Johannes 5

5
’n Lam man loop weer omdat
Jesus by hom verbygeloop het
1’n Rukkie later is Jesus weer Jerusalem toe vir nog ’n Joodse fees. 2-3Naby die Skaappoort in Jerusalem was daar ’n bad wat in Hebreeus Betesda genoem is. Dit was die bymekaarkomplek vir mense met die een of ander siekte, soos blindes, kreupeles en mense met ander siektes. By die bad was daar pilare met ’n dak op. Die pilare het vyf gange gevorm. Daar het die siekes rondgesit of -gelê.
5Onder hulle was daar ’n man wat al 38 jaar lank siek was. 6Jesus het hom daar sien lê. Hy het geweet dat die man al lank siek was en vra hom toe: “Wil jy graag gesond word?”
7“Meneer,” antwoord die siek man, “ek sou graag wou, maar ek het niemand om my in die bad te sit as die water begin roer nie. Terwyl ek my bes probeer om eerste daar te kom, gaan iemand anders voor my in.”
8“Staan op!” sê Jesus. “Vat jou slaapmat en stap hier weg.”
9Die man het dadelik gesond geword. Hy het sy slaapmat opgetel en weggestap. Dit het op die sabbat gebeur. 10“Dit is die sabbat vandag,” gaan die Jode die man teë. “Jy mag mos nie vandag jou slaapmat dra nie.”
11“Dis nie ek nie! Dis die man wat my gesond gemaak het. Dit is Hy wat vir my gesê het: ‘Tel jou goed op en stap hier weg,’” maak die man verskoning.
12Hulle vra hom toe: “Wie het dit gesê?” 13Die man was nie seker nie, want Jesus was nie meer daar nie. Hy is stilletjies daar weg omdat so baie mense daar saamgedrom het.
14Later loop Jesus die man weer in die tempel raak. “Wel, jy is nou gesond. Bly nou van die sonde af weg sodat iets slegters jou nie dalk tref nie.” 15Die man is toe reguit na die Jode toe om vir hulle te vertel dat dit Jesus was wat hom gesond gemaak het. 16Daarna het die Jode begin kyk of hulle Jesus nie in die moeilikheid kon bring nie, want hulle was baie ontevrede omdat Hy hierdie tipe ding op die sabbat gedoen het.
Wie Jesus as vriend het, het ’n vriend vir altyd
17Jesus het Homself verdedig: “My Vader werk reg deur tot nou toe, sabbat of nie. Net so werk Ek ook.” 18Oor hierdie woorde was die Jode éérs ongelukkig. Veral twee dinge was vir hulle heeltemal te erg en dit was die manier waarop Jesus die sabbat so ongeërg gebreek het en dat Jesus sommer gesê het God is sy Vader. So maak Hy of Hy op gelyke voet met God staan. Daarom het hulle toe besluit om Jesus te probeer doodmaak.
19Jesus kap toe terug: “Julle kan My sowaar maar glo; die Seun kan niks uit sy eie sonder sy Vader doen nie. Soos ’n goeie Seun kyk Hy mooi wat sy Vader doen. Wat Hy sy Vader sien doen, doen Hy presies net so. 20Die Vader het die Seun lief. Daarom hou Hy niks vir Hom geheim nie, maar wys Hom alles wat Hy doen. Julle dink die lam man wat Ek gesond gemaak het, was iets besonders. Julle het eintlik nog niks gesien nie. Die Vader sal die Seun wys hoe om groter dinge as dit te doen. Julle sal julle oë nie kan glo nie. 21Soos die Vader dooie mense weer lewendig maak, so sal die Seun dit ook doen waar en wanneer Hy wil. En dit is nie al nie. 22Die Vader gaan self nie meer die Regter wees wat die oordeel oor mense gaan uitspreek nie. Hy het aan sy Seun die reg gegee om dit te doen. 23Daarom sal mense net soveel eer aan die Seun bewys as aan die Vader. Daar is egter ook ’n ander kant van die saak: wie nie die Seun respekteer nie, respekteer ook nie die Vader nie. Die Vader het immers die Seun gestuur om Hom te kom verteenwoordig.
24“Sowaar, die persoon wat luister na wat Ek sê en daarom glo in Hom wat My gestuur het, het nou reeds die lewe saam met God wat nooit einde sal kry nie. Dié persoon hoef nie bang te wees dat hy met die finale oordeel weer voor die regterstoel van God sal hoef te verskyn nie. Die besluit oor hom is klaar geneem. Hy het mos nou reeds uit die kloue van die geestelike dood oorgegaan in die wonderlike lewe wat God gee. 25Luister nou mooi. Die oomblik waarop almal gewag het, is hier. Geestelik dooie mense sal die boodskap van die Seun van God hoor. Wie na hierdie boodskap luister en dit aanvaar, sal vir altyd saam met God lewe. 26Hierdie lewe is natuurlik die tipe lewe wat die Vader self het. Dit is ook die lewe wat Hy aan sy Seun gegee het. 27Daarmee saam het die Vader ook die Seun gevra om die Regter by die finale oordeel te wees. 28Julle moenie verbaas wees hieroor nie. Daar kom ’n dag wanneer al die mense wat reeds begrawe is, sy stem sal hoor. 29Hulle sal uit die grafte uitkom. Die mense wat voorbeeldig en goed gelewe het, sal opstaan om vir ewig saam met God te leef. Aan die ander kant sal daardie mense wat hulle met verkeerde dinge besig gehou het, opstaan om te hoor dat hulle vir ewig en altyd verdoem is.”
Jesus het baie getuies wat bewys wie Hy regtig is
30“Al hierdie dinge doen Ek egter nie op my eie nie. Ek het mooi geluister na wat die Vader sê. As Ek nou besluite oor mense neem, doen Ek dit soos my Vader dit sou doen. Daarom is Ek ook seker dat my besluite altyd reg en regverdig is. Mense kan nie sê dat dit sommer my eie idees is nie, want Ek wil nie my eie wil op mense afdwing nie. 31Nee, die besluite wat Ek neem, kom van God af; Hy het My gestuur om te kom sê presies wat Hy wil hê.
32“In ’n hof sou mense miskien kon sê dat hulle My nie sal glo as net Ek alleen al hierdie dinge sê nie. Ek is egter nie die enigste getuie in hierdie saak nie. Daar is ook ander en hulle praat die heilige waarheid.
33“Julle onthou mos nog die mense wat julle na Johannes die Doper toe gestuur het? Alles wat hy vir hulle oor My gesê het, is waar. Glo dit maar.
34“Ek het egter nie mense se getuienis nodig nie. Ek hoef Johannes nie eens as getuie te roep nie, want Ek het beter getuies as hy. Ek herinner julle egter net aan wat hy gesê het sodat dit julle kan help op julle pad na redding. 35Johannes kan met ’n lamp vergelyk word. Hy het gebrand en sy lig gegee. ’n Rukkie lank was dit vir julle lekker om in daardie lig te leef.
36“Ek het egter getuies wat baie belangriker is as Johannes. My eerste getuie is die wonderlike dinge wat Ek doen. My Vader het My spesiale dinge gegee om hier op aarde te kom doen. Dit is dus ’n goeie bewys daarvan dat die Vader My gestuur het. 37Die tweede getuie is die Vader. Hy het My gestuur. Julle het Hom nog nooit direk hoor praat nie. Net so min het julle Hom al ooit gesien. 38Julle weet ook nie wat Hy regtig sê nie en glo dit ook nie wanneer julle dit hoor nie. Dit alles sien ’n mens daaraan dat julle nie glo in die Een vir wie die Vader gestuur het nie. 39My derde getuie is die Skrif. Julle is oortuig dat julle in die Skrif die pad na die ewige lewe kan ontdek. Daarom lees en bestudeer julle die Skrif so ywerig. Maar julle kyk een ding mis. Hierdie selfde Skrif praat met oortuiging van My. 40Tog wil julle nie na My toe kom sodat Ek vir julle die ewige lewe kan gee nie. 41Ek gee nie om wat mense van My dink nie. 42Ek ken julle mos! Ek weet dat julle God nie regtig uit die hart uit liefhet nie.
43“Ek het gekom en is hier namens my Vader. Maar julle wil dit nie aanvaar nie. Julle draai julle rug vir My. Julle is egter gou om iemand anders te aanvaar wat geen gesag het nie en sommer op sy eie hier aankom. 44Dit laat my wonder: Hoe gaan julle ooit glo? Julle is heeltemal op die verkeerde pad. Julle wil so graag belangrik wees in mekaar se oë dat julle glad nie omgee wie of wat vir die enigste God belangrik is nie.
45“Julle tyd sal kom. Dan sal julle as beskuldigdes in die groot hofsaal voor God moet staan. Dit gaan nie eens vir My nodig wees om te sê wat julle alles verkeerd gedoen het nie. Moses gaan dit doen; ja, daardie einste Moses op wie julle al julle hoop so vestig. Julle wil My nie glo nie? Wel, Ek het nuus vir julle. 46Baie van die dinge wat Moses geskryf het, het hy oor My geskryf. Daarom, as julle verstaan en aanvaar wat Moses geskryf het, moet julle My ook verstaan en aanvaar. Eintlik is daar nie salf aan julle te smeer nie. 47As julle dan nie eens wil aanvaar wat Moses self geskryf het nie, watter hoop het Ek dat julle gaan luister na wat Ek vir julle te sê het?”

Tans Gekies:

Johannes 5: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid