JAKOBUS 2

2
Aanneming van die persoon word veroordeel.
1MY broeders, laat julle geloof in onse Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, nie wees met aanneming van die persoon nie.
2Want as daar in julle vergadering 'n man inkom met goue ringe aan die vingers, met 'n pragtige kleed aan, en daar kom ook 'n arm man in met vuil klere aan;
3en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit —
4het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie?
5Luister, my geliefde broeders — het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie?
6Maar julle het die arm man oneer aangedoen. Is dit nie juis die rykes wat julle oorweldig en julle voor die regbanke sleep nie?
7Is dit nie hulle wat die edele Naam belaster wat oor julle aangeroep is nie?
8As julle ewenwel die koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself — dan doen julle goed.
9Maar as julle partydig is, doen julle sonde en word deur die wet as oortreders bestraf.
10Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.
11Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy 'n oortreder van die wet geword.
12Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word.
13Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie; en die barmhartigheid roem teen die oordeel.
Nutteloosheid van geloof sonder werke.
14WAT baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?
15As daar nou 'n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het,
16en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie — wat baat dit?
17Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.
18Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.
19 Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.
20Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?
21Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie?
22Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke?
23En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is 'n vriend van God genoem.
24Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?
25En is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy die boodskappers ontvang en met 'n ander pad weggestuur het nie?
26Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.

Tans Gekies:

JAKOBUS 2: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid