JOËL 2

2
Ernstige oproep tot bekering.
1 BLAAS die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg! Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van die Here kom, want hy is naby —
2 'n dag van duisternis en donkerheid, 'n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom 'n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie.
3Voor hom uit verteer 'n vuur, en agter hom brand 'n vlam; voor hom lyk die land soos die tuin van Eden, en agter hom is dit 'n woeste wildernis; ook kan niks daaraan ontkom nie.
4 Sy voorkoms is soos dié van perde, en net soos ryperde so hardloop hulle.
5Soos die gedruis van waens huppel hulle oor die bergtoppe, soos die geknetter van 'n vuurvlam wat die kaf verteer, soos 'n magtige volk wat vir die geveg opgestel is.
6Vir hom bewe die volke van angs, alle aangesigte verbleek.
7Soos helde hardloop hulle, soos krygsmanne klim hulle op die muur, en elkeen gaan sy eie koers; hulle verander nie van pad nie.
8En die een druk nie die ander nie; elkeen gaan sy eie pad; en tussen wapens deur val hulle; maar hulle bly in gelid.
9Hulle oorval die stad, hulle hardloop op die muur, hulle klim in die huise, hulle dring by die vensters in soos 'n dief.
10 Voor hulle bewe die aarde, sidder die hemel; die son en die maan word swart, en die sterre trek hulle glans in.
11En die Here verhef sy stem voor sy leërmag uit; want geweldig groot is sy leër, ja, magtig die uitvoerder van sy woord. Want die dag van die Here is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?
12Maar selfs nou nog, spreek die Here, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag.
13En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil;
14 wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy 'n seën sal agterlaat — 'n spysoffer en 'n drankoffer aan die Here julle God.
15 Blaas die basuin op Sion, heilig 'n vasdag, roep 'n vergadering saam!
16Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders en die suiglinge! Laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar slaapvertrek.
17Laat die priesters, die dienaars van die Here, tussen die voorportaal en die altaar ween en sê: o Here, spaar u volk, en gee u erfdeel nie oor aan smaadheid, dat die nasies met hulle spot nie; waarom sou hulle onder die volke sê: Waar is hulle God?
Belofte van oorvloed.
18TOE het die Here geywer vir sy land en sy volk verskoon.
19En die Here het geantwoord en aan sy volk gesê: Kyk, Ek stuur vir julle koring en mos en olie, sodat julle daarvan versadig word, en Ek maak julle nie meer tot 'n voorwerp van smaad onder die nasies nie.
20Ja, Ek sal die sprinkaanswerm, uit die noorde afkomstig, van julle af wegjaag en dit wegdrywe na 'n dor en woeste land; sy voorhoede na die Oostelike See en sy agterhoede na die Westelike See toe. En sy stank sal opstyg, en 'n slegte reuk uit hom opgaan; want hy het alte groot dinge gedoen.
21Wees nie bevrees nie, o aarde, juig en wees bly, want die Here doen groot dinge!
22Wees nie bevrees nie, diere van die veld, want die weivelde van die woestyn spruit uit, want die bome dra hulle vrugte, die vyeboom en die wingerdstok lewer hulle drag!
23En julle, kinders van Sion, juig en wees bly in die Here julle God, want Hy gee julle die leraar tot geregtigheid en laat op julle neerdaal die reën, die vroeë reëns en die laat reëns, soos voorheen.
24Dan sal die dorsvloere vol koring wees en die parskuipe van mos en olie oorloop.
25En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het — my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het.
26Dan sal julle oorvloedig eet en versadig wees en die Naam van die Here julle God prys wat wonderbaar met julle gehandel het, en my volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie.
27En julle sal weet dat Ek in die midde van Israel is, en dat Ek die Here julle God is, en niemand anders nie; en my volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie.
28 En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien.
29En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.
30En Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare.
31 Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom.
32En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die Here gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die Here sal roep.

Tans Gekies:

JOËL 2: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid