Lukas 23

23
Jesus voor Pilatus en Herodes
1Toe staan al die godsdienstige leiers op en vat Jesus na Pilatus toe. Hy was die Romeinse goewerneur. 2Daar aangekom, het hulle Jesus van ’n kant af beskuldig: “Hierdie man het ons volk op ’n dwaalspoor gebring. Hy is ’n vals boodskapper van God. Boonop stook hy die mense op om nie belasting aan die keiser te betaal nie. Hy vertel links en regs dat hy die Messias is. Hy dink ook hy is die koning, nie die keiser nie.”
3Pilatus vra toe vir Jesus: “Is al hierdie dinge waar? Dink jy regtig jy is die koning van die Jode?”
“U het dit gesê,” het Jesus geantwoord.
4“Ag nee wat, hy is onskuldig. Hy het niks verkeerds gedoen nie,” het Pilatus vir die godsdienstige leiers en die skare gesê wat om hom saamgedrom het.
5Maar die godsdienstige leiers was glad nie daarvoor te vinde nie. “Nee, hierdie man is baie gevaarlik. Hy stook almal op, van Galilea af tot hier in Jerusalem.”
6Toe Pilatus hoor dat hulle van Galilea praat, vra hy dadelik: “Kom hy dan uit Galilea?”
7Toe almal ja sê, het Pilatus besluit om Jesus na Herodes Antipas, die heerser oor Galilea, te stuur, want hy was ook in daardie tyd in Jerusalem.
8Toe Jesus by Herodes aankom, was hy bly. “Aha! Uiteindelik kry ek die man te sien van wie ek so baie gehoor het,” het Herodes gesê. “Nou toe, doen gou vir my die een of ander groot teken.”
9Jesus het egter net daar gestaan sonder om enigiets te sê. Herodes het Hom die een ding na die ander gevra, maar Hy het niks geantwoord nie. 10Die godsdienstige leiers en die kenners van die Skrif wat ook daar was, het hierdie kans benut om Jesus van alles wat sleg is te beskuldig. 11Later was Herodes baie vies dat Jesus hom ignoreer. Hy en sy soldate het Hom sleggesê en rondgestamp. Toe het hulle vir Jesus deftige klere aangetrek. “Jy wil mos so graag ’n koning wees. Gaan wys nou vir Pilatus hoe lyk jy met jou koningsklere,” het Herodes spottend vir Jesus gesê en Hom teruggestuur.
12Terloops, op daardie dag het Pilatus en Herodes die strydbyl begrawe en goeie vriende geword.
Die skare kies teen Jesus
13Kort daarna het Pilatus al die belangrikste godsdienstige leiers van die Jode na hom toe ontbied. Hy sê toe vir hulle: 14“Kyk, julle het vir my kom sê dat hierdie Jesus ’n moeilikheidmaker is wat julle mense opstook. Ek het mooi na al die feite gekyk en agtergekom dat dit nie waar is nie. Hierdie man is onskuldig. 15As julle my nie wil glo nie, gaan vra dan vir Herodes. Hy het ook vir Jesus ondervra. Herodes het my laat weet dat hierdie man niks gedoen het wat die doodstraf verdien nie. 16So, kom ek sê vir julle wat ek gaan doen: ek sal dat die soldate hom ’n ordentlike drag slae gee. Maar daarna laat ek hom los.”
17Pilatus se voorstel het glad nie byval gevind by die skare nie. 18Hulle het hard begin skree: “Weg met daardie man! Laat Barabbas los!” 19Barabbas was in die tronk omdat hy vroeër in Jerusalem aan ’n opstand teen die Romeine deelgeneem het. Boonop was hy ook ’n moordenaar.
20Pilatus wou dit nie doen nie. Daarom het hy weer probeer om die skare te oortuig dat Jesus losgelaat moes word. 21Maar hulle het hom doodgeskree: “Kruis toe met Jesus! Kruis toe met Jesus!”
22Toe maak Pilatus die skare ’n derde keer stil en vra vir hulle: “Sê my, wat het hierdie man gedoen wat so verskriklik is dat julle hom wil dood hê? Ek sal dat my soldate hom ’n goeie drag slae gee. Daarna sal ek hom loslaat.”
23Maar die skare wou nie kopgee nie. Hulle het net al harder geskree dat Jesus gekruisig moes word. 24Uiteindelik het Pilatus ingegee: “Nou goed dan, laat hom maar gekruisig word!”
25Pilatus het toe vir Barabbas losgelaat wat in die tronk was omdat hy ’n terroris en ’n moordenaar was. En vir Jesus het hy in die hande van die soldate en die mense oorgegee. Nou het die bloeddorstige skare eindelik hulle sin gekry.
Op pad na die plek van kruisiging toe
26Daarna het die soldate Jesus weggevat na die plek buitekant die stad waar die mense gewoonlik gekruisig is. Langs die pad sien hulle toe ’n man wat uit die veld nader gestap kom om te kyk wat aan die gang was. Sy naam was Simon. Hy was afkomstig uit Sirene in Afrika. Die soldate tel toe Jesus se kruis op sy rug en sê: “Toe, dra hierdie man se kruis! Stap agter hom aan tot daar waar hy gekruisig moet word.”
27’n Groot skare het ook agter Jesus aangestap. Baie vroue het hardop gehuil. 28Toe draai Jesus om en sê vir hulle: “Moenie oor My huil nie. Huil liewer oor julle stad. Want vir julle en julle kinders gaan dit bitter swaar wees hier. 29Daar sal tye kom dat die mense sal sê: ‘Hoe gelukkig is daardie vroue wat nie kon kinders hê nie.’ 30Hulle sal dan die berge smeek: ‘Steek ons weg! Gee vir ons ’n plek waar ons veilig is teen ons vyande!’ En vir die heuwels: ‘Maak ons toe sodat hulle ons nie kan raaksien nie!’ 31Kyk, as Jerusalem se mense bereid is om My dood te maak, moet hulle niks goeds te wagte wees nie. Jerusalem is soos ’n klomp dooie takke wat op ’n hoop lê. Al wat nog oorbly, is dat hulle aan die brand gesteek moet word.”
Jesus word gekruisig
32Jesus is nie alleen gekruisig nie. 33Twee terroriste is ook saam met Hom daar op Golgota, “die Plek van die Kopbeen”, gekruisig. Hulle kruise is aan weerskante van Syne in die grond ingeplant.
34Daar aan die kruis het Jesus hardop vir God gesê: “My Vader, vergeef hierdie mense. Hulle weet glad nie waarmee hulle nou besig is nie.” Maar die soldate het hulle nie aan Hom gesteur nie. Hulle was te besig om sy klere onder mekaar te verdeel deur lootjies te trek.
35Baie mense het na Golgota gestroom om te sien hoe Jesus gekruisig word. Party van hulle het allerhande lelike dinge vir Hom gesê. Die godsdienstige leiers het ook saam gespot: “Ons het van vroeg tot laat gehoor hoe hy ander mense red. Nou is hy self in die moeilikheid. Laat hy homself dan nou red as hy die Gestuurde van God is! Laat ons sien of God regtig aan sy kant is soos hy sê.”
36Die soldate het lustig aan hierdie spottery deelgeneem deur ’n lap vol asyn in Jesus se mond te druk. 37“Hier hang die koning van die Jode,” het hulle laggend uitgeroep. “Toe, wys ons hoe sterk jy is. Trek al daardie spykers uit jou uit en klim van die kruis af!”
38Bokant Jesus se kop was ’n nota vasgesit: “Hierdie man is die koning van die Jode.”
39Later het een van die terroriste wat saam met Jesus gekruisig is ook met Hom begin spot: “Nou toe, waarvoor wag jy? As jy regtig die Messias is, kry ons hier af!”
40Die man aan die ander kruis het hom egter gou stilgemaak. “Het jy g’n respek vir God nie? Jy staan nou onder sy oordeel! 41Ons twee verdien om hier te hang, want ons is misdadigers. Maar hierdie Man het net mooi niks verkeerds gedoen nie.”
42Toe kyk hierdie man na Jesus toe en sê: “Ag, Here, sal U asseblief aan my dink wanneer U daar in God se woonplek aankom?”
43“Ek het baie goeie nuus vir jou,” het Jesus dadelik geantwoord. “Jy gaan nie meer na die doderyk toe nie. Nee, jy gaan saam met My na die paradys toe. Vandag nog sal jy jou oë daar oopmaak.”
Jesus gaan dood
44Toe, skielik, word alles pikdonker. Van twaalfuur af tot drie-uur daardie 45Vrydagmiddag, toe die son op sy helderste moes skyn, was die hele gebied donker. Boonop het die swaar gordyn wat die allerheiligste deel van die tempel van die ander vertrekke afgeskei het, ook middeldeur geskeur.
46Toe roep Jesus skielik baie hard uit: “My Vader, Ek is besig om te sterf. Ontvang My asseblief daar by U!” Daarna het Hy sy laaste asem uitgeblaas en gesterf.
47Toe die Romeinse offisier wat daar by die kruis aan diens was dit hoor, het hy vir God gesê: “Hierdie man was regtig onskuldig. Hy het die hele tyd net gedoen wat U sê!”
48Die skare daar om die kruis het dadelik hulle koppe laat sak en op hulle bors geslaan as teken van hartseer. 49’n Klompie van Jesus se getroue volgelinge het ook daar eenkant gestaan en alles aanskou. Onder hulle was die groepie vroue wat oral in Galilea agter Jesus aangekom het.
Jesus word begrawe
50Toe Josef van Arimatea sien Jesus is dood, het hy vir Pilatus gaan vra of hy sy liggaam kon neem om begrawe te word. 51-52Josef was ’n lid van die Joodse Raad en ’n goeie en godvresende man. Hy het nie saamgestem met die manier waarop die Joodse Raad Jesus veroordeel en laat doodmaak het nie. Want hy het geglo dat God se nuwe wêreld sou kom soos Jesus gesê het.
53Nadat Josef Jesus se liggaam van die kruis afgehaal het, het hy dit in skoon linnedoeke toegedraai en dit in ’n graf gaan begrawe wat aan hom behoort het. Dit was ’n nuwe graf wat in die rots uitgekap was. 54Hy het gesorg dat Jesus se liggaam begrawe was voordat die sabbatdag aangebreek het.
55Die vroue wat uit Galilea saam met Jesus na Jerusalem toe gekom het, was ook by toe Josef Jesus se liggaam begrawe het. Hulle het alles aanskou. 56Daarna het hulle teruggegaan na die plek waar hulle gebly het. Hulle het gou al hulle kosbare salf en speserye bymekaargesit om Jesus se liggaam te gaan salf wanneer die sabbat verby was.

Tans Gekies:

Lukas 23: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid