SAGARÍA 9

9
Oordeel oor verskillende volke.
1 GODSPRAAK. Die woord van die Here teen die land Hadrag, en op Damaskus bly dit rus — want die Here hou die oog op die mense en op al die stamme van Israel.
2En ook teen Hamat wat daaraan grens; teen Tirus saam met Sidon, want hy is baie slim.
3Ja, Tirus het vir hom 'n vesting gebou; ook het hy silwer opgehoop soos stof en goud soos modder van die strate.
4Kyk, die Here sal hom in besit neem en sy skans in die see werp, en hy sal deur vuur verteer word.
5 Áskelon sal dit sien en vrees; ook Gasa, wat sal sidder van angs; ook Ekron, omdat sy toeverlaat teleurgestel het; en uit Gasa verdwyn die koning, en Áskelon bly onbewoond;
6en die baster sal in Asdod woon — so sal Ek dan aan die trotsheid van die Filistyn 'n einde maak —
7en Ek sal die bloed uit sy mond verwyder en sy verfoeisels tussen sy tande uit; so sal hy dan ook vir onse God oorbly en wees soos 'n stamhoof in Juda, en Ekron soos 'n Jebusiet.
8En Ek sal om my huis 'n laer trek teen die leërmag, teen die wat heen en weer trek, sodat geen oorheerser hulle weer sal oorrompel nie; want nou het Ek dit met my eie oë gesien.
Die vrederyk van die Messías.
9 VERHEUG jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en 'n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op 'n esel — op 'n jong esel, die vul van 'n eselin.
10En Ek sal die strydwaens uit Efraim en die perde uit Jerusalem uitroei, en die strydboog sal vernietig word. Dan sal Hy aan die nasies vrede verkondig, en sy heerskappy sal wees van see tot see, en van die Eufraat tot aan die eindes van die aarde.
11Ook sal Ek, wat jou betref, o Sion, kragtens die bloed van jou verbond jou gevangenes loslaat uit die put sonder water.
12Keer terug na die vesting, o hoopvolle gevangenes! Ook kondig Ek vandag aan dat Ek jou dubbel sal vergoed.
13Want Ek span Juda vir My as boog, lê Efraim as pyl daarop; en Ek vuur jou seuns, o Sion, aan teen jou seuns, o Jawan, en Ek maak jou soos die swaard van 'n held.
14Dan sal die Here oor hulle verskyn, en soos weerlig sal sy pyl uitskiet; en die Here Here sal met die basuin blaas en intrek met die storms uit die suide.
15Die Here van die leërskare sal hulle beskut; en hulle sal verslind, ja, slingerstene vertrap; ook sal hulle drink, 'n gedruis maak soos deur wyn en vol wees soos die offerkomme, soos die hoeke van 'n altaar.
16En die Here hulle God sal hulle in dié dag verlos as die kudde wat sy volk is; want hulle is kroongesteentes wat hulle skitterend verhef oor sy land.
17Want hoe groot is hulle voortreflikheid, en hoe groot hulle skoonheid! Die koring laat jongmanne en die mos jongedogters groei.

Tans Gekies:

SAGARÍA 9: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid