PSALMS 119

119
Heerlikheid van die goddelike Woord.
Alef.
1WELGELUKSALIG is die opregtes van weg, wat in die wet van die Here wandel.
2Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek;
3 ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in sy weë wandel.
4Ú het u bevele gegee om dit trou te onderhou.
5Ag, was my weë maar vas om u insettinge te onderhou!
6Dan sal ek nie beskaamd staan as ek op al u gebooie let nie.
7Ek sal U loof in opregtheid van hart as ek u regverdige verordeninge leer.
8Ek sal u insettinge onderhou; verlaat my nie geheel en al nie.
Bet.
9Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.
10Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie.
11 Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.
12Lofwaardig is U, o Here! Leer my u insettinge!
13Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond.
14Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerhande rykdom.
15Ek wil u bevele oordink en op u paaie let.
16Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie.
Gimel.
17 Doen goed aan u kneg, sodat ek kan lewe; dan wil ek u woord bewaar.
18Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet.
19Ek is 'n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie.
20 My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur.
21U dreig die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal.
22Wentel smaad en veragting van my af, want u getuienisse het ek bewaar.
23Al sit vorste en beraadslaag teen my — u kneg oordink u insettinge.
24Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne.
Dalet.
25 My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord.
26My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge!
27 Laat my die weg van u bevele verstaan, dat ek u wonders kan oordink.
28My siel drup weg van kommer; rig my op na u woord.
29Verwyder van my die weg van leuens, en verleen my genadiglik u wet.
30Ek het die weg van waarheid verkies; u verordeninge het ek voor my gestel.
31Ek kleef u getuienisse aan; o Here, maak my nie beskaamd nie!
32Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart.
He.
33 Here, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar.
34Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte.
35Laat my wandel op die pad van u gebooie, want daarin het ek 'n behae.
36Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie.
37Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie; maak my lewend in u weë.
38 Vervul aan u kneg u belofte wat pas by u vrees.
39Wend my smaadheid af wat ek vrees, want u verordeninge is goed.
40Gewis, ek het 'n begeerte tot u bevele; maak my lewend deur u geregtigheid.
Wau.
41En laat u goedertierenhede oor my kom, o Here, u heil volgens u belofte,
42sodat ek my smader iets kan antwoord, want ek vertrou op u woord.
43En onttrek die woord van waarheid nie geheel en al aan my mond nie, want op u verordeninge wag ek.
44Dan wil ek u wet altyddeur onderhou, vir ewig en altyd,
45en in die ruimte wandel, want ek soek u bevele.
46Ook wil ek voor konings van u getuienisse spreek en my nie skaam nie.
47En ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet,
48en my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink.
Sajin.
49Gedenk die woord aan u kneg, omdat U my laat hoop het.
50Dit is my troos in my ellende, dat u belofte my lewend maak.
51Vermeteles het baie met my gespot; van u wet het ek nie afgewyk nie.
52Ek het gedink, o Here, aan u oordele van ouds, en ek het my getroos.
53 Toorngloed het my aangegryp vanweë die goddelose wat u wet verlaat.
54U insettinge was gesange vir my in die huis van my vreemdelingskap.
55 Here, in die nag het ek gedink aan u Naam, en ek het u wet onderhou.
56Dit het my deel geword, omdat ek u bevele bewaar het.
Get.
57Die Here is my deel; ek het gesê dat ek u woorde sal bewaar.
58Ek het U van ganser harte om genade gesmeek; wees my genadig volgens u belofte.
59 Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u getuienisse.
60Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou.
61Die strikke van die goddelose het my omring; u wet het ek nie vergeet nie.
62 Middernag staan ek op om U te loof vir u regverdige verordeninge.
63Ek is 'n metgesel van almal wat U vrees, en van die wat u bevele onderhou.
64 Here, die aarde is vol van u goedertierenheid; leer my u insettinge.
Tet.
65U het goed gedoen aan u kneg, Here, na u woord.
66Leer my 'n goeie insig en kennis, want ek glo aan u gebooie.
67 Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord.
68 U is goed en doen goed; leer my u insettinge.
69Vermeteles het my leuens toegedig; maar ék bewaar van ganser harte u bevele.
70 Hulle hart is ongevoelig soos vet; maar ék verlustig my in u wet.
71Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer.
72 Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.
Jod.
73 U hande het my gemaak en my toeberei; maak my verstandig, dat ek u gebooie kan leer.
74Die wat U vrees, sien my, en hulle is bly; want op u woord wag ek.
75Ek weet, Here, dat u oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het.
76Laat tog u goedertierenheid wees om my te troos volgens u belofte aan u kneg.
77Laat u barmhartighede oor my kom, dat ek kan lewe; want u wet is my verlustiging.
78Laat die vermeteles beskaamd staan, omdat hulle sonder oorsaak my onregverdig behandel het; maar ék oordink u bevele.
79Laat die wat U vrees, na my terugkeer, en die wat u getuienisse ken.
80Laat my hart opreg wees in u insettinge, sodat ek nie beskaamd hoef te staan nie.
Kaf.
81 My siel smag na u heil; op u woord wag ek.
82 My oë smag na u belofte en sê: Wanneer sal U my vertroos?
83Want ek het geword soos 'n leersak in die rook; u insettinge het ek nie vergeet nie.
84 Hoeveel sal die dae van u kneg wees? Wanneer sal U gerig oefen onder my vervolgers?
85Vermeteles het vir my kuile gegrawe, hulle wat nie lewe na u wet nie.
86Al u gebooie is waarheid; hulle vervolg my sonder oorsaak; help my!
87Hulle het my amper vernietig op die aarde; maar ék het u bevele nie verlaat nie.
88Maak my lewend na u goedertierenheid, dat ek die getuienis van u mond kan onderhou.
Lamed.
89Vir ewig, o Here, staan u woord vas in die hemele.
90U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde bevestig, en dit bly staan.
91Volgens u verordeninge bly hulle vandag nog staan, want alle dinge is u knegte.
92As u wet nie my verlustiging was nie, dan het ek omgekom in my ellende.
93Ek sal u bevele tot in ewigheid nie vergeet nie, want deur hulle het U my lewend gemaak.
94Aan U behoort ek: verlos my, want ek soek u bevele.
95Die goddelose lê en wag op my, om my om te bring; ek gee ag op u getuienisse.
96 Aan alle volmaaktheid het ek 'n einde gesien, maar u gebod is baie wyd.
Mem.
97 Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag.
98U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig.
99Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing.
100Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele.
101Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u woord kan bewaar.
102Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want Ú het my geleer.
103Hoe soet is u beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond.
104Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad.
Noen.
105 U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad.
106Ek het gesweer, en dit gehou, om u regverdige verordeninge te onderhou.
107Ek is baie diep neergedruk; Here, maak my lewend na u woord!
108Laat tog die vrywillige offerandes van my mond U behaag, o Here, en leer my u verordeninge.
109 My lewe is altyddeur in my hand; nogtans vergeet ek u wet nie.
110Die goddelose het vir my 'n vangnet gespan; nogtans het ek van u bevele nie afgedwaal nie.
111Ek het u getuienisse vir ewig as erfdeel ontvang, want hulle is die vreugde van my hart.
112Ek het my hart geneig, om u insettinge te betrag, vir ewig, tot die einde toe.
Samek.
113Twyfelaars haat ek, maar u wet het ek lief.
114U is my skuilplek en my skild; op u woord wag ek.
115 Gaan weg van my, kwaaddoeners, dat ek die gebooie van my God kan bewaar!
116Ondersteun my volgens u belofte, dat ek kan lewe; en maak my nie beskaamd vanweë my hoop nie.
117Steun my, dat ek verlos word; dan sal ek altyddeur op u insettinge let.
118U verag almal wat van u insettinge afdwaal, want hulle bedrieëry is leuens.
119U ruim al die goddelose van die aarde weg soos skuim; daarom het ek u getuienisse lief.
120 My vlees sidder van skrik vir U, en ek vrees vir u oordele.
Ajin.
121Ek het reg en geregtigheid gedoen: gee my nie oor aan my verdrukkers nie.
122 Wees borg vir u kneg ten goede; laat vermeteles my nie verdruk nie.
123 My oë smag na u heil en na die belofte van u geregtigheid.
124Handel met u kneg na u goedertierenheid, en leer my u insettinge.
125 Ek is u kneg; maak my verstandig, dat ek u getuienisse kan ken.
126Dit is tyd vir die Here om te handel: hulle het u wet verbreek.
127Daarom het ek u gebooie lief, meer as goud, ja, as baie fyn goud.
128Daarom hou ek al die bevele aangaande alles vir reg; elke leuenpad haat ek.
Pe.
129U getuienisse is wonderbaar; daarom bewaar my siel hulle.
130Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig.
131Ek maak my mond wyd oop en hyg, want na u gebooie verlang ek.
132Wend U tot my en wees my genadig volgens die reg van die wat u Naam liefhet.
133 Maak my voetstappe vas in u woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie.
134Verlos my van die mens se verdrukking, sodat ek u bevele kan onderhou.
135 Laat u aangesig skyn oor u kneg, en leer my u insettinge.
136 My oë loop af in strome van water, omdat hulle u wet nie onderhou nie.
Sade.
137 Here, U is regverdig, en reg is u verordeninge.
138 In geregtigheid het U u getuienisse beveel en in louter trou.
139 My ywer verteer my, omdat my teëstanders u woorde vergeet het.
140U woord is deur en deur gelouter, en u kneg het dit lief.
141Ek is klein en verag, maar u bevele vergeet ek nie.
142U geregtigheid is geregtigheid tot in ewigheid, en u wet is waarheid.
143Benoudheid en angs het my getref, maar u gebooie is my verlustiging.
144U getuienisse is geregtigheid tot in ewigheid; maak my verstandig, dat ek kan lewe.
Kof.
145Ek het geroep van ganser harte; verhoor my, o Here! Ek wil u insettinge bewaar.
146Ek het U aangeroep; verlos my, dat ek u getuienisse kan onderhou.
147Voor die môreskemering roep ek om hulp; op u woord wag ek.
148My oë is die nagwake voor om u woord te oordink.
149Hoor my stem na u goedertierenheid; o Here, maak my lewend volgens u verordeninge.
150Hulle kom nader wat skandelike dade najaag, hulle wat ver van u wet af is.
151 U, o Here, is naby, en al u gebooie is waarheid.
152Lankal het ek geweet uit u getuienisse dat U hulle vir ewig gegrond het.
Resj.
153 Sien my ellende aan en red my, want u wet vergeet ek nie.
154 Verdedig my regsaak en verlos my; maak my lewend volgens u belofte.
155 Die heil is ver van die goddelose, want hulle soek u insettinge nie.
156 Here, u barmhartighede is menigvuldig; maak my lewend volgens u verordeninge.
157My vervolgers en my teëstanders is talryk; van u getuienisse wyk ek nie af nie.
158Ek het diegene gesien wat troueloos handel, en dit het my gewalg dat hulle u woord nie onderhou nie.
159Aanskou dat ek u bevele liefhet; o Here, maak my lewend na u goedertierenheid.
160Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.
Sin, Sjin.
161 Vorste het my sonder oorsaak vervolg, maar my hart vrees vir u woord.
162Ek is vrolik oor u belofte soos een wat 'n groot buit vind.
163Leuens haat ek en het daar 'n afsku van; u wet het ek lief.
164Ek loof u sewe maal elke dag oor u regverdige verordeninge.
165Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie.
166 o Here, ek hoop op u heil, en ek hou u gebooie.
167My siel onderhou u getuienisse, en ek het hulle baie lief.
168Ek onderhou u bevele en u getuienisse, want al my weë is voor U.
Tau.
169 o Here, laat my smeking nader kom voor u aangesig; maak my verstandig volgens u woord.
170Laat my smeking voor u aangesig kom; red my volgens u belofte.
171My lippe sal lofsange laat uitstroom, want U leer my u insettinge.
172My tong sal u woord besing, want al u gebooie is geregtigheid.
173Laat u hand my tot hulp wees, want ek het u bevele verkies.
174 o Here, ek verlang na u heil, en u wet is my verlustiging.
175Laat my siel lewe, dat dit U kan loof; en laat u gerigte my help.
176Ek het gedwaal soos 'n verlore skaap; soek u kneg, want u gebooie vergeet ek nie.

Tans Gekies:

PSALMS 119: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid