag om alles vir Jesus te doen wat hy kon nie. Hy was amper dood, en dit om vir my te doen wat julle nie kon nie omdat julle so ver is.

Tans Gekies:

Filippense 2: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid