NÚMERI 4

4
Die diens van die Leviete.
1EN die Here het met Moses en Aäron gespreek en gesê:
2Neem die volle getal van die seuns van Kehat op, onder die seuns van Levi uit, volgens hulle geslagte, volgens hulle families,
3 van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig is, om werk by die tent van samekoms te verrig.
4Dit sal die dienswerk van die seuns van Kehat by die tent van samekoms wees, naamlik die hoogheilige dinge.
5By die opbreek van die laer moet Aäron en sy seuns kom en die voorhangsel tot bedekking afneem en daarmee die ark van die Getuienis bedek.
6En hulle moet 'n dekkleed van robbevelle daarop sit en 'n doek, heeltemal van pers stof, daar bo-oor uitsprei en sy draaghoute insteek.
7Hulle moet ook oor die toonbroodtafel 'n pers doek uitsprei en daarop neersit die skottels en die rookpanne en die bekers en die drankofferkanne; ook moet die altyd-blywende brood daarop wees.
8Daarna moet hulle 'n skarlaken doek daaroor uitsprei en dit met 'n dekkleed van robbevelle toemaak en sy draaghoute insteek.
9Dan moet hulle 'n pers doek neem en die kandelaar tot verligting bedek, met sy lampe en sy snuiters en sy bakkies en al sy oliekanne waarmee hulle daarby diens doen.
10En hulle moet dit met al sy gereedskap op 'n dekkleed van robbevelle neerlê en dit op die draagbaar sit.
11En oor die goue altaar moet hulle 'n pers doek uitsprei en dit met 'n dekkleed van robbevelle toemaak en sy draaghoute insteek.
12Hulle moet ook al die gereedskap neem waarmee hulle diens in die heiligdom doen, en dit op 'n pers doek neerlê en met 'n dekkleed van robbevelle toemaak en dit op die draagbaar sit.
13En hulle moet die as van die altaar verwyder en daar 'n purper doek oor uitsprei.
14En hulle moet al sy gereedskap daarop neersit waarmee hulle daarby diens doen: die vuurpanne, die vurke en die skoppe en die komme, al die gereedskap van die altaar; en hulle moet daar 'n dekkleed van robbevelle oor uitsprei en sy draaghoute insteek.
15En eers nadat Aäron en sy seuns, by die opbreek van die laer, klaar is met die toemaak van die heiligdom en van al die gereedskap van die heiligdom, moet die seuns van Kehat kom om te dra; maar hulle mag nie aan die heilige dinge raak nie, sodat hulle nie sterwe nie. Hierdie dinge is dit wat die seuns van Kehat moet dra van die tent van samekoms.
16En die toesig van Eleásar, die seun van die priester Aäron, gaan oor die olie vir die kandelaar en die reukwerk van speserye en die voortdurende spysoffer en die salfolie; die toesig oor die hele tabernakel en oor alles wat daarin is: die heiligdom en bybehorende gereedskap.
17En die Here het met Moses en Aäron gespreek en gesê:
18Sorg dat die stam van die geslagte van die Kehatiete nie onder die Leviete uitgeroei word nie.
19Maar doen vir hulle dit, sodat hulle lewe en nie sterwe nie as hulle na die hoogheilige dinge aankom: Aäron en sy seuns moet ingaan en hulle aanstel elkeen oor sy dienswerk en oor wat hy moet dra.
20 Maar hulle moet nie inkom om vir 'n oomblik die heiligdom te sien nie, sodat hulle nie sterwe nie.
21En die Here het met Moses gespreek en gesê:
22Neem die volle getal op ook van die seuns van Gerson volgens hulle families, volgens hulle geslagte.
23Jy moet hulle tel van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat verplig is om diens te doen, om dienswerk te verrig by die tent van samekoms.
24Dit sal die dienswerk van die geslagte van die Gersoniete wees by die diens en by die vervoer:
25hulle moet die tentdoeke van die tabernakel dra, ook die tent van samekoms, sy dekkleed en die dekkleed van robbevelle wat daar bo-oor is, en die bedekking vir die ingang van die tent van samekoms
26en die behangsels van die voorhof en die bedekking vir die ingang van die poort van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar is, en hulle lyne sowel as al die gereedskap wat by die bediening daarvan behoort; en alles wat daarvoor gedoen moet word, moet hulle verrig.
27Die hele dienswerk van die seuns van die Gersoniete — alles wat hulle moet dra en hulle hele diens — moet wees volgens die bevel van Aäron en sy seuns; en julle moet hulle al hulle drawerk aanwys om dit waar te neem.
28Dit is die dienswerk vir die geslagte van die seuns van die Gersoniete by die tent van samekoms; en wat hulle te besorg het, moet plaasvind onder leiding van Ítamar, die seun van die priester Aäron.
29Wat aangaan die seuns van Merári — dié moet jy tel volgens hulle geslagte, volgens hulle families.
30Jy moet hulle tel van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig is, om die dienswerk van die tent van samekoms te verrig.
31 En dit is wat by hulle drawerk besorg moet word, hulle hele dienswerk by die tent van samekoms: die style van die tabernakel met sy dwarshoute en sy pilare en sy voetstukke
32en die pilare van die voorhof rondom met hulle voetstukke en hulle penne en hulle lyne — al die gereedskap sowel as alles wat by die bediening daarvan behoort. En die gereedskap wat by hulle drawerk besorg moet word, moet julle met die naam aanwys.
33Dit is die dienswerk vir die geslagte van die seuns van Merári, hulle hele diens by die tent van samekoms onder leiding van Ítamar, die seun van die priester Aäron.
34En Moses en Aäron en die owerstes van die vergadering het die seuns van die Kehatiete getel volgens hulle geslagte en volgens hulle families;
35van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig was insake die dienswerk by die tent van samekoms.
36En hulle geteldes was volgens hulle geslagte tweeduisend-sewehonderd-en-vyftig.
37 Dit is die geteldes van die geslagte van die Kehatiete, almal wat by die tent van samekoms gedien het, wat Moses en Aäron volgens die bevel van die Here deur die diens van Moses getel het.
38En die geteldes van die seuns van Gerson volgens hulle geslagte en volgens hulle families,
39van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig was insake die dienswerk by die tent van samekoms —
40hulle geteldes was volgens hulle geslagte, volgens hulle families, tweeduisend-seshonderd-en-dertig.
41 Dit is die geteldes van die geslagte van Gerson se seuns, almal wat by die tent van samekoms gedien het, wat Moses en Aäron volgens die bevel van die Here getel het.
42En die geteldes van die geslagte van Merári se seuns volgens hulle geslagte, volgens hulle families,
43van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig was insake die dienswerk by die tent van samekoms —
44hulle geteldes was volgens hulle geslagte drieduisend-tweehonderd.
45 Dit is die geteldes van die geslagte van Merári se seuns wat Moses en Aäron volgens die bevel van die Here deur die diens van Moses getel het.
46Al die getelde Leviete wat Moses en Aäron en die owerstes van Israel getel het, volgens hulle geslagte en volgens hulle families,
47van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig was om dienswerk te verrig en die werk van vervoer by die tent van samekoms —
48hulle geteldes was agtduisend-vyfhonderd-en-tagtig.
49Volgens die bevel van die Here deur tussenkoms van Moses is hulle aangewys elkeen vir sy diens en vir sy drawerk; naamlik die geteldes, soos die Here Moses beveel het.

Tans Gekies:

NÚMERI 4: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid