Lukas 8
DB
8
Vroue wie se beursies oop is vir Jesus
1Jesus het daarna deur al die dorpe en klein plekkies gestap waar mense gebly het, en vir hulle die goeie nuus vertel dat God se nuwe wêreld hier is. Die twaalf dissipels het oral saam met Hom gegaan. 2’n Klompie vroue wat deur Jesus van bose geeste vrygemaak is en ’n paar ander wat deur Hom gesond gemaak is, het ook saam met hulle van plek tot plek gestap. Een van hierdie vroue se naam was Maria. (Sy is ook Magdalena genoem omdat sy van die dorp Magdala afkomstig was.) Jesus het sewe duiwels uit haar verdryf. 3Johanna, die vrou van Gusa, een van die belangrike amptenare in Herodes se paleis, was ook onder hulle. So ook Susanna en ’n klompie ander vroue. Met hulle eie geld het hierdie vroue vir Jesus en sy dissipels kos gekoop en ook gesorg dat hulle slaapplek het.
’n Verhaal van ’n saaier
4’n Groot klomp mense het van oral af na Jesus toe gestroom. Hy het toe vir hulle die volgende verhaal vertel: 5“Eendag was daar ’n boer wat saad in sy land gaan saai het. Hy het die saad oor die grond uitgestrooi. ’n Deel van die saad het toe op die voetpad beland wat deur die land loop. Dit is deur mense stukkend getrap. Die voëls het toe haastig daarop toegesak en alles opgeëet. 6Van die ander saad het op die groot klippe in die land geval. In die holtes van hierdie klippe was daar ’n bietjie grond. Die saad wat hier beland het, het vinnig opgekom, maar die plantjies kon nie behoorlik wortelskiet in die vlak grond nie. Daarom het die son hulle gou doodgebrand. 7Van die ander saad wat die boer gesaai het, het tussen die doringbosse beland wat in die land gegroei het. Soos die doringbosse groter geword het, het dit die plantjies heeltemal doodgedruk. 8Dan het daar ook saad in die land self geval waar die grond goed voorberei was. Dit het goed gegroei en ’n groot oes gegee wat die boer se stoutste verwagtings oortref het.
“Julle moet julle ore oopmaak en luister na wat Ek vir julle sê,” sê Jesus toe vir die mense.
9Toe vra sy dissipels Hom: “Wat beteken hierdie verhaal wat U nou vir ons vertel het?”
10Jesus sê toe vir hulle: “As julle mooi na al my verhale luister, sal julle sommer baie oor God leer. Dan sal julle agterkom hoe dinge in sy splinternuwe wêreld werk. Julle sal dinge hoor wat julle nog nie geweet het nie. Maar daardie mense wat nie wil luister na wat Ek oor God se nuwe wêreld vertel nie, sal dit nooit verstaan nie. Vir hulle is my verhale maar net ’n klomp leë stories. Hulle kyk, maar sien nie. En hulle hoor, maar begryp niks nie.”
Wat beteken die verhaal van die saaier?
11“Laat Ek nou eers vir julle verduidelik hoe julle die verhaal van die boer wat gaan saai het, moet verstaan: Die saad ... Dit is die boodskap oor God se nuwe wêreld.
12“Die saad wat op die voetpad geval het ... Wel, dit is die mense wat na die boodskap oor God se nuwe wêreld luister, maar hulle steur hulle nie daaraan nie. Die duiwel sorg dat hulle baie gou vergeet wat hulle gehoor het sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie. Net soos die voëls met die saad gedoen het, kom ‘pik’ die duiwel die goeie saad uit hulle gedagtes uit.
13“Daar het ook saad in die holtes van die groot klippe geval ... Wel, party mense hoor die boodskap van God en is dan baie opgewonde daaroor, maar net vir ’n rukkie. Sodra hulle geloof iets van hulle vra, sodra hulle moet nee sê vir die sonde, is hulle skielik nie meer so opgewonde nie. Dan is hulle sogenaamde nuwe geloof ook daarmee heen.
14“Ander saad het tussen die doringbosse beland ... Dit is daardie mense wat God se woord aanvaar. Maar kort voor lank word die eise van hierdie wêreld vir hulle belangriker as hulle geloof. Bo en behalwe al hulle bekommernisse, kry die alewige gejaag na geld en plesier dan voorkeur in hulle lewens. Dan het hulle later niks meer tyd of krag oor om vir die Here te werk nie. Al hierdie dinge verdring hulle geloof uit hulle lewens uit.
15“En dan die saad wat in die goeie grond geval het ... Dit is daardie mense wat die boodskap van God gehoor het en diep daardeur geraak is. Hulle begin dadelik leef soos God dit wil hê. In alles wat hulle sê of doen, borrel hulle geloof eenvoudig uit. Hulle geloof lewer van dan af heeltyd vrugte op.”
Nog ’n verhaal: dié keer van ’n lig
16Jesus sê toe: “Julle weet tog baie goed dat ’n mens nie ’n lig aanskakel en dit dan met ’n kombers toegooi nie. ’n Mens vat ook nie ’n lamp en gaan steek dit onder jou bed weg nie. Natuurlik nie. Nee, ’n mens sit ’n lamp in die middel van ’n kamer waar dit die beste lig kan gee. Dan kan almal sien wat om hulle aangaan.
17“’n Mens kan niks wegsteek wat jy doen nie. Geen woord of daad is so ’n groot geheim dat God nie daarvan weet nie. Alles sal aan die lig kom. Alles wat mense doen, sal uiteindelik bekend wees.
18“Luister na dit wat julle oor God hoor, en gaan doen dit. Hoe meer julle doen wat God sê, hoe meer sal sy ongelooflike goedheid in julle lewens instroom. Aan die ander kant, as julle nie luister na wat God sê nie, sal julle lewens op die ou end in chaos eindig. Dit help nie julle dink julle saak met God is in orde net omdat julle allerlei godsdienstige dinge doen nie. As julle lewens nie heeltemal verander nie, gaan julle alles verloor wat julle dink julle het.”
Die regte familie van Jesus
19Jesus was nog aan die praat toe sy ma en broers daar aankom. Hulle wou iets vir Hom sê. Maar daar was so baie mense dat hulle nie naby Hom kon kom nie. 20Iemand het hulle herken en gou vir Jesus gaan sê: “U ma en broers is daar buite. Hulle wil graag met U praat.”
21Jesus sê toe: “Weet julle wie regtig my familie is? Almal wat luister na wat Ek oor God se nuwe wêreld sê, en dit gaan doen. Hulle is my ma, my broers, my susters.”
Jesus praat die storm stil
22Op ’n dag het Jesus vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan daar na die oorkant van die See van Galilea toe.” Hulle almal het toe in ’n boot geklim en na die oorkant toe begin vaar. 23Jesus het rustig in die boot gaan lê en aan die slaap geraak. Later het ’n groot storm op die see opgesteek. Die wind het kwaai begin waai en die see het skielik baie onstuimig geword. Kort voor lank het groot golwe oor die boot geslaan sodat dit vol water begin word het. Later het die dissipels gedink die boot gaan sink.
24Toe hulle rondkyk waar Jesus is, kom hulle agter Hy lê nog vas aan die slaap. Baie benoud het hulle Hom wakker geskud: “Here, Here, word wakker! Ons is besig om te vergaan en U lê en slaap! Kom help ons!”
Jesus het opgestaan en vir die wind en die woeste golwe gesê: “Bedaar! Hou op met waai!” Hy het ook vir die water gesê om kalm te word. En toe, skielik, was alles oor. Die wind het bedaar en die see was weer spieëlglad. Alles was doodstil.
25Toe draai Jesus na sy dissipels en vra vir hulle: “Waar is julle geloof heen?” Maar hulle was te bang en te verbaas om enigiets te sê.
Hulle het onderlangs vir mekaar gefluister: “Wat ’n ongelooflike wonderwerk! Wie is Jesus regtig? Hy gee net ’n bevel, dan luister selfs die wind en die water na Hom.”
Die duiwel kom tweede in Gerasa
26Daarna het hulle met die boot in die rigting van die land van die Geraseners, aan die oorkant van Galilea, geseil. 27Daar aangekom, het ’n man sonder ’n draad klere aan vinnig op Jesus afgestap. Hy was al ’n lang tyd in die mag van ’n klomp duiwels; daarom dat hy nie meer klere gedra het nie. Hy het sommer daar buite tussen die grafte gebly. Die duiwels het hierdie arme man omtrent verrinneweer. Baiekeer het hulle hom soos ’n mal mens laat rondhardloop en skree. Ander mense het tevergeefs probeer om hom in toom te hou. Hulle het sy hande met swaar kettings vasgebind en dik boeie om sy voete gesit, maar hy het dit gebreek en dan weggehardloop. Later het hy omtrent heeltyd in die woestyn rondgeswerf.
28-29Toe hierdie man naby Jesus kom, het hy skielik aan die skree gegaan en op die grond neergeval. Hy roep toe kliphard uit: “Vir wat kom U hier na my toe, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek smeek U: moet my asseblief nie seermaak nie.”
30Toe vra Jesus vir die man: “Wat is jou naam?”
“Legio,” het hy geantwoord. (Dit was die naam wat die mense hom gegee het omdat daar so baie duiwels in hom gebly het.)
31Toe begin die duiwels wat binne-in hom was Jesus smeek om hulle nie terug te stuur na die onderwêreld toe nie. 32Hulle vra toe of Hy hulle nie liewer in die groot trop varke wou instuur wat daar naby hulle op die berg gewei het nie. Jesus het ingestem. 33Daar en dan het die duiwels uit die man padgegee en in die varke ingevaar. Toe breek daar chaos los. Die hele trop varke het skielik oor die kant van die berg gestorm en in die see geval. Daar het hulle almal verdrink.
34Die mans wat die varke opgepas het, het hulle morsdood geskrik toe hulle sien wat gebeur. Hulle het dadelik teruggehardloop na hulle dorp toe. So ver as wat hulle gehardloop het, het hulle vir almal langs die pad vertel wat gebeur het. Kort voor lank was almal in rep en roer. 35’n Klomp mense het vinnig na die plek toe gekom waar Jesus die duiwels uit die man verjaag het. Hulle wou sien wat aan die gang was. Toe hulle daar aankom, sien hulle die man wat vol duiwels was aan Jesus se voete sit. Hy het klere aangehad en rustig geluister na wat Jesus sê. Toe het die mense bang geword. 36Terwyl hulle so staan en kyk, het diegene wat gesien het wat gebeur opgewonde vir hulle vertel hoe Jesus die duiwels uit die man verdryf het.
37Die mense van Gerasa het toe vir Jesus gevra om liewer pad te gee. Hulle was baie bang en het nie kans gesien dat nog sulke dinge daar by hulle gebeur nie. Jesus het toe in die boot geklim en teruggegaan na die oorkant toe.
38Net voordat Jesus vertrek het, het die man uit wie Hy die duiwels verdryf het Hom gevra of hy nie by Hom kon bly nie. Jesus het gesê: 39“Gaan terug na jou eie mense toe en vertel hulle watter wonderlike dinge God vir jou gedoen het.” Daarna het die man vir almal in sy dorp gaan vertel watter wonderlike dinge Jesus vir hom gedoen het.
Siekte en die dood buig die knie voor Jesus
40Toe Jesus weer in Galilea aankom, het ’n skare mense Hom ingewag. Hulle was baie bly om Hom te sien. 41’n Man met die naam Jaïrus, een van die hoofde van die sinagoge waar die Jode God aanbid het, het haastig tussen die mense deurgevleg en voor Jesus op die grond kom neerval. 42Hy het Jesus gesmeek om dadelik na sy huis toe te kom omdat sy twaalfjarige dogter op sterwe gelê het. Dit was sy enigste dogter. Jesus het ingestem, maar daar was so baie mense om Hom dat Hy skaars kon beweeg.
43Intussen was daar ook ’n vrou in die skare wat al twaalf jaar lank aan ’n menstruele kwaal gely het. Dit het gemaak dat sy nie kon deelneem aan die normale godsdienstige aktiwiteite nie omdat sy as onrein beskou is. Geen dokter kon die arme vrou gesond kry nie.
44Hierdie vrou het tussen die skare deurgeskuur totdat sy reg agter Jesus was. Toe steek sy haar hand vinnig uit en vat aan die soom van sy klere. Daar en dan was sy gesond.
45Jesus het dit dadelik agtergekom en gevra: “Wie het nou net aan My geraak?” Maar almal het net die kop geskud en gesê: “Nie ek nie.”
Petrus was so ’n bietjie uit die veld geslaan deur Jesus se vraag. “Here, daar is baie mense om U. Hulle almal skuur tog teen U verby en stamp teen U.”
46“Kyk, iemand het met ’n baie spesifieke rede aan My gevat,” het Jesus geantwoord. “Ek kon voel hoe krag uit My vloei.”
47Nou was die vrou in ’n hoek. Sy kon nie langer stilbly nie. Doodbang het sy voor Jesus kom neerval. Daar voor almal vertel sy toe hoekom sy aan Jesus kom raak het. “En,” het sy gesê, “ek was op die plek gesond.”
48Toe sê Jesus vir die vrou: “Jy het gewys hoe groot jou geloof is toe jy aan My kom raak het. Daarom is jy nou gesond. Gaan in vrede.”
49Terwyl Jesus nog besig was om te praat, kom daar iemand van die huis van die hoof van die sinagoge af en sê vir hom: “Ek het baie slegte nuus: jou dogter is nou net dood. Los maar die Leermeester uit. Hy kan nou niks meer vir haar doen nie.”
50Maar Jesus het dit gehoor. Hy sê toe vir die hoof van die sinagoge: “Moenie jou ontstel nie. Hou maar net aan glo. Jou dogter sal regkom.”
51Toe Jesus daar by sy huis aankom, het Hy vir die mense wat saam met Hom gestap het, gesê om buite te wag. Hy het net vir Petrus, Johannes en Jakobus toegelaat om saam met Hom na die dogter toe gaan; ook haar pa en ma.
52Toe Jesus in die huis kom, was almal aan die huil. Hy sê toe vir hulle: “Toemaar, dis nie nodig om te huil nie. Die dogtertjie is glad nie dood nie. Sy slaap maar net.”
53Die mense het Jesus uitgelag: “Jy weet nie waarvan jy praat nie. Ons het met ons eie oë gesien sy is dood.”
54Maar Jesus het hulle geïgnoreer en na die dogtertjie toe gestap. Hy het haar hand gevat en uitgeroep: “Dogtertjie, staan op! Word lewendig!”
55Dadelik het die lewe in haar teruggekom. Sy het opgestaan. Toe sê Jesus vir die omstanders: 56“Gee vir haar iets om te eet.” Haar ouers was stom van verbasing oor wat gebeur het. Maar Jesus wou nie hê dat hulle vir ander mense daarvan moes vertel nie.

2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.

Vind meer uit oorDie Boodskap