Johannes 17

17
Jesus bid vir sy kerk
1So het Jesus met sy dissipels gepraat. Daarna het Hy sy oë toegemaak en gebid: “Vader, dis tyd! Laat die wêreld nou sien hoe belangrik u Seun regtig is. Op dié manier sal hulle ook agterkom hoe belangrik U is. 2U het mos vir My volle beheer gegee oor elke mens. Maar U het ook sekere mense spesiaal op my pad gebring. Vir hulle het Ek die lewe gegee wat ewig duur. 3So moet ’n mens hierdie ewige lewe verstaan. Dit behels dat jy ’n lid word van die familie van die enigste ware God. Jesus Christus, vir wie God gestuur het om mens te wees, is ook lid van dié familie. In die familie van God leer ’n mens God en Jesus baie goed ken, met alles wat dit vir jou beteken. 4Mense kan sien hoe groot en belangrik U is, Vader, deur te kyk na wat Ek doen. Ek het alles presies gedoen soos U gevra het. Nou is Ek klaar daarmee. 5Vader, laat My asseblief weer in belangrikheid staan waar Ek hoort, by U. Daardie belangrike plek by U was Myne nog voor die aarde daar was.
6“Ek het vir die mense duidelik kom uitspel wie U is. Ek praat van die mense wat eintlik nog van altyd af u s’n was. U het hulle nou vir My gegee om na te kyk. Hulle is baie ernstig oor wat U vir hulle wil sê. Hulle besef ook baie goed dat U en Ek in ’n span saamwerk en Ek weet wat U alles vir My gegee het. 7Toe Ek met hulle praat, het hulle dadelik geweet dat dit u boodskap is wat hulle hoor. 8Daarom het hulle dit aangegryp. Daar was toe geen twyfel meer by hulle dat Ek van U af kom nie. Hulle weet dat U My na hulle toe gestuur het.”
Jesus vra dat die Vader die kerk sal beskerm
9“Ek bid vir hulle! Ek bid vir elkeen wat U vir My gegee het om na te kyk. Hulle behoort immers aan U. Oor hulle wil Ek nou met U praat en nie oor al die ander mense in die wêreld nie. Ons is mos soos een groot familie. 10Hulle lê My net so na aan die hart as vir U en U gee net soveel om vir hulle as Ek. Hulle sal vir mense vertel hoe belangrik Ek is. 11Ek gaan mos nou nie meer langer fisiek hier op die aarde bly nie. Ek is op pad terug na U toe, maar hulle gaan fisiek hier op die aarde agterbly. Vader, daar is niemand soos U nie. 12Daarom vra Ek U, kyk asseblief na hierdie mense wat Ek tot nou toe versorg het. U het die gesag om hulle te beskerm. Die gevolg sal wees dat hulle soos een man sal saamwerk, net soos U en Ek saamwerk. Toe Ek by hulle was, het Ek mooi gekyk na die mense wat U aan My gegee het om na te kyk. Ek het hulle soos goud opgepas. Nie een van hulle het die spoor byster geraak nie. (Ek praat natuurlik nie van Judas wat hand om die lyf met Satan loop nie. Dat hy sou afdwaal, het die Skrif lankal gesê.) 13Ek is nou op pad terug na U toe. Daarom gesels Ek met my volgelinge oor al hierdie dinge terwyl Ek nog by hulle is. Dan kan hulle saam met My bly wees oor alles wat gebeur. 14Ek het hulle alles vertel wat U wou gehad het hulle moet weet. Die ongelowige mense hou natuurlik niks van hulle nie. Gelowiges is mos nie soos ongelowiges nie. Hulle is anders as die sondige mense van hierdie wêreld, net soos Ek anders is. 15-16Ek vra nie dat U hulle van die sondige mense af weghou nie. Net so min as wat Ek my wil ophou met die dinge van die sondige mense, sal hulle dit wil doen. Hulle is nie soos die sondige mense nie. Wat Ek wel vra, is dat U hulle uit die grypende kloue van die duiwel en al sy boosheid sal hou. 17Laat hulle besef dat hulle spesiaal aan U behoort omdat hulle in niks anders as die waarheid belangstel nie.
“Hulle weet wat die waarheid is, want hulle ken u boodskap. 18Daarom stuur Ek hulle na die sondige mense in die wêreld toe met daardie boodskap.
“Ek stuur hulle met dieselfde doel en opdrag as waarmee U My gestuur het. 19Ek wy My nou geheel en al aan U toe sodat hulle daarby kan baat vind. Hulle sal dan ook geheel en al aan U toegewy wees omdat hulle hulle bes probeer vir wat waar en eg is.”
Jesus bid vir ’n intieme verhouding met die kerk
20“Ek bid nie net vir hierdie volgelinge van My nie. Ek stuur hulle mos om met mense oor My te gaan praat. Van daardie mense sal my volgelinge se boodskap aanvaar en hulle aan my kant kom skaar. 21Vir hulle bid Ek ook! Vader, gee dat hulle in lojaliteit teenoor mekaar soos een man sal saamstaan. Vader, U weet hoe heg en intiem ons verhouding met Mekaar is. Ons belange, denke en dade is totaal een. Gee asseblief dat hulle verhouding onder mekaar en veral met Ons net so heg en intiem sal wees. As die mense in hierdie wêreld sien hoe die gelowiges saamstaan en saamwerk, sal hulle oë daarvoor begin oopgaan dat U My na hulle toe gestuur het. 22Ek sal vir hierdie volgelinge van My dieselfde status gee as wat U vir My gegee het. Dit sal hulle in ’n span saamsnoer net soos Ons in ’n span saamwerk. My verhouding met hulle sal My op ’n baie hegte manier deel maak van die eenheid wat onder hulle bestaan. 23Ek sal so lojaal teenoor hulle wees as wat U teenoor My is. Dit alles beteken dat hulle foutloos, ja, volmaak, in hierdie eenheid saamgesnoer sal wees. Gevolglik sal die mense besef dat U My gestuur het. Hulle sal sien dat U my volgelinge net so liefhet soos U My liefhet.
24“Vader, Ek wil so graag my volgelinge hier by My hê. Hulle moet wees waar Ek is. U het mos gesê dat Ek na hulle moet kyk. Laat hulle tog sien watter wonderlike en belangrike status U My gegee het. U het dit gedoen omdat U My liefgehad het nog voordat die aarde gemaak is. 25Vader, U doen wat reg en regverdig is. Die ongelowige mense weet nie wie U is nie en steur hulle ook nie aan U nie. Dit is so anders as Ek wat U goed ken. My volgelinge weet dat U My na hulle toe gestuur het. 26Ek het hulle mooi vertel wie en hoe U presies is, en Ek is nog nie klaar nie; Ek sal nog verder met hulle daaroor praat. Dan sal hulle iets van u liefde begryp. Hulle sal verstaan hoe lief U My het en wat dit beteken. Dit alles sal deel word van hulle lewe soos Ek deel van hulle lewe is.”

Tans Gekies:

Johannes 17: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid