SPREUKE 18

18
1HY wat hom afskei, soek sy eie begeerte; hy bestry alles wat waarlik tot voordeel strek.
2Die dwaas het geen behae in verstandigheid nie, maar net daarin dat sy hart openbaar word.
3As die goddelose kom, kom ook veragting; en saam met die skande, versmading.
4Die woorde van 'n man se mond is diep waters, 'n stroom wat bruis, 'n fontein van wysheid.
5Om vir die goddelose partydig te wees, om die regverdige in die gereg weg te stoot, is nie goed nie.
6Die lippe van die dwaas kom met getwis, en sy mond roep na slae.
7 Die mond van die dwaas is sy ondergang en sy lippe 'n strik vir sy lewe.
8Die woorde van die kwaadstoker is soos lekkernye, en dit gly af na die kamers van die binneste.
9Alreeds hy wat hom slap hou in sy werk, hy is 'n broer van 'n verwoester.
10Die Naam van die Here is 'n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.
11 Die goed van die ryke is sy sterk stad en soos 'n steil muur in sy verbeelding.
12 Voor die verbreking is die mens se hart hoogmoedig, maar nederigheid gaan aan die eer vooraf.
13Hy wat antwoord gee voordat hy gehoor het, vir hom sal dit 'n sotheid en 'n skande wees.
14Die gees van 'n man ondersteun hom in sy krankheid; maar 'n verslae gees — wie kan dit opbeur?
15Die hart van die verstandige verwerf kennis, en die oor van wyse soek na kennis.
16 Die geskenk van iemand maak vir hom ruimte en bring hom in die teenwoordigheid van die aansienlikes.
17Hy wat die eerste in sy regsaak is, het reg; maar sy naaste kom en ondersoek hom terdeë.
18Die lot laat die geskille ophou en maak sterkes uitmekaar.
19'n Broer teen wie oortree is, is erger as 'n sterk stad; en geskille is soos die grendel van 'n paleis.
20 Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.
21 Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.
22 Wie 'n vrou gevind het, het iets goeds gevind en 'n welgevalle van die Here verkry.
23Die arme spreek smekinge, maar die ryke antwoord harde dinge.
24'n Man met baie vriende word geruïneer, maar daar is 'n vriend wat sterker aanhang as 'n broer.

Tans Gekies:

SPREUKE 18: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid