SPREUKE 27

27
1 BEROEM jou nie op die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal bring nie.
2 Laat 'n ander jou prys en nie jou eie mond nie; 'n vreemde, en nie jou eie lippe nie.
3Swaar is 'n klip, en die sand het gewig; maar die ergernis oor 'n sot is swaarder as altwee.
4Woede is wreed, en toorn kook oor; maar wie kan voor jaloersheid standhou?
5 Openlike teregwysing is beter as verborge liefde.
6 Die wonde deur een wat liefhet, is opreg bedoel, maar die soene deur 'n vyand is oorvloedig.
7'n Versadigde siel vertrap die heuningstroop, maar vir 'n hongerige siel is alles wat bitter is, soet.
8Soos 'n voël wat ver van sy nes af rondvlieg, so is 'n man wat ver van sy tuisplek af rondswerwe.
9Olie en reukwerk verbly die hart, net so die aangenaamheid van 'n vriend vanweë welgemeende raad.
10Moenie jou vriend en die vriend van jou vader verlaat nie, en kom nie in die huis van jou broer op die dag van jou teëspoed nie. 'n Buurman wat naby is, is beter as 'n broer wat ver is.
11Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee.
12 As 'n skrandere die onheil sien, verberg hy hom; maar die eenvoudiges gaan verder, word gestraf.
13 Neem sy kleed weg, want hy het vir 'n ander borg gestaan; en neem hom as pand vir 'n onbekende.
14Wie vroeg in die môre sy naaste met 'n harde stem 'n seën toeroep, dit sal hom as 'n vloek aangereken word.
15 'n Aanhoudende gedrup op die dag van 'n stortreën en 'n twisgierige vrou is net eenders.
16Wie haar wil teëhou, hou wind teë, en sy regterhand ontmoet olie.
17Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander.
18 Wie 'n vyeboom oppas, sal sy vrugte eet; en hy wat vir sy heer sorg, sal geëer word.
19Soos in die water aangesig teenoor aangesig is, so is die hart van die mens teenoor die mens.
20Die doderyk en die plek van vertering word nie versadig nie; so word die oë van 'n mens nie versadig nie.
21 Die smeltkroes is vir die silwer en die oond vir die goud, so is 'n man volgens die roem wat hy geniet.
22 Al stamp jy die sot in 'n stampblok tussen graankorrels met 'n stamper, sy sotheid sal nie van hom wyk nie.
23Gee noukeurig ag op die voorkoms van jou skape, rig jou aandag op die troppe vee;
24want 'n skat is nie vir ewig nie — of sal 'n kroon wees van geslag tot geslag?
25 As die gras verdwyn en die jong gras verskyn en die bossies van die berge bymekaargemaak word,
26dan is daar lammers vir jou kleding en bokke as 'n koopprys vir grond,
27en genoeg bokmelk as voeding vir jou huis en as lewensonderhoud vir jou diensmeisies.

Tans Gekies:

SPREUKE 27: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid