JOB 16

16
Job verwerp met veragting die troos van sy vriende.
1MAAR Job het geantwoord en gesê:
2 Dergelike dinge het ek al baie gehoor: treurige vertroosters is julle almal.
3Kom daar nou 'n einde aan winderige woorde? Of wat prikkel jou dat jy antwoord?
4Ek sou ook kon spreek soos julle as julle siel in die plek van my siel was; ek sou woorde aanmekaar kon koppel teen julle en my hoof oor julle skud;
5ek sou julle kon versterk met my mónd, en die troos van my lippe sou versagting aanbring!
Hy beskrywe sy verskriklike toestand: God en mens is teen hom.
6AS ek sou spreek, my smart word nie versag nie; en as ek ophou — watter verligting bring dit my?
7Maar nou het Hy my uitgeput; U het my hele huishouding verwoes.
8En U het my gegryp — 'n getuie het dit teen my geword; en my siekte staan teen my op, dit getuig openlik teen my.
9Sy toorn het verskeur en my as vyand behandel; Hy het teen my gekners met sy tande; as my teëstander kyk Hy my met skerp oë aan.
10Hulle het hul mond teen my oopgespalk; smadelik het hulle my op die kakebeen geslaan; soos een man versamel hulle hul teen my.
11God gee my oor aan slegte mense en werp my in die hande van die goddelose.
12Ek het rustig gelewe; toe het Hy my verbrysel en my aan die nek gegryp en my verpletter; en Hy het my vir Hom as teiken opgestel.
13Sy pyle gons om my heen; Hy splits my niere sonder verskoning; Hy werp my gal op die grond uit.
14 Bres op bres breek Hy in my; Hy loop my storm soos 'n held.
15'n Roukleed het ek oor my vel vasgewerk en my horing in die stof gesteek.
16My gesig het rooi geword van geween, en oor my ooglede is daar 'n doodskaduwee;
17alhoewel daar geen gewelddaad in my hande is nie en my gebed rein is.
Tog begin Job te glo dat God uiteindelik aan hom reg sal laat wedervaar. Hy beroep hom óp God téén God.
18 o AARDE, moenie my bloed bedek nie, en laat daar geen rusplek vir my geroep wees nie.
19Selfs nou, kyk, in die hemel is my Getuie; en Hy wat saam met my getuig, is in die hoogtes.
20My vriende spot met my; uit my oog drup trane tot God —
21dat Hy kan pleit vir 'n man by God en as Menseseun vir sy naaste.
22Want maar min jare kom — dan bewandel ek 'n pad waarlangs ek nie terugkeer nie.

Tans Gekies:

JOB 16: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid