PSALMS 42

42
Heimwee na God.
1VIR die musiekleier. 'n Onderwysing van die kinders van Korag.
2Soos 'n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!
3My siel dors na God, na die lewende God; wanneer sal ek ingaan en voor die aangesig van God verskyn?
4 My trane is my spys dag en nag, omdat hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?
5Hieraan wil ek dink en my siel uitstort in my: hoe ek gewoond was om voort te trek met die skare, hulle gelei het na die huis van God, met die stem van jubel en lof — 'n feesvierende menigte!
6 Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof — die verlossing van sy aangesig!
7 o My God, my siel buig hom neer in my; daarom dink ek aan U uit die land van die Jordaan en die Hermons, van die klein gebergte af.
8Die vloed roep na die vloed by die gedruis van u waterstrome; al u bare en u golwe het oor my heengegaan.
9 Maar die Here sal oordag sy goedertierenheid gebied, en in die nag sal sy lied by my wees, 'n gebed tot die God van my lewe.
10Ek wil spreek tot God: My rots, waarom vergeet U my? Waarom gaan ek in die rou deur die vyande se verdrukking?
11Met 'n doodsteek in my gebeente smaad my teëstanders my as hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?
12 Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof — die verlossing van my aangesig en my God!

Tans Gekies:

PSALMS 42: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid