MATTHÉÜS 17

17
Verheerliking van Jesus op die berg.
(Mk. 9:2-13; Lk. 9:28-36.)
1EN ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes, sy broer, saamgeneem en hulle op 'n hoë berg in die eensaamheid gebring.
2En Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.
3En kyk, daar verskyn aan hulle Moses en Elía in gesprek met Hom.
4Toe begin Petrus vir Jesus te sê: Here, dit is goed dat ons hier is; as U wil, laat ons hier drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en een vir Elía.
5Terwyl hy nog spreek, oordek 'n helderligte wolk hulle meteens en daar sê 'n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. Luister na Hom!
6En toe die dissipels dit hoor, het hulle op hul aangesig geval en was baie bevrees.
7En Jesus het nader gekom en hulle aangeraak en gesê: Staan op en moenie vrees nie.
8Toe slaan hulle hul oë op en sien niemand meer nie, behalwe Jesus alleen.
9 En onderwyl hulle van die berg afklim, het Jesus hulle bevel gegee en gesê: Julle moet vir niemand iets van die gesig sê voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie.
10En sy dissipels vra Hom en sê: Waarom sê die skrifgeleerdes dan dat Elía eers moet kom?
11En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dis waar, Elía kom eers en sal alles herstel;
12maar Ek sê vir julle dat Elía al gekom het, en hulle het hom nie erken nie, maar aan hom alles gedoen wat hulle wou. So sal die Seun van die mens ook deur hulle ly.
13Toe verstaan die dissipels dat Hy met hulle van Johannes die Doper gespreek het.
'n Maansieke kind gesond gemaak.
(Mk. 9:14-32; Lk. 9:37-45.)
14 EN toe hulle by die skare kom, gaan daar 'n man na Hom en val voor Hom op die knieë en sê:
15Here, ontferm U oor my seun, want hy is maansiek en ly swaar; want dikwels val hy in die vuur en dikwels in die water.
16En ek het hom na u dissipels gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie.
17Toe antwoord Jesus en sê: o Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra? Bring hom hier vir My.
18Daarop bestraf Jesus hom; en die duiwel het van hom uitgegaan, en die seun het gesond geword van daardie uur af.
19Toe kom die dissipels na Jesus afsonderlik en sê: Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?
20En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos 'n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.
21Maar hierdie geslag gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie.
22 En terwyl hulle in Galiléa rondgaan, het Jesus vir hulle gesê: Die Seun van die mens sal oorgelewer word in die hande van die mense;
23en hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy opstaan. En hulle het baie bedroef geword.
Jesus betaal die tempelbelasting.
24 EN toe hulle in Kapérnaüm kom, het die wat die tempelbelasting ontvang, na Petrus gegaan en gesê: Betaal julle Meester nie die tempelbelasting nie?
25Hy antwoord: Ja. En toe hy in die huis inkom, was Jesus hom voor en sê: Wat dink jy, Simon? Van wie neem die konings van die aarde tol of belasting — van hulle seuns of van die vreemdelinge?
26Petrus antwoord Hom: Van die vreemdelinge. Jesus sê vir hom: Dan is die seuns vry.
27Maar dat ons hulle geen aanstoot mag gee nie, gaan na die see toe, gooi 'n hoek uit en neem die eerste vis wat opkom; en as jy sy bek oopmaak, sal jy 'n stater kry; neem dit en gee dit aan hulle vir My en vir jou.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid