Lukas 2

2
Jesus word gebore
1In daardie tyd het Augustus, die Romeinse keiser, ’n bevel uitgereik dat ’n sensus gehou moet word om vas te stel hoeveel mense daar in die Romeinse Ryk bly. 2Hierdie sensus het plaasgevind toe Sirenius die Romeinse goewerneur van Sirië was. 3Almal moes in daardie tyd na hulle geboorteplek toe gaan om hulle daar te laat registreer. 4Daarom het Josef, Maria se verloofde, van Nasaret in Galilea na Betlehem in Judea, die stad van Dawid, gegaan. 5Hy het soontoe gegaan omdat hy uit Dawid se nageslag kom. Maria, wat in daardie stadium al lank swanger was, het saam met hom gegaan.
6Terwyl Josef en Maria daar in Betlehem was, het die tyd aangebreek dat haar Kind gebore moes word. 7Sy het toe ’n Seun in die wêreld gebring. Dit was haar eerste kind. Sy het Hom styf in doeke toegedraai en neergelê in ’n voerbak waaruit die diere hulle kos geëet het. Daar was geen ander plek vir Josef en Maria in Betlehem nie. Al die gastekamers en herberge was vol.
Skaapwagters hoor en sien die goeie nuus
8Daar in die omgewing van Betlehem het ’n klompie skaapwagters gebly. Hulle het in die oop veld geslaap. Snags het hulle hulle skape opgepas. 9Een nag, uit die bloute, het ’n engel van die Here daar by hulle kom staan. Die Here se heerlikheid het alles om hulle helder verlig. Die skaapwagters het hulle doodgeskrik. 10Maar die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie. Ek het baie goeie nuus vir julle; nuus waaroor julle nog baie lank gaan feesvier. Hierdie goeie nuus is ook vir die hele volk bedoel: 11vandag is die Redder in die stad van Dawid gebore; vir almal van julle. Dit is Hy wat julle van julle sondes sal vrymaak. Hy is die Messias en die Here oor almal. 12Gaan kyk! Gaan soek na ’n baba wat styf in doeke toegedraai is en in ’n voerbak lê. Dit is Hy!”
13Skielik het daar ’n groot skare engele uit die hemel by die engel aangesluit. Daar in die oop veld het ’n koor van hemelse stemme God geprys:
14“Eer aan God. Eer aan Hom wat in die hoogste hemel bly. En vrede vir almal hier op die aarde; vrede vir almal oor wie God nou feesvier.”
15Nadat die engele teruggekeer het na die hemel toe, het die skaapwagters opgewonde vir mekaar gesê: “Waarvoor wag ons nog? Kom ons gaan dadelik Betlehem toe. Kom ons gaan soek Hom van wie die Here ons pas vertel het.” 16Hulle het toe haastig soontoe gegaan. Daar het hulle vir Maria en Josef gekry, en die Kindjie wat in die krip lê. Die skaapwagters kon hulle oë nie glo nie. 17Hulle het dadelik vertel wat die engele vir hulle oor die Kindjie gesê het. 18Almal was aangegryp deur die skaapwagters se verhaal. Maria ook. 19Sy het die skaapwagters se woorde diep in haar binneste weggebêre en gereeld daaraan teruggedink.
20Later het die skaapwagters teruggegaan na hulle skape toe. Hulle harte het oorgeloop van dankbaarheid teenoor God. Hulle het sy Naam geloof oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Alles was presies net soos die engel vir hulle gesê het.
Jesus word besny
21Toe die Kindjie agt dae oud was, die dag waarop alle Joodse seuntjies besny is, het Hy sy Naam gekry. Hy is Jesus genoem, soos die engel voor sy geboorte al vir Maria gesê het.
22Toe Maria se reinigingstyd van 40 dae verby was (soos die wet van Moses voorgeskryf het vir vroue wat geboorte gegee het), het sy en Josef vir Jesus Jerusalem toe gevat. Daar het hulle Hom aan God gaan toewy soos die wet dit vereis. 23In die wet van die Here staan daar immers: “Elke seun wat eerste in ’n huisgesin gebore word, moet aan die Here toegewy word. Hy moet eenkant gesit word vir die Here se diens.” Daar by die tempel het hulle ook die voorgeskrewe offer gebring om vroue weer rein te maak nadat hulle geboorte geskenk het. 24Volgens die wet van die Here kon arm mense twee tortelduiwe of twee jong duiwe aan die Here offer. Dit het hulle dan ook gedoen.
Simeon en Anna
25Daar het ’n man in Jerusalem gebly met die naam Simeon. Hy was ’n baie goeie man. Simeon het die wet van Moses streng gehoorsaam. Sy hele lewe lank het hy uitgesien na die koms van die Messias. Die Heilige Gees was by hom. 26Op ’n dag het die Gees ook vir hom gewys dat hy nie sou doodgaan voordat hy die Messias, die Gestuurde van die Here, gesien het nie.
27Op ’n dag het die Gees Simeon gelei om na die tempel toe te gaan. Dit was op presies dieselfde tydstip toe Jesus se ouers Hom in die tempel ingebring het om Hom aan God toe te wy. 28Toe Simeon vir Jesus sien, het hy na Hom toe gestap en Hom dadelik in sy arms opgetel. Hy het God geprys en gesê:
29“Here, U kan my nou maar laat doodgaan, want U het u woord gehou. U dienskneg kan nou in vrede sterf, 30want ek het nou Hom gesien vir wie U gestuur het om die wêreld te red. 31Almal op aarde kan Hom nou ook sien en sy redding beleef, want U het die Verlosser hier onder ons die lewenslig laat sien. 32Hy sal ’n lig wees vir al die volke op die aarde wat in die donker leef. Hy sal ook groot eer aan u volk Israel bring.”
33Jesus se pa en ma was verstom oor wat Simeon gesê het. 34Simeon het hulle geseën en vir Maria gesê: “Kyk, baie mense sal nog oor hierdie Kind struikel en val. Gelukkig sal ander deur Hom die ware lewe ontdek. Maar baie sal nie verstaan wie Hy is nie en lelik van Hom praat. 35Maria, al hierdie dinge wat met die Kind gebeur, sal nog groot hartseer in jou eie lewe bring. Dit sal soos ’n swaard wees waarmee mense jou deurboor.”
36Daar was nog ’n boodskapper van die Here in die tempel. Haar naam was Anna. Sy was ’n dogter van Fanuel, ’n man uit die geslag van Aser. Anna was al baie oud. Vroeër was sy sewe jaar lank getroud. 37Toe haar man dood is, het sy nie weer getrou nie. Anna was nou al 84 jaar oud. Sy het gereeld na die tempel toe gekom. Dag en nag het sy God getrou gedien deur te vas en te bid.
38Terwyl Josef en Maria by Simeon gestaan het, het Anna na hulle toe gestap. Toe sy vir Jesus sien, het sy God dadelik geloof en vir Hom dankie gesê.
Daar in die tempel was ook baie ander mense wat gebid het dat Jerusalem bevry sou word van al sy vyande. Anna het nou goeie nuus vir hulle gehad. Sy het vir hulle vertel wie hierdie Kindjie regtig is.
39Nadat Josef en Maria alles gedoen het wat die wet van die Here van hulle verwag het, het hulle teruggegaan Galilea toe, na hulle tuisdorp, Nasaret. 40Daar het Jesus sy kinderdae deurgebring. Hy het sterk geword na liggaam en na gees. God se goedheid was die hele tyd by Hom.
Jesus in die tempel
41Elke jaar het Jesus se ouers Jerusalem toe gegaan om die paasfees te vier. 42Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle oudergewoonte weer soontoe gegaan. 43Toe die fees verby was, het hulle teruggekeer na Nasaret. Jesus het egter in die tempel agtergebly, maar sy ouers het dit nie agtergekom nie. 44Hulle het gedink dat Hy by ander familielede en vriende was wat ook op pad terug was. Eers nadat hulle ’n dag lank op die pad was, het Jesus se pa en ma na Hom begin soek. 45Maar hulle kon Hom nêrens tussen hulle familie en vriende kry nie. Uiteindelik moes hulle toe terugdraai Jerusalem toe om Hom daar te gaan soek.
46Na ’n lang soektog van drie dae het Josef en Maria vir Jesus in die tempel opgespoor. Hy het daar tussen die skrifkenners gesit. Hy het aandagtig na hulle geluister en allerhande vrae aan hulle gevra. 47Almal van hulle was verstom oor sy groot insig in die Bybel.
48Toe Maria en Josef vir Jesus daar sien, was hulle baie omgekrap. Maria het dadelik vir Hom gesê: “Hoe kon jy so iets aan ons doen? Ons is al dood van bekommernis oor jou. Dae lank soek ons oral na jou!”
49Maar Jesus het geantwoord: “Waarom het u na My gesoek? U weet mos dat Ek in die huis van my Vader moet wees.” 50Josef en Maria het egter nie mooi verstaan wat Jesus vir hulle sê nie.
51Daarna het Jesus saam met sy pa en ma na Nasaret toe teruggegaan. Sy ma het alles wat gebeur het in haar binneste weggebêre en gereeld daaraan teruggedink.
52Jesus het vinnig grootgeword. Almal het gesien dat Hy groot insig in God se Woord het. God was vol vreugde oor Hom. Die mense ook.

Tans Gekies:

Lukas 2: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid