RIGTERS 12

12
Die ongegronde verset van die Efraimiete teen Jefta word swaar gestraf.
1EN die manne van Efraim is saamgeroep en het oorgetrek na Safon toe en vir Jefta gesê: Waarom het u deurgetrek om teen die kinders van Ammon te veg en óns nie geroep om saam met u te trek nie? Ons sal u huis bo u met vuur verbrand.
2Maar Jefta sê vir hulle: Ek en my volk het 'n hewige twis met die kinders van Ammon gehad, en ek het julle opgeroep, maar julle het my nie uit hulle hand verlos nie.
3En toe ek sien dat jy nie help nie, het ek my lewe gewaag en deurgetrek na die kinders van Ammon; en die Here het hulle in my hand gegee. Waarom het julle dan vandag teen my opgetrek om teen my oorlog te voer?
4Daarop versamel Jefta al die manne van Gílead om teen Efraim te veg; en die manne van Gílead het Efraim verslaan, omdat hulle gesê het: Julle, Gileadiete, is vlugtelinge van Efraim, in die midde van Efraim en Manasse.
5En Gílead het die Efraimiete van die Jordaan-driwwe afgesny; en as die vlugtelinge van Efraim sê: Ek wil deurgaan — dan vra die manne van Gílead vir hom: Is jy 'n Efraimiet? As hy sê: Nee,
6dan vra hulle hom: Sê bietjie: Sjibbolet! En as hy sê: Sibbolet! en nie ag gee om dit reg uit te spreek nie, dan gryp hulle hom en maak hom by die Jordaan-driwwe dood. So het daar dan in dié tyd van Efraim twee-en-veertigduisend man geval.
7En Jefta het Israel ses jaar lank gerig; en Jefta, die Gileadiet, het gesterwe en is begrawe in een van die stede van Gílead.
Ebsan, Elon en Abdon is rigters.
8EN ná hom het Ebsan, uit Betlehem, Israel gerig.
9En hy het dertig seuns gehad, en dertig dogters het hy uitgehuwelik en van buite af dertig dogters vir sy seuns ingebring; en hy het Israel sewe jaar lank gerig.
10En Ebsan het gesterwe en is begrawe in Betlehem.
11En ná hom het Elon, die Sebuloniet, Israel gerig; en hy het Israel tien jaar lank gerig.
12En Elon, die Sebuloniet, het gesterwe en is begrawe in Ájalon, in die land Sébulon.
13En ná hom het Abdon, die seun van Hillel, die Pireatoniet, Israel gerig.
14En hy het veertig seuns en dertig kleinseuns gehad wat op sewentig jong esels gery het; en hy het Israel agt jaar lank gerig.
15En Abdon, die seun van Hillel, die Pireatoniet, het gesterwe en is begrawe in Píreaton, in die land Efraim, op die gebergte van die Amalekiete.

Tans Gekies:

RIGTERS 12: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid