Markus 7

7
Onreinheid kom van binne af
1’n Klomp baie belangrike Jode uit Jerusalem kom toe na Jesus toe. Party van hulle was deel van die streng godsdienstige groep van die Fariseërs en daar was ook ’n paar wie se werk dit was om te sê hoe ’n mens die Skrif en veral die wet moes verstaan. 2Hulle het Jesus en sy volgelinge fyn dopgehou. Hulle sien toe dat ’n paar van sy volgelinge kos eet sonder om hulle hande te was, wat ingedruis het teen die wet van die Jode. 3(Daar was baie streng Joodse wette wat ’n mens moes volg om jouself rein en reg te kry om te eet. Die Jode sou nie eet voor hulle eers hulle hande gewas het nie. Hulle het dit van die ou tyd af so gedoen.
4Byvoorbeeld, as hulle van die winkel af kom, sal hulle niks eet voordat hulle eers hulle hande op ’n spesifieke manier gewas het nie. En dit is nie al nie. Daar is hope sulke gebruike, soos om jou koppies, bekers, panne en selfs stoele op die voorgeskrewe manier te was.) 5Juis daarom vra die besoekers uit Jerusalem toe vir Jesus: “Vir wat doen jou volgelinge nie wat ons mense nog al die jare doen nie? Hoekom was hulle nie hulle hande voor hulle eet nie? Nou eet hulle met hande wat nie voor God skoon is nie.”
6Jesus sê toe: “Jesaja was reg toe hy gesê het wat God van ’n klomp skynheilige mense soos julle dink. Daar staan geskryf:
‘God sê: Hierdie mense sê al die regte dinge voor God, maar hulle dien Hom nie uit hulle hart nie. 7Hulle gebruik mooi godsdienstige woorde asof dit God is wat so sê, maar dit is ’n klomp reëls wat hulle sommer self uitgedink het.’
8“Julle steur julle nie meer aan wat God van julle vra nie. Julle stel net belang in wat julle tradisies en voorouers sê.
9“Julle is goed daarmee om God se wil eenkant toe te skuif en julle eie tradisies in die plek daarvan te sit. 10Moses het mos gesê: ‘Respekteer jou pa en ma’ en ‘as iemand sy pa of ma slegmaak en verneder, moet hy doodgemaak word.’ 11Maar kyk wat het julle met Moses se woorde gemaak. Julle sê dat iemand vir sy ouers kan sê: ‘Jammer, ek het niks om vir julle te gee nie en ek kan julle ook nie help as julle hulp nodig het nie, want ek het al my goed vir die Here opsy gesit.’ 12Dan hoef hy niks meer met sy ouers te doen te hê of vir hulle te sorg nie. 13Wat God wil hê, word dus eenkant toe geskuif. Julle steur julle nie daaraan nie, maar dwing julle eie menslike tradisies op almal af en forseer hulle weer om dit vir hulle kinders te leer. En Ek kan nog baie ander sulke voorbeelde vir julle opnoem.”
14Toe draai Jesus na al die ander mense toe wat daar gesit het. “Luister nou mooi na My, want Ek wil nie hê julle moet My misverstaan nie.
15“Dit is nie wat julle eet en so in julle liggaam inneem wat julle onrein maak in God se oë nie. Nee, dit is wat by jou mond uitgaan wat jou vir God onrein maak.”
17Jesus gaan toe saam met sy paar getrouste volgelinge in die huis in. Nuuskierig vra hulle Hom toe wat Hy bedoel het. 18Jesus sê toe: “Sjoe, verstaan julle so min van wat Ek gesê het? 19Weet julle nie dat die kos wat ’n mens eet in jou maag beland en later weer uitgeskei word nie? Dit raak jou nie regtig hier diep binne-in nie en daarom maak dit nie dat God jou nie wil hê nie. (Dit beteken dat Jesus eintlik ook gesê het dat geen kos ’n mens vir God onrein en so onaanvaarbaar kan maak nie.) 20Wat egter diep uit ’n mens se hart kom, maak die verskil en kan maak dat God niks daarvan hou nie. 21Want dit is van binne af, uit wat ’n mens begeer, dat vuil gedagtes groei, soos om ander se goed te vat of jou seksueel sleg te gedra. Laat Ek ’n lysie maak. Ek praat van dinge soos moord, om 22ontrou te wees in die huwelik, om meer te begeer as wat jy het, om mense kwaad te wil aandoen en allerhande skelmstreke te beplan, om nie om te gee wat jy doen nie, of dit nou reg of verkeerd is, om jaloers te wees op ander mense, om lelik met en van ander te praat, om te veel van jouself te dink en nie jou plek te ken nie en om sommer net ligsinnig te wees. 23Al hierdie dinge kom uit die binnekant van die mens - dít is dinge waarvan God nie hou nie en dit maak mense voor Hom onrein en onaanvaarbaar.”
Geloof kry die onmoontlike reg
24Van daar af is Jesus na die omgewing van Tirus toe. Hy het stilletjies by ’n huis ingegaan in die hoop dat niemand sou agterkom dit is Hy nie. Maar die plan het nie gewerk nie, want die nuus het vinnig versprei dat Hy daar is. 25Sonder om ’n oomblik te wag het ’n vrou met haar dogtertjie wat deur ’n bose gees gepla is na Hom toe gekom. 26(Sy was ’n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is.) Sy val toe voor Hom neer en smeek Hom om die bose gees uit haar dogter te verjaag.
27Jesus antwoord haar toe: “Wag jou beurt af. Dit is mos nie mooi om die geestelike kos uit Israel se mond te vat en dit vir onrein mense te gee wat nie deel van die verbondsvolk van God is nie.”
28“Ag, dit is waar, Here,” kom die antwoord, “maar onrein mense sal tevrede wees met die stukkies kos van genade wat van die volk van God se tafel afval.”
29“Dit is ’n goeie antwoord,” sê Jesus. “Gaan maar huis toe, want die demoon is nie meer in jou dogter nie.”
30Toe sy by die huis kom, kry sy haar dogter op die bed. Die demoon was weg.
31Van die gebied van Tirus af is Jesus verby die See van Galilea na die gebied wat Tien Stede genoem word. Hy het die pad deur Sidon gevat. 32Daar gekom, bring hulle ’n man na Jesus toe wat nie kon hoor nie en baie swaar gepraat het. Hulle vra toe vir Jesus om sy hand op die man te sit en hom gesond te maak.
33Jesus vat toe die man eenkant toe, weg van al die mense af. Hy druk sy vingers in die man se ore en raak met ’n bietjie spoeg op sy vinger aan die man se tong.
34Jesus kyk toe op hemel toe en met ’n diep sug sê Hy vir die man: “Effata.” (Dit beteken: “Gaan oop.”) 35Dadelik kon die man hoor en normaal praat. 36Jesus vra hulle toe mooi om nie vir enigiemand daarvan te vertel nie. Maar dit het nie veel gehelp nie. 37Die mense kon eenvoudig nie oor al hierdie wonderlike dinge stilbly nie. “Alles wat Hy doen, is eenvoudig goed. Hy laat mense hoor wat doof was en mense wat nie kon praat nie, praat nou normaal.”

Tans Gekies:

Markus 7: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid