JOSUA 1

1
Josua volg Moses op en beveel die volk om hulle klaar te maak om deur die Jordaan te trek.
1EN ná die dood van Moses, die kneg van die Here, het die Here met Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses, gespreek en gesê:
2 My kneg Moses is dood; maak jou dan nou klaar, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk, na die land wat Ek aan hulle, die kinders van Israel, sal gee.
3 Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het.
4 Van die woestyn en hierdie Líbanon af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier, die hele land van die Hetiete, en tot by die Groot See in die weste sal julle grondgebied wees.
5 Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie.
6 Wees sterk en vol moed; want jy sal hierdie volk die land laat erwe wat Ek hulle vaders met 'n eed beloof het om aan hulle te gee.
7Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links af nie, sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan.
8Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.
9Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die Here jou God is met jou, oral waar jy heengaan.
10Toe het Josua aan die opsigters van die volk bevel gegee en gesê:
11Gaan die laer deur en gee die volk bevel en sê: Maak vir julle padkos klaar; want oor drie dae sal julle deur hierdie Jordaan trek om die land in besit te gaan neem wat die Here julle God aan julle gee, om dit in besit te neem.
12En aan die Rubeniete en Gadiete en die halwe stam van Manasse het Josua dit gesê:
13Dink aan die saak wat Moses, die kneg van die Here, julle beveel het toe hy gesê het: Die Here julle God verskaf 'n rusplek aan julle en sal hierdie land aan julle gee.
14Julle vroue, julle kinders en julle vee kan bly in die land wat Moses julle oos van die Jordaan gegee het; maar julle self, al die dapper helde, moet gewapend voor julle broers deurtrek en hulle help,
15 totdat die Here aan julle broers, soos aan julle, rus gee, en hulle ook die land in besit neem wat die Here julle God aan hulle sal gee; dan kan julle teruggaan na die land van julle besitting wat Moses, die kneg van die Here, julle gegee het oos van die Jordaan, teen sonop, en dit in besit neem.
16Toe het hulle Josua geantwoord en gesê: Alles wat u ons beveel het, sal ons doen, en oral waarheen u ons stuur, sal ons gaan.
17Net soos ons na Moses geluister het, so sal ons na u luister; mag die Here u God net met u wees soos Hy met Moses gewees het.
18Elke man wat teen u bevel wederstrewig is en na u woorde nie luister met betrekking tot alles wat u ons sal beveel nie, moet gedood word; wees net sterk en vol moed.

Tans Gekies:

JOSUA 1: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid