LUKAS 24

24
Die opstanding.
(Mt. 28:1-16 en ooreenk. pl.)
1EN baie vroeg in die môre, op die eerste dag van die week, het hulle en ander saam met hulle by die graf gekom en die speserye gebring wat deur hulle toeberei was.
2En hulle het die steen van die graf afgerol gevind.
3En toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie.
4En terwyl hulle hieroor in verleentheid was, staan daar twee manne by hulle in blink klere.
5En toe hulle baie bevrees word en met hulle aangesigte na die aarde buig, sê die manne vir hulle: Waarom soek julle die Lewende by die dooies?
6Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan. Onthou hoe Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galiléa was:
7Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense en gekruisig word en op die derde dag opstaan.
8En hulle het sy woorde onthou.
9 Hulle gaan toe terug van die graf en vertel dit alles aan die elf en aan al die ander.
10En dit was Maria Magdaléna en Johanna en Maria, die moeder van Jakobus, en die ander vroue saam met hulle wat dit aan die apostels vertel het.
11En hul woorde het vir hulle na onsinnige praatjies gelyk, en hulle het hul nie geglo nie.
12 Maar Petrus het opgestaan en na die graf gehardloop; en toe hy neerbuk, sien hy die doeke alleen lê. En hy het weggegaan huis toe, vol verwondering oor wat gebeur het.
Die Émmaüsgangers.
13EN twee van hulle was dieselfde dag op pad na 'n dorp wat agt myl van Jerusalem af was, met die naam van Émmaüs.
14En hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat voorgeval het.
15En terwyl hulle praat en mekaar ondervra, kom Jesus self nader en loop met hulle saam.
16Maar hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie.
17En Hy sê vir hulle: Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel, en waarom is julle bedroef?
18En die een wie se naam Kléopas was, antwoord en sê vir Hom: Is U alleen 'n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie?
19En Hy sê vir hulle: Watter dinge? En hulle antwoord Hom: Die dinge aangaande Jesus, die Nasaréner, wat 'n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk;
20en hoe ons owerpriesters en owerstes Hom oorgelewer het tot die doodstraf en Hom gekruisig het.
21En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het.
22Maar sommige vroue uit ons het ons ook ontstel nadat hulle vroeg by die graf was;
23en toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle gekom en gesê dat hulle ook 'n gesig gesien het van engele wat sê dat Hy lewe.
24En sommige van die wat saam met ons was, het na die graf gegaan en dit net so gevind soos die vroue ook gesê het; maar Hom het hulle nie gesien nie.
25En Hy sê vir hulle: o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het!
26 Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie?
27 En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.
28Daarop kom hulle naby die dorp waarheen hulle op reis was, en Hy het gemaak of Hy verder wou gaan;
29maar hulle het by Hom aangedring en gesê: Bly by ons, want dit is amper aand en die dag het gedaal; en Hy het ingegaan om by hulle te bly.
30En toe Hy met hulle aan tafel was, neem Hy die brood en dank; en Hy breek dit en gee dit aan hulle.
31Toe is hulle oë geopen en hulle het Hom herken, en Hy het uit hulle gesig verdwyn.
32En hulle sê vir mekaar: Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?
33Toe staan hulle in dieselfde uur op en gaan na Jerusalem terug en vind die elf en die wat saam met hulle bymekaar was,
34wat sê: Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn.
35Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breking van die brood.
Verskyning van Jesus aan die apostels.
(Joh. 20:19 vv.)
36 EN terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle!
37Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle 'n gees sien.
38En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op?
39Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want 'n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.
40En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete.
41En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet?
42Daarop gee hulle Hom 'n stuk gebraaide vis en 'n stuk heuningkoek.
43En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.
44En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.
45Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.
46En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan,
47en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder.
48En julle is getuies van hierdie dinge.
49En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.
Die hemelvaart.
(Hand. 1:9-11.)
50EN Hy het hulle uitgelei tot by Betánië. En Hy het sy hande opgehef en hulle geseën.
51En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem.
52En hulle het Hom aanbid en na Jerusalem teruggegaan met groot blydskap.
53En hulle was gedurig in die tempel en het God geprys en gedank. Amen.

Tans Gekies:

LUKAS 24: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid