HEBREËRS 13

13
Verskillende voorskrifte.
1 DIE broederliefde moet bly.
2Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.
3 Dink aan die gevangenes asof julle medegevangenes is, en aan die wat mishandel word, as mense wat self ook 'n liggaam het.
4 Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.
5Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.
6Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my 'n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal 'n mens aan my doen?
7Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.
8Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.
9Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; want dit is goed dat die hart versterk word deur genade, nie deur voedsel nie, waarvan die wat daarin gewandel het, geen voordeel gehad het nie.
10Ons het 'n altaar waarvan die wat die tabernakel bedien, geen reg het om te eet nie;
11want die diere waarvan die bloed vir die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra word — hulle liggame word buitekant die laer verbrand.
12Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely.
13Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra.
14Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige.
15Laat ons dan gedurig deur Hom aan God 'n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.
16 Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het 'n welbehae aan sulke offers.
17 Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.
18 Bid vir ons, want ons is oortuig dat ons 'n goeie gewete het, omdat ons in alles goed wil wandel.
19Des te meer vermaan ek julle om dit te doen, sodat ek gouer aan julle teruggegee kan word.
Heilwense en groete.
20MAG die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het,
21 julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! Amen.
22En ek vermaan julle, broeders, verdra die woord van vermaning, want ek het ook maar kort aan julle geskrywe.
23Julle moet weet dat die broeder Timótheüs vrygelaat is, saam met wie ek julle sal sien as hy spoedig kom.
24Groet al julle voorgangers en al die heiliges. Die wat van Italië is, groet julle.
25Die genade sy met julle almal! Amen.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid