Prediker 1

1
1Hier volg die woorde van die Prediker, ’n seun van Dawid, die koning van Jerusalem. 2Alles is sinloos, sê die Prediker. Absoluut alles. Die lewe het geen sin nie. Alles loop uit op niks.
3Elke dag werk jy hard, maar wat kry jy van al jou gesukkel? 4Geslagte kom en gaan, maar watter sin het dit? Die lewe gaan maar op sy ou manier voort.
5Elke dag kom die son op. Teen sononder gaan dit moeg onder, maar die volgende oggend staan dit weer op. 6En die wind waai eindeloos heen en weer. Dit waai nou dié kant toe en dan weer daardie kant toe. 7Al die riviere loop see se kant toe, maar die see word nooit vol nie. Die riviere se loop see toe bly altyd dieselfde. Hulle vat altyd dieselfde pad.
8Woorde kan ’n mens moeg maak met ’n moegheid wat niemand kan beskryf nie. Jou oog kyk en kyk sonder om ooit klaar te sien. En jou oor hoor en hoor, maar dit kry nooit klaar gehoor nie. 9Wat reeds gebeur het, sal maar weer gebeur. En wat mense tot nou toe gedoen het, sal hulle maar môre en oormôre weer doen. 10Sal iemand ooit kan sê: “Kyk, dit is nou werklik iets nuuts”? Hoegenaamd nie! Dit het al in die gryse verlede en lank voor ons tyd bestaan. 11Niemand dink meer aan die mense wat lank gelede geleef het nie. Of aan hulle wat nog moet kom nie. Elke geslag dink net aan hulleself. Hulle het die voorgeslag lankal vergeet.
Die verskil tussen wysheid en dwaasheid
12Ek, die Prediker, was koning van Israel, in Jerusalem. 13Ek het besluit om alles wat in hierdie wêreld gebeur, te ondersoek en te probeer verstaan. Ek het uitgevind dat dit ’n moeilike taak is wat God die mens opgelê het om oor sulke dinge na te dink en dit na te vors. 14Ek het alles gesien wat mense op aarde doen. Net mooi alles was sinloos; ’n gejaag agter wind aan. 15Dit is presies soos die spreekwoord sê: “As iets krom is, kan niemand dit reguit maak nie, want niemand kan die wêreld verbeter nie.”
16Ek het by myself gedink dat ek oor die jare sommer baie wysheid en lewenskennis versamel het. Baie meer as enigeen wat voor my in Jerusalem regeer het. Al die kennis en wysheid het deel van my lewe geword. 17Toe het ek besluit om die verskil tussen wysheid en kennis aan die een kant en domheid en dwaasheid aan die ander kant te leer ken. En ek moet erken dat daar eintlik geen verskil is nie. Alles is maar ’n sinlose gejaag na wind. 18Wie insig in die lewe het, het ook baie verdriet. En wie kennis versamel, ervaar ook groot hartseer.

Tans Gekies:

Prediker 1: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid