JESAJA 34

34
Die Godsgerig oor Edom.
1 KOM nader, o volke, om te hoor; en nasies, luister! Laat die aarde hoor, en die volheid daarvan, die wêreld en alles wat daaruit voortkom.
2Want die toorn van die Here is oor al die nasies, en grimmigheid oor al hulle leërskare; Hy het hulle met die banvloek getref, Hy het hulle oorgegee om geslag te word.
3En hulle gesneuweldes sal weggewerp word, en die stank van hulle lyke gaan op, en die berge smelt van hulle bloed.
4En al die leërskare van die hemel vergaan, en die hemel word inmekaar gerol soos 'n boek en al sy leërskare val af soos 'n blad van die wingerdstok afval en soos vye afval van die vyeboom.
5Want my swaard het dronk geword in die hemel; kyk, dit kom af op Edom en op die volk van my banvloek, om geoordeel te word.
6Die swaard van die Here is vol bloed, dit drup van vet, van die bloed van lammers en bokke, van die niervet van ramme; want die Here het 'n slagoffer in Bosra en 'n groot slagting in die land Edom.
7Dan val die buffels saam met hulle, en die jong stiere saam met die stiere; en hulle land word dronk van bloed, en hulle stof versadig van vet.
8Want die Here hou 'n dag van wraak, 'n jaar van vergelding in die regsaak van Sion.
9En sy strome sal in pik verander word en sy stof in swawel, en sy land sal brandende pik word.
10Dit sal snags of oordag nie uitgeblus word nie; vir ewig gaan sy rook op; van geslag tot geslag lê dit woes, vir altyd en ewig trek niemand daardeur nie.
11Maar die pelikaan en die krimpvarkie neem dit in besit, en die uil en die kraai woon daarin. En Hy sal die riglyn van woestheid daaroor span en die skietlood van vormloosheid.
12Sy edeles — daar sal hulle geen koninkryk meer uitroep nie, en met al sy vorste is dit gedaan.
13En sy paleise word begroei met dorings, brandnekels en distels sal in sy vestings wees. En dit sal 'n lêplek van jakkalse, 'n verblyf vir die volstruise wees.
14En boskatte kom wildehonde teë, en veldduiwels ontmoet mekaar; ook woon die naggees daar in vrede en vind 'n rusplek vir hom.
15Daar maak die pylslang sy nes en lê eiers en broei dit uit en koester haar kleintjies daar in die skaduwee; ook sal die kuikendiewe daar bymekaarkom, die een by die ander.
16Soek in die boek van die Here en lees! Nie een van hierdie wesens ontbreek nie, die een mis die ander nie; want my mond — dié het dit beveel, en sy Gees — dié het hulle bymekaargebring.
17En Hý het vir hulle die lot gewerp, en sy hand het die land aan hulle met die meetsnoer uitgedeel; tot in ewigheid sal hulle dit besit, van geslag tot geslag daarin woon.

Tans Gekies:

JESAJA 34: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid