Lukas 24:13-31

Lukas 24:13-31 DB

Twee van Jesus se volgelinge het op daardie Sondag besluit om terug te gaan na die dorp waar hulle gebly het. Hulle dorp se naam was Emmaus, so twaalf kilometer buite Jerusalem. Hulle twee was ernstig aan die gesels oor die gebeure van die afgelope naweek. Terwyl hulle met swaar harte geloop en praat het, het Jesus by hulle aangesluit en saam met hulle verder gestap. Maar hulle het Hom nie herken nie. “Wat loop julle so ernstig en praat? En hoekom lyk julle so hartseer?” vra Jesus hulle. Kleopas, een van die twee, sê toe vir Hom: “Wat? Ek kan nie glo jy vra so iets nie. Jy kom dan nou uit Jerusalem uit. Het jy nie gehoor wat die afgelope naweek daar gebeur het nie?” “Wat?” vra Jesus toe. “Wel, Jesus van Nasaret, daardie groot Boodskapper van God, is Vrydag daar doodgemaak. Hy het groot wonderwerke gedoen en met gesag oor God se nuwe wêreld gepraat. Maar toe het die spul godsdienstige leiers van ons volk Hom gevang. Daarna is Hy skuldig bevind en gekruisig. Ons het so gehoop dat Jesus regtig die groot Verlosser van Israel sou wees. Hy het dan vir almal gesê dat Hy ons kom verlos. Maar Hy was verkeerd, want Hy is nou dood en begrawe. Ja, vandag is Hy al drie dae dood. “O ja, ons het ook nog ander nuus gehoor wat ons baie omgekrap het. ’n Klompie vroue wat saam met ons vir Jesus gevolg het, was vanoggend vroeg daar by sy graf. Maar sy liggaam was skoonveld. Hulle kom vertel toe vir ons dat engele daar na hulle toe gekom en vir hulle gesê het Jesus leef weer. ’n Paar ander mense het toe vinnig na die graf toe gegaan en dit leeg gekry. Jesus se liggaam was nie meer daar nie.” Jesus sê toe vir hulle: “Ek kan nie glo julle geloof is so klein nie. Hoekom glo julle nie wat God se boodskappers in die Bybel sê nie? Weet julle nie dat die Messias, God se Gestuurde, eers moes kom ly voordat Hy na sy hemelse woning teruggaan nie?” Toe het Jesus stap vir stap vir hulle verduidelik wat Moses en al die ander profete in die Bybel oor Hom geskryf het. Later het hulle by Emmaus aangekom. Toe Jesus sê dat Hy nog verder moet stap, het die twee dadelik gesê: “Nee, wag! Kom bly asseblief vanaand by ons oor. Dis netnou donker.” Jesus het ingestem en saam met hulle na hulle huis toe geloop. ’n Rukkie later, toe die aandete klaar was, het hulle by die tafel gaan aansit. Jesus vat toe die brood, sê vir God daarvoor dankie en deel dit aan hulle uit. Toe gaan die twee se oë skielik oop. Hulle het Jesus herken. Maar voordat hulle nog iets kon sê, het Hy verdwyn.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 24:13-31

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid